Grand Slams 2009

Die Grand Slams is soos gewoonlik oor die langnaweek van 9 Augustus en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Ek het vir twee weke lank die weervoorspelling deeglik dopgehou, want ek was bekommerd dit gaan baie koud wees. Volgens die weervoorspelling sou dit nogal warm wees met baie min wind. Ons was baie verras toe ons Saterdagoggend opdaag en dit was ‘n heerlike warm dag. Die weervoorspelling was reg en ek kon dit amper nie glo nie, want die week voor die regatta was dit serker een van die koudste weke nog hierdie jaar gewees. Hulle was ook reg met die windvoorspelling – amper geen wind nie.

Peter, Kevin en ek besig om die boot reg te kry

Peter, Kevin en ek besig om die boot reg te kry

John kon ongelukkig nie hierdie jaar saam met ons seil nie en ek het vir Peter Richardson gevra om deel te wees van die span. Peter het baie lanklaas saam geseil en dit was weer lekker om hom aanboord te hê. Peter het ook intusse baie kennis en ervaring opgetel by van die ander bote waarmee hy geseil het en het baie van die kennis aan ons oorgedra. Kevin en Lisa het was soos gewoonlik die res van die bemanning. Nadat ons Saterdagoggend die boot in die water gekry het en al die administratiewe take voltooi het, het ons dadelik die seile gespan en begin seil. Ons moes so ‘n bietjie oefen voordat die regatta begin aangesien ons posisies moes verander omdat John nie daar was nie. Ons kon nie veel oefen nie, want daar was nie wind nie.

Lisa wag vir die wind

Lisa wag vir die wind

Eers drie uur Saterdagmiddag het die wind begin waai en kon ons die eerste resies seil. Die resies was gekenmerk vir al die stampe en stote van bote by die wegspring. Ons het darem in niemand in geseil nie en niemand in ons in nie, maar omdat ons die warboel by die wegspring moes vermy, het ons amper laaste oor die wegspringstreep geseil. Die beste wat ons kon doen in hierdie ligte wind was ‘n sewende plek. Na die resies het ons nog ‘n ruk gewag en toe is die resies uitgestel tot die volgende dag.
Windloos

Windstil

Ons was betyds vir die rugby – Springbokke teen Australië – en het die wedstryd by die Brentwood lodge gekyk. Ons het na die Springbokke se oorwinnng lekker gekuier en gebraai. Ons het eintlik so lekker gekuier dat ons vergeet het van die braaivleis en moes weer ry om kole te gaan koop sodat ons die vleis kon gaar maak. Sondagoggend moes ons agtuur op die water wees en almal het gesukkel om uit die bed te kom. Peter was soos gewoonlik laat en ons moes nog twee ure lank vir hom wag. Gelukkig was daar nog geen wind nie en ons het nie ‘n resies gemis nie.

Wag vir die wind

Ek wag vir die wind

‘n Briesie het later in die dag opgesteek en ons het weer ‘n resies kon seil. Die keer het ons redelik goed begin. Die wind het toe met 180 grade gedraai en ons was ongelukkig op die verkeerde plek en eindig toe heel laaste. So vieruur die middag het daar weer ‘n resies begin en hierdie keer was ons tweede in ons klas na die onderste merk. Halfpad deur die resies het die wind heeltemal gaan lê en die resies is gekanselleer. Dit was die einde van die dag en ons is terug. Ek was eitlik baie bly gewees, want ek was baie moeg en wou sommer reguit bed toe gaan. Ons het eers by die Vlieëndepiering gaan eet en toe reguit bed toe.

Kevin wag vir die wind

Kevin wag vir die wind

Maandag oggend was almal betyds vir die dag se resies, behalwe die wind. So elfuur het dit gelyk of die wind gaan opsteek en die eerste resies is aangekondig. Hierdie keer het ons weer ‘n baie goeie wegspring gehad en ons was die eerste boot van die hele vloot by die onderste merk. Weer het die wind net skielik gaan lê en die resies is gekanselleer. Dit was toe ook die einde van die dag se seil en vir die eerste keer vandat ek seil was ‘n belangrikke regatta soos die Grand Slams gekanselleer.

Heel voor en toe word die resies gekanselleer

Heel voor en toe word die resies gekanselleer

Ons almal het darem baie geleer en almal het dit baie geniet en sien uit na die volgende groot regatta wat in September gaan wees. Ek hoop net daar is wind.

Wegbreek na Mosselbaai

Ons kom so pas terug van ‘n lekker week lange breek in Mosselbaai. Ons het weer by Ettie-hulle gaan kuier. Dit was so lekker om vir ‘n hele week lank nie aan die werk te dink nie en boonop nog lekker met die familie te kuier. Ek en Ester het Saterdag oggend vroeg lekker op die lughawe gaan ontbyt eet voordat ons George toe gevlieg het. Dit was ‘n bibberende 2 grade Celsius in Johannesburg gewees en ons kon nie wag om van die koue te ontsnap nie. Alhoewel dit nog altyd koud in Mosselbaai was as ons daar gaan kuier het, was ons seker dit sou warmer wees as Johannesburg.

Mosselbaai

Mosselbaai

Ek het hierdie jaar al baie gevlieg, maar ek het nog nie een keer in so ‘n helder dag gevlieg nie. Vandat ons opgestyg het kon ek allerhande interessante en bekende landmerke sien. Ek kon sien hoe Sasol 2 en 3 se rook Centurion besoedel. Ek het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die hele Vaaldam gehad, ek het sneeu op die Drakensberge gesien, ek kon selfs die Sentinel duidelik vanuit die vliegtuig uitmaak, ek het Clarens gesien en al die berge naby aan George was vol sneeu. Net voordat ons geland het, het die vliegtuig ‘n draai gemaak oor Heroldsbaai en van daar af kon ek elke liewe dorpie sien tot in Mosselbaai.

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Donavan, Duncan en Malcolm het ons by die lughawe kom haal. Ons het toe die res van Saterdag lekker gekuier en lekker in Ettie-hulle se nuwe braaiplek gebraai. Vandat ons in Mosselbaai aangekom het was die vars reuk van die see baie opvallend – ek mis dit baie en ek moet tog eendag by die see kom bly.

Naby aan die walvis

Naby aan die walvis

Sondag het die manne (Donavan, Malcolm en ek) op die bood gaan ry. Ons het al langs die kus af gevaar oppad Heroldsbaai toe. Ons het soos laas keer weer baie walvisse gesien en op een stadium was ons minder as 50 meter vanaf drie walvisse af gewees – moet dit asseblief nie vir die regering noem nie – en een van die walvisse het toe tot reg onder die bood in geswem. Dit was sekerlik die naaste wat ek nog ooit aan ‘n walvis gekom het. Dit was ook baie interesant om Heroldsbaai van die “ander” kant af te sien. Ons het terug gedraai Mosselbaai se kant toe en toe weer stadig al langs die kus af gevaar.

Heroldsbaai van die ander kant af

Heroldsbaai van die ander kant af

Die res van die week het basies uit kuier, slaap en eet bestaan en nog bietjie kuier. Ons is ‘n paar keer George toe om inkopies te doen. Ek het Donavan gehelp om sy rekenaar en netwerk op te gradeer – Donavan, ek hoop as jy hierdie lees doen jy dit vanuit jou sitkamer! Ons het paar keer by Pinacle Point gaan eet.

Ontbyt by Pinnacle Point

Ontbyt by Pinnacle Point

Ons het een middag almal saam op Glentana se strand gaan stap. Ons doelwit was om die wrak daar te gaan kyk, maar ons het sover gekom soos die eerste paar rotse en toe maar omgedraai. Dit was nietemin baie lekker gewees veral vir die kinders. Self Euen het ‘n hele end op sy eie gestap.

Ettie-hulle by die mode parade

Ettie-hulle by die modeparade

Vrydagaand het ons ‘n skoolfunksie in Hartenbos gaan bywoon. Dit was ‘n modeparade en Duncan en Malcolm het die catwalk aangevat. Ettie het ook deelgeneem. Saterdag – ons laaste dag – het ons maar gaan rondry en Saterdagaand het ek die lekkerste vis geëet in ‘n baie lang tyd. Donavan het ‘n vis (ons weet nou nog nie watse soort dit was nie) op die vuur gegooi. Sondagoggend het ons heerlike vakansie se tyd uitgeloop en ons is terug koue Johannesburg toe.

Ontmoet Karla

Ek kan nie glo hoe gou die tyd verby gaan nie. Op die 17de Maart het ons uitgevind dat ons uiteindelik gaan ouers word. Met elke skandering het ons kleinding verander van ‘n kolletjie na ‘n baba. Op die 9de Junie het ons uitgevind dit is ‘n dogtertjie, Karla.

Ek het Karla vir die eerste keer voel beweeg op die 3de Julie, nou voel ek haar baie, partymaal is sy baie besig en ander kere is dit net so ‘n sweempie van beweging. Ek is heeltyd bewus van die groeiende klein mensie.

Vandag was ons 20 weke besoek by die dokter en alles lyk goed, sy groei mooi en weeg al 450g. (amper ‘n blokkie margarien). Ons is baie opgewonde en dit is nog net 20 weke (dalk minder) voordat ons, ons klein Karla kan vashou, liefde kan gee en leer ken.

Klik hier vir karla se eerste Video –  Karla se video.

Krieket op die Wanderers

Ons het Saterdag lekker gaan krieket kyk. Suid-Afrika het teen Australië in ‘n toets wedstryd gespeel. Alhoewel Saterdag uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt nie die beste dag van die toets was nie, was dit nie te min baie lekker om deel te wees van ‘n volgepakte Wanderers stadion.

Suid-Afrika besig om te kolf

Suid-Afrika besig om te kolf

Kinga het kaartjies by haar werk gekry en sy en Johan het vir my en Ester genooi om saam te gaan. Ons het in Kinga se werk se losie gesit. Ons was die hele dag nie meer as ses mense in die losie nie, dus was daar genoeg plek om te sit, baie om te eet en baie om te drink.

Johan besig met sy selfoon

Johan besig met sy selfoon

Die wedstryd het Donderdag begin en Australie het eerste gekolf en ‘n totaal van 466 lopies aangeteken. Suid-Afrika het Vrydag en Saterdag probeer om in te haal, maar is al reeds Saterdag almal uit vir net 220 lopies. Die hoogtepunt van die krieket was verseker to AB de Villiers sy honderdtal geslaan het. Al 20 000 mense op Wanders het vir 5 minute lank gejuig. AB het amper die helfte van Suid-Afrika se 220 lopies aangeteken. Australie het weer kom kolf en die spel het 4 uur opgehou, omdat dit skielik begin donker raak het en toe begin reën het.

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middag ete

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middagete

Suid-Afrika het toe Sondag en die Maandag nadat ons daar was redelik begin inhaal, maar kon nie genoeg regkry nie en op die einde het Australië die toets gewen.

Perfekte wind

Ek het baie lanklaas so lekker geseil soos gister. Die wind was perfek, dit was nie te warn nie en ons het die heeldag sonder enige probleme op en af geseil. Ons het amper 40km ver geseil en as dit van ons afgehang het sou ons nou nog geseil het. Ons het uiteindelik nou ‘n volledige bemanning en al drie van ons geniet die seil ewe veel. Seil is ‘n span sport en dit is baie belangrik om as ‘n span saam te oefen. Elke beweging wat ‘n bemanninglid maak het ‘n invloed op die ander twee. Saam het ons drie maar min seilervaring en ons het nog ‘n hele paar oefensessies nodig voordat ons weer in die groot regattas kan kompeteer.

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Gisteroggend voordat ons op die water kon gaan, moes ons eers herstelwerk aan die ou sleepwa doen. Die ou geroeste sleepwa gee nog altyd moeilikheid en laas keer toe ons die boot uit die water sleep het daar ‘n stuk yster van die sleepwa af gebreek. Kevin – ons nuutste bemanningslid – is gelukkig heel vaardig agter ‘n swysmasjien en het syne saam gebring dam toe. Hy het sommer gou-gou die sleepwa weer kon herstel.

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Ons gaan ongelukkig nou eers ‘n breek vat. John gaan Kaapstad toe vir sy kersvakansie en ek en Ester gaan ook ‘n ruk lank weg. So, ons volgende regatta sal die Om die Eiland wedvaart wees eers aan die einde van Januarie volgende jaar. Net so terloops, die Om die Eiland wedvaart is die grootste binnelandse regatta in die wêreld en in 2007 het daar 387 bote oor die eindstreep gevaar en ‘n nuwe wêreldrekord opgestel. Ek is bly om te kan sê ek was deel van hierdie wêreldrekord.

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Ek kan nie wag om weer te gaan seil nie!