Karla is ‘n maand oud

Dit is net ongelooflik hoe vinnig ‘n maand kan verbyvlieg. Karla is vandag – 16 Desember – 1 maand oud. Ek het nie gedink ‘n klein babatjie kan mens so besig hou nie, maar glo my die dae is vir my baie kort.

Karla kuier met ons in die bed

Karla kuier met ons in die bed

As ek terug dink aan haar geboortedag. Dit het so onwerklik gevoel toe ons die 16de November daar in teater wag. Dit was die beste ervaring in ‘n teater wat ek nog ooit beleef het. Hannes het so oulik gelyk in sy teaterpakkie. Die atmosfeer in die teater was so kalm – almal het lekker gesels. Die mooiste geluid is toe dr Baker vir Karla uithaal en sy begin skree. Nie huil nie – skree. Toe vir ‘n oomblik met haar blou lyf op my bors lê was sy alreeds vir my die mooiste dogtertjie in die hele wêreld. Die hele keisersnit ervaring was spesiaal en ek het nogal gou gesond geword.

Karla se Kuiertjie

Karla se Kuiertjie

Sy het al so gegroei. Van die ou pap babatjie wat nie kan fokus nie tot ‘n karnallie wat nie sommer meer heeldag wil slaap nie. Sy kan nou al haar koppie vir ‘n paar oomblikke regop hou en sy kyk al heerlik rond. By ‘n gebrek aan woorde en geluide, doen haar ogies maar die gesels werk.

Hoor julle wat ek sê?

Hoor julle wat ek sê?

Karla het sowaar ons lewens verander en ons slaap vir altyd versteur, maar ek sal dit nooit anders wil hê nie. As ek moeg is en die nare hormoonmonster loer oor my skouer, kyk ek net na daar die twee babagrys ogies en dan is alles weer reg!

Onthou julle kan meer fotos van Karla sien in “Ons foto albums” of klik hier .

Ontmoet Karla

Ek kan nie glo hoe gou die tyd verby gaan nie. Op die 17de Maart het ons uitgevind dat ons uiteindelik gaan ouers word. Met elke skandering het ons kleinding verander van ‘n kolletjie na ‘n baba. Op die 9de Junie het ons uitgevind dit is ‘n dogtertjie, Karla.

Ek het Karla vir die eerste keer voel beweeg op die 3de Julie, nou voel ek haar baie, partymaal is sy baie besig en ander kere is dit net so ‘n sweempie van beweging. Ek is heeltyd bewus van die groeiende klein mensie.

Vandag was ons 20 weke besoek by die dokter en alles lyk goed, sy groei mooi en weeg al 450g. (amper ‘n blokkie margarien). Ons is baie opgewonde en dit is nog net 20 weke (dalk minder) voordat ons, ons klein Karla kan vashou, liefde kan gee en leer ken.

Klik hier vir karla se eerste Video –  Karla se video.