Die somer het uiteindelik in die Kaap aangebreek en so af en toe kry ons ‘n windlose dag – perfekte weer om in die berge te gaan stap. Ek kon Vrydagaand vir Karla oorreed om saam te stap tot bo-op Constantiaberg en ons twee stop vroeg Saterdagoggend by die Silwermyn.
Constantiaberg, met sy kenmerkende radiomas op die piek, is een van daardie prominente pieke wat van byna enige plek op die skiereiland herken kan word. Die piek staan 927 meter hoog, en die totale klim was ongeveer 500 meter van waar ons by Silwermyn se dam parkeer het.
Op ons pad boontoe het ons by die Olifantsoog verbygestap. Dit is ‘n indrukwekkende grotopening in die berg, wat, met ‘n tikkie verbeelding, soos ‘n olifant se oog lyk wat teen die kop pryk. Dit bied ‘n ideale plek om aan padkos te smul en asem te skep terwyl ‘n mens die panoramiese uitsig oor die lang strand van Muizenberg, wat tot in Gordonsbaai strek, te bewonder.
Die hardewerk om die piek te bereik het nou eers regtig begin. Karla moes gereeld vir haar pa wag. Gelukkig was ons nie haastig nie en het baie tyd gehad om af en toe ‘n blaaskans te neem en die uitsig in te neem. Hoe hoër ons geklim het, hoe meer het die uitsig ons betower. Met die steilste deel van die klim agter ons, kon ons uieindelik die piek in die verte sien. By die piek moes ons oor ‘n paar rotse klouter om die Constantiaberg se driehoeksbaken te beriek.
Nadat ons die uitsig ingeneem het en weer asem geskep het en al ons water opgedrink het, is ons weer af. Ons het aan die suide kant afgeklim in die rigting van Chapmanspiek. Alhoewel die steil afdraende aan my bene gevat het, was dit steeds makliker as die opklim.
Teen die tyd dat ons weer onder was, het die temperatuur aansienlik gestyg, en ons het die laaste twee kilometer sonder enige water en sondbrandroom aangedurf. Dit was alles vanaf een van die mooiste uitkykpunte in die Kaap – natuurlik die uitkykpunt oor Houtbaai.
Na sowat 7 en ‘n half kilometers en amper 4 ure is ons terug by die kar. Dors en deur die son gebrand. Ons het dit egter baie geniet.
Die Otter-staproete is ongetwyfeld die bekendste staproete in die land. Dit is op enige stapper se lepellys en omdat dit beperk word tot twaalf stappers per dag, maak dit die staproete baie gesog en is plek ‘n jaar vooruit al vol bespreek. Om plek te kry is die moeilikste deel van die Otter, die res is maklik.
Ek het maande lank die Sanparke-webwerf besoek en ek kon later met slegs ‘n paar muisklikke in ‘n oogopslag die beskibaarhied sien. Dit was min moeite en het later amper soos ‘n gewoonte geraak. Soms is daar een of twee kansallasies oor so twee weke van wanneer ek kyk, ander dae is daar net mooi niks beskikbaar nie. Natuurlik is jou beste kans aan die begin van ‘n maand wanneer die volgende maand (11 maande vooruit) se besprekings oop maak, maar daar is altyd ook ‘n kans vir ‘n groeps kansallasie. Een Saterdag oggend het my geluk gedraai en daar was beskibaarhied, sommer baier! Ek het met Kelly bevestig en ek het onmiddelik ses plekke bespreek en betaal.
Jou eerste amptelike tree op die Otter is in die betowerende Tsitsikammawoud in. Jy wandel deur ‘n tonnel van inheemse bosse en bome. Daar is helder oranje swamme op dooie stompe. Bo jou hoor jy ‘n geskarrel in die blare en sien die helder rooi van ‘n Knysna Loerie se vlerk se onderkant.’n Ent verder begin jy die geraas van die branders hoor. Jy word dan begroet deur die see met ‘n honderd skakerings van blou.Op hierdie oomblik besef jy dat jy vir die volgende vyf dae vol verwondering gaan staan. Dit is droommooi. Om hierdie belewenis in woorde vas te vang is onmoontlik vir my.
‘n Paar feite
Ons het die otter van die Otter-staproete gesien. Die Groototter kom hier voor.
Otter-staproete begin naby die Stormsriviermond en vyf dae lank stap jy tot by Nature’s Valley.
Daar is verskeie rotspoele op die roete. Moenie die kans laat verbygaan om ten minste in een te swem nie.
Behalwe vir otters het ons ook miskleljaatkatte, interesante seelewe, verskeie voëls soos die Knysna loerie, ‘n skerpioen en nog allerhande insekte gesien.
Daar is ‘n groot verskeindenheid plantegrooi – jip,jy stap meeste van die tyd deur ‘n woud. Plantegroei bestaan uit hoofsaaklik fynbos en struikbos en woude.
‘n Koppie tee langs die see op ‘n rivierbedding is lekkerder as tee by die kantoor.
Etes en ons dag 4 aflewering
Dit is baie belangrik om op ‘n multidag-staproete die regte kos in te pak en in die regte kwantiteit. Dit moet ook nie te veel wees nie. My beplanning het goed uitgewerk. Ontbyt het bestaan uit ‘n lekker koppie filterkoffie en beskuit. Dit was genoeg vir ontbyt en ek het nooit eers my daaglikse pakkie Oats-so-easy oopgemaak nie. Gedurende die dag het ek ‘n paar vinnige happies langs die pad geniet – my springbok biltong was ‘n absolute wenner en was voor die vier killometer merk al op. Vir aandete het ons die eerste twee aande heerlike braaivleis met Smash geniet. Die derde aand het ons stapkos geëet – gedehidreerde maaltye wat ons by Outdoorwarehouse gekoop het.
Daar is ‘n groot debat op die interwebs oor die aflewering van kos op die Otter. Baie mense sê aflewering verander die Otter in ‘n slack-pack roete in en verloor dus status as ‘n egte multidag-staproete, ander reken dat dit stappers van alle vlakke die geleentheid gun om die Otter te ervaar. Wat ook al reg is, André-hut (dag 4) is baie ver om ‘n bottel wyn of twee al die pad vanaf Stormsrivier saam te dra en boonop was dit Ben se verjaarsdag. Dit het die besluit ietwat makliker gemaak. Ons het vooraf gerëel vir ons aflewering en toe ons André hut se deur oopslaan staan ons krat met vleis, wyn en bier daar. Ons het inderdaad daardie aand lekker verjaarsdag gevier.
Die rivierkruisings
Ons was baie gelukkig en kon met gemak (net so bo die knie nat geword) deur al drie die groot riviere kruis. Dit sluit die Elandsbos, Lottering en natuurlik die Bloukransrivier in. Ons was ook baie gelukkig met die getye. Dit is belangrik dat jy die Bloukransrivier en Lottering rivier so na as moontlik aan laagwater kruis. Toe ons gestap het was laagwater net so voor tweeuur in die middag op dag vier. As ons byvoorbeeld vier dae later weg gespring het sou ons deur die nag moes stap om betyds te wees om seweuur die oggend te kan kruis. Daar is ‘n groot verskil! Terloops, as jy die getye wil nagaan kan jy hierdie skakel volg: Otter Trail Tides.
My nuwe skoene
Ek het onlangs ‘n paar Merrell ROGUE HIKER MID GTX stapskoene aangeskaf. Ek het dit oorweeg om die Otter met hulle aan te pak, maar die skoene was nog nie heeltemal uitgetrap nie. Ek besluit om eerder met my Altra Loan Peaks te stap. Dit was die regte besluit! 90% van die voedslaanpaadjies op die Otter is geskik vir “tekkies”. Ek het my Merrell steuwels se ondersteuning en houvas op die klippe en kranse gemis, maar die gemak van die Altra’s sou ek nie met my nuwe skoene kon klop nie.
Op dag 5 het dit gesous
Net nadat ons opgepak het en ons eerste tree vir die dag gee het dit begin reën. Dit het nooit weer opgehou nie. Ons almal was pap nat gereën. Ek het reeds ‘n week voordat ons begin stap het op ‘n weervoorspelling gesien dit gaan heel moontlik dag 4 en dag 5 reën. Tot my spyt het ek nie ‘n reënbaadjie saamgedra nie. Dit is natuurlik nou bo-aan die inkopie lysie. Die reën het die uitsig vanaf die kranse belemmer en die entoesiasme van die vorige vier dae ‘n bietjie gedemp, maar ons het geweet aan die einde van hierdie voetpad het ‘n warm stort en ‘n pizza vir ons gewag.
Ek sal vir seker die Otter weer stap. My daaglikse ritueel om plek te soek mag eersdaags weer begin, wie weet.
Volgens my Garmin:
afstand
totale klim
Dag 1 – Ngubu hut
4 km
111 m
Dag 2 – Scott hut
9 km
595 m
Dag 3 – Oakhurst hut
7,3 km
430 m
Dag 4 – Andre hut
13,7 km
695 m
Dag 5 – Nature’s valley
8,5 km
541 m
42,5 km
2 372 m
En hier is ‘n video van ons ervaring van hierdie ongelooflike staproete. Kyk gerus: