Operasie Top Notch

Ek het baie lanklaas op Top Notch geseil en die hoof rede was my stukkende enjin en ek moes baie lank wag vir ‘n onderdeel uit Japan en my vriend Peter het besluit hy het genoeg gehad van die Stadt23 klas en het aanbeweeg na die Pacer klas toe, dus het ons nie genoeg bemanning gehad nie. Ek het laas naweek besluit dit is tyd! Dit is tyd om die voëlbolle en spinnerakke van Toppie af te was, die enjin reg te maak en sommer plaasvervanger bemanning te kry en dit alles in een naweek.

Besig om skoon te maak

Besig om skoon te maak

Ons het Saterdagoggend die Weber ingepak, Ester het soos gewoonlik ‘n hele tas vol klere en ander vroumens goed ingepak, ek het my gereedskapkas, die enjin onderdele en ‘n paar skoonmaakmiddels vir die boot ingelaai en ons was weg. Ons het oppad vir ons ‘n paar skaaptjops en drankies gekoop vir die aand se braai.

Ek was baie verras toe ek sien hoe maklik ek die enjin kon regmaak. Van al die staan was die sleepwa se wiel pap. Ek moes eers ‘n pomp in die hande kry wat baie moelik was, want daar was nie veel mense by die dam nie. Ons het besluit om sommer een te gaan koop in Vanderbijlpark. Nadat ons die wiel gepomp het, het ons die boot in die water gesit en haar vasgemeer. Die dam se vlak (77 %) was gelukkig net genoeg sodat ek nog in die hoof hawetjie kon vasmeer. Dit was nou al drie uur die middag en dit was baie warm gewees (36 grade C) en daar was nog baie werk om the doen.

Rustig

Rustig

Uit die bloute bel John my en laat weet daar is iemand wat belang stel om saam te seil. Op hierdie stadium lyk dit toe vir die eerste keer of ek dalk my hele te-doen lysie kan aftiek, insluitend bemanning te kry. Ons het die boot begin skoonmaak en Top Notch het skielik weer lus gelyk vir seil.

Ester en ek het Saterdagaand sommer op Top Notch geslaap. Die aand het ‘n groot storm opgesteek, maar die het meer geblaf as gebyt. Ek moet bieg dat ek en Ester redelik skrikkerig was vir al die weerlig hier reg bo ons en ons het reg onder ‘n 11 meter lange weerligafleier geslaap. Die storm het darem net vir so uur aangehou en toe was dit weer rustig – ek dink so, want ek het die res van die aand soos ‘n babatjie geslaap.

Die storm kom nader

Die storm kom nader

Sondagoggend het ons lekker ontbyt by die klub geëet. John en die nuwe bemaninglid – Kevin – het by ons aangelsuit en Top Notch het weer geseil – in baie sterk wind – te sterk! Ons was vir so paar ure rond geblaas voordat ons maar moes terug kom. Ek dink seilers is maar baie soos boere, kla die heeltyd oor die weer.

Mosselbaai

Ons is nou net terug van ‘n lekker lang naweek se kuier by die familie in Mosselbaai. Van ons het al Donderdag Mosselbaai toe gevlieg. Ester moes eers Durban toe vir werk voordat sy Saterdag oggend kon aansluit. Met die wete dat ons eers Maandagaand terug kom het ons lekker kon ontspan. Soos gewoonlik as ons in Mosselbaai gaan kuier is dit koud. Ek hoor altyd stories dat Mosselbaai die beste klimaat het naas Hawaii. Ek wonder soms of daar nie dalk ‘n ander plek bestaan met die naam Hawaii nie. Miskien êrens in Alaska?

Walvis by Mosselbaai

Daar was walvisse net waar jy kyk

Ek het vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n gholfstok geswaai. Enige persoon wat gholf speel sal weet dat ek met so min oefening sou sukkel om baansyfer te maak en dit nogal op Pinnacle Point. Ja, hulle was reg (ek kon in elk geval nog nooit op enige ander baan baansyfer maak nie). Die gholf het gegaan soos ek verwag het – sleg. Die lugdiens was bly, want my gholfsak was twee kilogram ligter toe ek terug vlieg a.g.v. al die balle wat ek daar op die gholfbaan weg geslaan het. Dit was baie lekker om weer te speel en ek het boonop op die laaste gat ‘n baie goeie afslaan gehad en ‘n syfer gemaak.

Gholf by Pinnacle Point

Gholf by Pinnacle Point

Saterdagoggend het ons vir Ester gaan oplaai by die lughawe en toe gou ‘n draai gaan maak by die mooiste strand in die wêreld – Heroldsbaai. Ons wou by Duton’s Cove gou middagete gaan eet, maar dit was te koud en ons is toe terug na Mosselbaai.

Heroldsbaai

Heroldsbaai

Nog baie moeg van Saterdagaand se kuiertjie, het ons Sondagoggend op Pinnacle Point se boot gaan ry. Dit is ‘n baie luukse 40 voet motorboot. Ons het lekker kos en drankies ingepak sommer vistokke ook. Ons het heel oggend rustig in die baai tussen al die walvisse rondgery. Ons het toe voor Santos anker gegooi en die kinders het lekker vis gevang. Wat ‘n lekker dag!

Surfer by Delfino's in Mosselbaai

Surfer by Delfino's

Maandag het ons ‘n lekker ontbyt gaan eet en die res van die dag ontspan. Dankie Ettie-julle ons het lekker gekuier!

Dis weer seilseisoen

Dit is heerlike lente en dit beteken die seilseisoen het amptelik begin. Ek het laas naweek vir die eerste keer aan die Big Boat Regatta op die Vaaldam deelgeneem. Ons het op Sea Quill – ‘n Stadt 34 deelgeneem. Sea Quill is in ‘n uitmuntende toestand en dit was ‘n plesier om op haar te seil.Die bemanning was vyf mans en ‘n dame sterk.

Ons is besig om in te haal

Ons is besig om in te haal

Alhoewel dit ‘n bietjie koud was, het die son darem die heeltyd geskyn en meer belangrik nog, die wind het die heeltyd gewaai. Toe die resies Sondag begin was dit maar 14 grade Celsius. Die wind was amper perfek vir albei dae van die regatta.

Volle konsentrasie

Volle konsentrasie

Die regatta was op Saterdag en Sondag gehou. Saterdag se resies het ons ‘n groot taktiese fout gemaak en amper laaste in die klas gekom, maar Sondag het dit baie beter gegaan selfs al het die meerderheid bemanning erg kopseer gehad. Sondag het almal aan boort geweet wat om te doen, en wanneer om dit te doen. Ons het amper foutloos om die roete geseil. Dit was eintlik jammer die roete was so kort gewees, want ons het begin om al die ander bote in te haal.

Celvin besig met verstillings op die jib

Calvin besig met verstillings op die jib

Sea Quill is nou nie eintlik ‘n resies masjien nie. Aan boort is daar ‘n TV, mikrogolfoond, ‘n Wynversameling wat uit ten minste 10 bottels rooiwyn en nog meer witwyn bestaan. Daar was 300 liter diesel aan boort en 100 liter water. Sea-Quill het natuurlik aan al die ander behoeftes kon voorsien soos koue bier en lekker toebroodjies gedurende die regatta.

Captain Morgan (Peter) is aan boord

Captain Morgan (Peter) is aan boord

 

Ons het uiteindelik tweede in ons klas geëindig en self ‘n prys gewen. Dit was een van die lekkerste regattas waarin ek nog deelgeneem het!

Songimvelo

“Waar heen wil julle môre ry?” vra my skoonma. “Kom ons gaan bietjie wildtuin toe” sê ek. “Dit klink lekker, ek kry gou my wildcard” , “Nee, ma, dit sal nie nodig wees nie, die wildtuin waarheen ek wil gaan aanvaar nie wildcards nie. Ek wil Songimvelo toe!”
Dam naby Diepgezet

Dam naby Diepgezet

Ons is gister oggend ses uur hier uit Nelspruit weg na Songimvelowildreservaat. Nie een van ons het geweet wat om te verwag nie, want inligting oor die wildtuin is maar skaars. Ek het al lankal van die reservaat geweet en wou nog altyd gaan, maar toe ek onlangs ‘n berig oor Songimvelo in die Weg tydskrif lees en ek geweet het ons kom Nelspruit toe hierdie naweek, het alles uiteindelik bymekaar gekom. Die tyd en plek was reg vir my eerste besoek.

Diepgezet omgewing

Kronkelpad oor die berge

Om daar te kom is ‘n klein avontuur op sy eie. Vanaf Nelspruit ry ons Baberton toe en daar begin die kronkel pad oor die berge. Die vorige keer wat ek hierdie pad oor die berge gery het was dit ‘n baie slegte grondpad, dit lyk egter of die regering nie al ons geld steel nie, hulle het wel ‘n paar Rand oor om die pad te teer. Ek verstaan hulle teer eintlik die pad vir ‘n ander wildtuin in die omgewing.

Kameelperd by Songimvelo

Een van baie kameelperde in die park

Die laaste deel van die pad is steeds grondpad en gaan verseker nie binnekort geteer word nie. Hierdie pad is gebou vir die Msauli asbesmyn wat in die omgewing was. Die Msauli asbesmyn het in 2003 gesluit a.g.v. die gevare van asbes. Die myn personeel het almal in Diepgezet gewoon. Die naam sê dit als. Dit is ‘n baie klein dorpie in ‘n kom en omring deur baie hoë berge. Een van die min hoogtepunte in so klein dorpie se kalendar was die jaarlikse gholfdag. Gholfers het van oral gekom om op hierdie baan te kan speel. Ek het in die laaste drie Msauli opes deelgeneem. Nou is die dorp ‘n ware spookdorp. Daar is so een of twee huisies wat steeds bewoon word sekerlik deur mense wat die dorp oppas. Ons het ‘n draai gemaak by die ontspanningsklub en toe weer die pad gevat. Nog so 25 kilometer vanaf Diepgezet is die afdraai na Songimvelo.

Die Komatirivier vanaf die bergpad in Songimvelo

Die Komatirivier vanaf die bergpad

Dit het ons R125 gekos om in te gaan. Hoe die hekwag by R125 uitgekom het weet hy en ek tot vandag toe nie. Kontant is die enigste opsie. Ons was die vierde kar wat die dag ingeteken het. Ek het ‘n padkaart versoek en na ‘n gesoek het die hekwag een onder in sy boekrak uitgekrap. Dit is ‘n swart en wit afdruk van ‘n baie basiese kaart. Agterop was in ‘n vorige besoeker se handskrif ‘n lysie van diere wat hulle gesien het. Plek-plek is daar nommers op die kaart wat lyk of dit iets belangriks beteken, maar ek kon nie die legende op die kaart vind nie. Die reservaat is 48 000 ha groot en dit is baie jammer dat daar nie ‘n goeie kaart beskikbaar is nie. Ons het beplan om êrens piekniek te hou, maar daar is geen piekniek areas in die reservaat nie, gelukkig het ons darem biltong en ‘n paar broodjies byderhand gehad. Daar is eintlik niks by die hek nie, behalwe vir jou ingangsfooi is daar geen ander rede om kontant saam te vat nie.

Daar was baie om te sien by Songimvelo

Daar was baie om te kyk

Na ‘n gespook om ‘n werkende toilet te kry en die flou diens by die hek was ons al drie maar ‘n bietjie pessimisties oor wat ons die res van die dag kan verwag. Dinge het egter gou verander toe ons skaars ‘n honderd meter van die hek af ons eerste wild sien – ‘n koedoe. Nie veel verder het ons die eerste van baie kameelperde gesien. Daar is blykbaar 60 kameelperde in die reservaat. Ons het toe nog waterbokke, springbokke, rooibokke, duikers, blesbokke en vlakvarke gesien. Daar is ook olifante en buffels maar ons het hulle ongelukkig nie gesien nie.

Af met die berg paatjie by Songimvelo

Af met die bergpaadjie

Die paaie is wel gemerk, maar sonder ‘n goeie kaart help dit nie veel nie. Ons het maar ‘n pad gevat en gery. Die paaie is baie sleg en is meestal maar ‘n tweespoor pad. Op een stadium moes ons besluit om deur ‘n rivier te ry of om te draai. Na ‘n lang redenasie – wat ek verloor het – sit ek die kar tog in low range en ons is deur die rivier. Die pad vat ons toe oor ‘n paar berge en word toe skielik ‘n ernstige 4X4 roete. Voor ons was ‘n baie styl helling. Die vrouens was maar baie stil, ek was bietjie bekommerd, maar ons is oor. Dit was weer lekker om die kar se 4X4 te gebruik, dit was vir hierdie tipe plesier dat ons ekstra betaal het. Die pad loop toe skielik dood en ons moes omdraai en al die pret en angs het weer van voor af begin.

Dit was my huis in die weermag Armburg

Dit was my huis in die weermag - Armburg

Na die berg roete het die vrouens besluit dit was nou genoeg en ons is terug hek toe. Vanaf die wildtuin het ek ‘n draai gaan maak by Armburg. Armburg was ‘n weermagbasis waar ek amper ‘n jaar van my diensplig gedoen het. Die basis het uit ‘n plaashuis en nie veel meer bestaan nie. Die basis is in 1992 gesluit en omskep in ‘n veearts.

Ons is toe na Badplaas om iets te drink voordat ons terug Nelspruit toe is. Die einde van ‘n baie interesante dag!