Stofpad om die Berge

Nadat ons die roes afgeslaap het na die vorige aand se wynproe, terloops Phesantekraal se chenin blanc was loshande die wenner gewees, is ons laat oggend by Sanddrif weg om die berge te gaan verken vanuit die gerief van ‘n lugversorgde motorkajuit.

Ons het ‘n sirkelroete gery wat ons verby Algeria tot in Clanwilliam gevat het. Middagete het ons in die Clanwilliam hotel geniet. Vanaf Clanwilliam het ons Noord-oos gedraai oor die Pakhuispas gery en verby historiese nedersettings soos Wupperthal en Eselbank en weer terug tot by Sanddrif via Matjiesrivier.

Hier is drone video wat ek tydens ons trippie gemaak het.

Die pad is meestal grondpad en ons het verskeie passe oorgesteek waarvan die hoogste en steilste sekerlik die Eselbankpas is.

Sirkelroete om die Cederberge
Die roete om en deur die Sederberge

Die roete is sowat 175 Kilometer lank. As jy die regte voertuig het is dit die moeite werd om die roete te ry. Daar is ‘n verrassing om elke hoek en draai met asemrowende uitsigte.

10 Redes hoekom Dwarsberg een van ons gunstellinge is

Ons het onlangs vir die tweede keer by Dwarsberg gaan kamp en dit weereens ongelooflik lekker gevind. Hier is tien redes hoekom ons so baie daarvan hou:

1 Groot stuk plat grasperk om kamp op te slaan

Daar is slegs 10 kampeerstaanplekke op Dwarsberg en almal het ‘n masiewe lowergroen grasbedekte staanplek. Elke kampplek is groot genoeg vir 3 tot 4 tente. Dit is duidelik dat die eienaars baie mooi na die gras omsien.

Dwarsberg kamppeerterein
Groot grasperk om kamp op te slaan.

2 Privaatheid

Die kampplekke is honderde meters uitmekkaar met baie bome en fynbos tussen jou en jou buurman. Kanse dat sy musiek jou gaan pla is skraal. Prima familietyd.

3 Eie ablusie

Elke kampplek het sy eie ablusie en is silwer skoon. Daar is ‘n gasgeiser wat sorg vir ‘n heerlike warm stort met ‘n uitsig oor die berge.

4 Langs die rivier

Kampplekke is op die oewer van die Holslootrivier (jip, ek weet) en daar is verskeie swempoelle groot genoeg vir Karla se opblaas unicorn en nog plek om in die water te baljaar. Ons was nog nooit daar in die somer nie, maar kan net onsself voorstel dat op ‘n warm somersdag jy min tyd elders sal spandeer.

5 Berge

Dwarsberg is in ‘n vallei gelee met berge aan beide kante van die kampplek. Die sonsopkoms en ondergang sorg vir allerhande skakerings van kleur teen die berge.

Dwarsberg berge
Hoë berge omring die kampplek.

6 Perfek vir aksie en avontuur

Daar is ‘n bergpas wat lei na die Stettynskloofdam toe. Die pad smeek om met ‘n bergfiets gery te word. Die dam is sowat tien kilometer vanaf ons kampplek af. Ons het verskeie fietsryers op die pad teegekom. Daar is ook drie afgemerkte staproetes in die oord, met een roete wat al die pad na ‘n waterval met ‘n groot swempoel toe gaan. Benewens fietsry en stap kan jy ook probeer forrelle vang. Ek is nie ‘n visserman nie, maar daar was baie ander wat probeer het.

Stettynskloofdam is sowat tien kilometer vanaf die kampplek

7 Dit is ‘n uur en ‘n half vanaf ons huis

Dwarsberg is minder as 100 kilometers vanaf ons huis in Bellville af. Deur die tonnel en jy is daar, of ry oor die Du Toitskloofpas vir ekstra uitsig as jy nie te haastig is nie.

8 Daar is ‘n bistro en kiosk by ontvangs.

‘n Kiosk is by ontvangs en verkoop die gewone kamp goed wat jy moontlik vergeet het insluitend wyn. Daar is ook ‘n bistro en is baie populêr. Jy kan lekker ontbyt daar eet en hulle maak ook heerlike pizza of eet ‘n ontbyt pizza.

Die kiosk by Dwarsberg, net langsaan die Restaurantjie

9 Ontkoppel die stad

Die meeste staanplekke het elektrisieteit, maar ‘n paar is daarsonder. Ek hou daarvan om my eie te kan maak en verkies die staanplekke sonder krag. Daar is selfoonsein, maar is maar swak. Ek vermoed ander kampe het beter sein. Hoe minder elektronika hoe rustiger is die naweek.

Baie suikerbekkies het die proteas kom besoek

10 Daar is baie om te verken in die omgewing

Daar is baie om te doen en sien in die Breedekloof. Daar is ‘n klomp wynplase in die omgewing en ons het Du Toitskloof besoek. Ander wynplase sluit Slanghoek, Opstal, Bergsig en vele meer in. Verskeie reservate in die omgewing en ons het ook die Brandvleidam besoek.

Ons kamp langs Riviersonderend

Met ons avontuure in die Richtersveld nog vars in ons geheue het ons besluit dat dit weer tyd is om te gaan kamp, maar van warm son en stof het ons eers genoeg gehad so die keer was grasbedekte staanplekke onder hoë bome ons voorkeur. Na ‘n bietjie navorsing het ek vir ons kampplek bespreek by Khomeesdrif naby Riviersonderend.

Daar is baie gras waarvandaan mens die swemmers kan dophou.

Ons het Vrydagmiddag pad gevat op die N2 na Riviersonderend sowat 160 kilometer vanaf ons huis hier in Kaapstad. Na die besige Vrydagmiddag verkeer net voor Sir Lowryspas het dinge kalmeer en ons het redelik vinnig by ons bestemming uitgekom.

Daar is baie kampplekke en A1 tot A9 is reg langs die rivier. Ons het op A5 gekamp.

Khomeesdrif lê reg langs die Riviersonderend (rivier). Die kampterrein is groot en daar is maklik meer as vyftig kampplekke beskikbaar. Die mees populêre staanplekke lê reg langs die rivier onder skaduryke bome. Vanaf die ander kampe word jy beloon met ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge. Elke staanplek is ruim genoeg en ‘n tent of karavaan pas maklik daarin en dan nog vele plek vir ‘n gazebo of so, daar is ‘n waterpunt naby en ‘n groot braaiput waarin ons elke aand ‘n lekker kampvuur gemaak het. Daar is wel nie kragpunte nie, maar dit pla ons nie veel nie. Die meeste staanplekke is met gras bedek.

Daar is speelplek vir kinders.

Ons was verbaas oor hoe besig dit daar was. Een rede is sekerlik dat dit nog skoolvakansie was, die ander heel moontlik dat die oord honde-vriendelik is. Daar was baie honde! As jy nie veel van ‘n honde liefhebber is nie, sal ek jou aanraai om eerder nie hierna toe te kom nie. Ons het geen probleem gehad met die honde nie.

Die uitsig vanaf die Lapa by die swemplek.

Ons naweek hier was amper perfek. Oggende was salig en met ‘n lekker koffie in die hand het ons in die woud oorkant die rivier ingestaar. Die paar dae was warm en min wind. Karla het lekker geswem en haar self vermaak met haar springtou, Ester het boek gelees ek het voëls gekyk en het ‘n Donkervlieëvanger en ‘n Paradysvlieëvanger onder andere in my lysie afgemerk. Die naweek het ons almal baie goed gedoen en ons almal het dit baie geniet.

Staanplekke op gras en ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge.

Ons sal vir seker weer gaan en daar is niks wat ons sal verander nie. Miskien sal ons vroeër bespreek sodat ons op staanplek A1, 2 of 3 kan staan.

Ons planne vir 2021

Nadat ons slegs 6 aande in 2020 in ‘n kamp deurgebring het (dit was darem nie ons eie skuld gewees nie), het ons besluit 2021 sal dinge moet verander. Ons sal graag 2021 baie meer wil gaan kamp en baie meer nuwe plekke wil besoek gedurende die jaar. Natuurlik het ons reeds groot planne vir September, wanneer ons die groot wildtuine van Botswana en die Caprivi gaan besoek.

Hier is ‘n lysie van die kampplekke wat ons graag wil besoek gedurende die jaar en sluit natuurlik een of twee van ons gunstelinge in:

Ons planne vir ons Botswana toer sluit Moremi, Savuti en Chobe in. ‘n Besoek aan Livingstone en die Victoria-watervalle en oppad terug toer ons deur die Caprivi.

Of Covid weer gaan bepaal of ons by die huis moet bly weet ons nie, maar indien nie, gaan ons lekker kamp.

Kamp in die Richtersveld, Richtersberg
Hier kamp ons langs die Oranjerivier (Richtersberg)