Totsiens aan Die Beer: 11 Jaar, 175 000 km

2015 was ’n jaar van verandering. Ons het Kaap toe getrek om ’n nuwe hoofstuk te begin, en ek het besluit my voertuig moet saam met my verander. Teen einde 2014 het Toyota die Land Cruiser met die 4.5-liter V8 diesel-enjin bekendgestel – ’n enjin met ’n diep brul wat jou dadelik laat weet hy is gebou vir werk. ’n Regte manskar, bekend vir sy veldryvermoë, gemaklike grondpadgedrag en eenvoudige elektronika- presies waarna ek gesoek het.

Kort ná ons aankoms in die Kaap moes ek my Fortuner vir ’n diens vat, en daar staan hy toe by die agentskap in Table View. Regte tyd, regte plek. Die besluit was vinnig geneem, en ’n dag later het ek by die huis opgedaag met my nuwe wiele: “Die Beer.”

In daardie jare was Land Cruisers nog nie oral op die pad nie. Daar was amper ’n klein, ongeskrewe broederskap onder eienaars. As jy ’n ander Cruiser sien aankom, het jy geweet wat om te doen – ligte geflikker, of die bekende twee-vinger wuif oor die stuurwiel. Dis nie iets wat jy beplan het nie; dit het net gebeur. ’n Stil erkenning tussen mense wat dieselfde stofpaaie ken en die tipe lewensstyl verstaan. Soos die Cruiser later meer algemeen geraak het, het daardie klein stukkie kultuur stadig begin verdwyn, maar as jy lank genoeg bestuur het, onthou jy dit nog duidelik.

Ek het uiteindelik my Cruiser vir net meer as 11 jaar besit, en in daardie tyd het ons saam amper 175 000 kilometer afgelê. Hy het my na van die mooiste plekke op aarde geneem – verskeie kere deur Namibië en Botswana, en selfs tot in Mosambiek. Elke reis het ’n nuwe herinnering bygevoeg.

Maar tyd staan nie stil nie. Hy het nie jonger geword nie, en ek ook nie. Op ’n stadium moet ’n mens eerlik raak: ry jy hom tot hy uiteindelik uitmekaar begin val, of maak jy vrede daarmee om aan te beweeg na iets wat jou weer daardie 11 jaar se voorsprong gee?

En so het die besluit gekom. Ek het Die Beer verkoop. En soos wat ek nou terugkyk, besef ek ’n Cruiser dra nie net jou kamp goed nie – hy dra jou stories.

Voor ek hom finaal groet, is daar nog een manier om die storie reg te laat eindig – deur na die syfers te kyk.

Daar is min twyfel dat ’n Toyota Land Cruiser sy waarde goed hou. Om ’n idee te gee, hier is wat ek hom oorspronklik vir betaal het (los natuurlik inflasie en enige finansieringskostes uit die vergelyking uit).

Aankoopprys in 2015R 635 399
Verkoopprys in 2026R 600 000
Waardevermindering per jaar (11 jaar) R 3 200

As dit by brandstofverbruik kom, is dit natuurlik ’n heel ander storie. Die 4.5 liter V8 is bekend vir sy brandstof gebruik, maar nie vir die regte redes nie. Die enjin is gebou om diesel te gebruik en hy is baie goed in sy werk.

Ek het ongelukkig nie van dag een af noukeurige statistieke gehou nie, maar het eers so vanaf 14 000 kilometer begin dophou wat hy eintlik drink.

Totale brandstof aankopeR 387 318
Brandstof koste per dag R 101,85
Brandstof koste per kiloR 2,42
Verbruik (L/100 km)13,96

11 jaar later, 175 000 kilometer en baie herinneringe ry Die Beer sy laaste pad saam met my. Maar elke einde bring ’n nuwe begin en sy plek is nou ingeneem deur Oskar die Boskar.

Op en oor Constantiaberg

Die somer het uiteindelik in die Kaap aangebreek en so af en toe kry ons ‘n windlose dag – perfekte weer om in die berge te gaan stap. Ek kon Vrydagaand vir Karla oorreed om saam te stap tot bo-op Constantiaberg en ons twee stop vroeg Saterdagoggend by die Silwermyn.

Constantiaberg, met sy kenmerkende radiomas op die piek, is een van daardie prominente pieke wat van byna enige plek op die skiereiland herken kan word. Die piek staan 927 meter hoog, en die totale klim was ongeveer 500 meter van waar ons by Silwermyn se dam parkeer het.

Op ons pad boontoe het ons by die Olifantsoog verbygestap. Dit is ‘n indrukwekkende grotopening in die berg, wat, met ‘n tikkie verbeelding, soos ‘n olifant se oog lyk wat teen die kop pryk. Dit bied ‘n ideale plek om aan padkos te smul en asem te skep terwyl ‘n mens die panoramiese uitsig oor die lang strand van Muizenberg, wat tot in Gordonsbaai strek, te bewonder.

Die hardewerk om die piek te bereik het nou eers regtig begin. Karla moes gereeld vir haar pa wag. Gelukkig was ons nie haastig nie en het baie tyd gehad om af en toe ‘n blaaskans te neem en die uitsig in te neem. Hoe hoër ons geklim het, hoe meer het die uitsig ons betower. Met die steilste deel van die klim agter ons, kon ons uieindelik die piek in die verte sien. By die piek moes ons oor ‘n paar rotse klouter om die Constantiaberg se driehoeksbaken te beriek.

Nadat ons die uitsig ingeneem het en weer asem geskep het en al ons water opgedrink het, is ons weer af. Ons het aan die suide kant afgeklim in die rigting van Chapmanspiek. Alhoewel die steil afdraende aan my bene gevat het, was dit steeds makliker as die opklim.

Teen die tyd dat ons weer onder was, het die temperatuur aansienlik gestyg, en ons het die laaste twee kilometer sonder enige water en sondbrandroom aangedurf. Dit was alles vanaf een van die mooiste uitkykpunte in die Kaap – natuurlik die uitkykpunt oor Houtbaai.

Na sowat 7 en ‘n half kilometers en amper 4 ure is ons terug by die kar. Dors en deur die son gebrand. Ons het dit egter baie geniet.

My Otter ervaring

Die Otter-staproete is ongetwyfeld die bekendste staproete in die land. Dit is op enige stapper se lepellys en omdat dit beperk word tot twaalf stappers per dag, maak dit die staproete baie gesog en is plek ‘n jaar vooruit al vol bespreek. Om plek te kry is die moeilikste deel van die Otter, die res is maklik.

Ek het maande lank die Sanparke-webwerf besoek en ek kon later met slegs ‘n paar muisklikke in ‘n oogopslag die beskibaarhied sien. Dit was min moeite en het later amper soos ‘n gewoonte geraak. Soms is daar een of twee kansallasies oor so twee weke van wanneer ek kyk, ander dae is daar net mooi niks beskikbaar nie. Natuurlik is jou beste kans aan die begin van ‘n maand wanneer die volgende maand (11 maande vooruit) se besprekings oop maak, maar daar is altyd ook ‘n kans vir ‘n groeps kansallasie. Een Saterdag oggend het my geluk gedraai en daar was beskibaarhied, sommer baier! Ek het met Kelly bevestig en ek het onmiddelik ses plekke bespreek en betaal.

Jou eerste amptelike tree op die Otter is in die betowerende Tsitsikammawoud in. Jy wandel deur ‘n tonnel van inheemse bosse en bome. Daar is helder oranje swamme op dooie stompe. Bo jou hoor jy ‘n geskarrel in die blare en sien die helder rooi van ‘n Knysna Loerie se vlerk se onderkant.’n Ent verder begin jy die geraas van die branders hoor. Jy word dan begroet deur die see met ‘n honderd skakerings van blou.Op hierdie oomblik besef jy dat jy vir die volgende vyf dae vol verwondering gaan staan. Dit is droommooi. Om hierdie belewenis in woorde vas te vang is onmoontlik vir my.

‘n Paar feite

  • Ons het die otter van die Otter-staproete gesien. Die Groototter kom hier voor.
  • Otter-staproete begin naby die Stormsriviermond en vyf dae lank stap jy tot by Nature’s Valley.
  • Daar is verskeie rotspoele op die roete. Moenie die kans laat verbygaan om ten minste in een te swem nie.
  • Behalwe vir otters het ons ook miskleljaatkatte, interesante seelewe, verskeie voëls soos die Knysna loerie, ‘n skerpioen en nog allerhande insekte gesien.
  • Daar is ‘n groot verskeindenheid plantegrooi – jip,jy stap meeste van die tyd deur ‘n woud. Plantegroei bestaan uit hoofsaaklik fynbos en struikbos en woude.
  • ‘n Koppie tee langs die see op ‘n rivierbedding is lekkerder as tee by die kantoor.

Etes en ons dag 4 aflewering

Dit is baie belangrik om op ‘n multidag-staproete die regte kos in te pak en in die regte kwantiteit. Dit moet ook nie te veel wees nie. My beplanning het goed uitgewerk. Ontbyt het bestaan uit ‘n lekker koppie filterkoffie en beskuit. Dit was genoeg vir ontbyt en ek het nooit eers my daaglikse pakkie Oats-so-easy oopgemaak nie. Gedurende die dag het ek ‘n paar vinnige happies langs die pad geniet – my springbok biltong was ‘n absolute wenner en was voor die vier killometer merk al op. Vir aandete het ons die eerste twee aande heerlike braaivleis met Smash geniet. Die derde aand het ons stapkos geëet – gedehidreerde maaltye wat ons by Outdoorwarehouse gekoop het.

Daar is ‘n groot debat op die interwebs oor die aflewering van kos op die Otter. Baie mense sê aflewering verander die Otter in ‘n slack-pack roete in en verloor dus status as ‘n egte multidag-staproete, ander reken dat dit stappers van alle vlakke die geleentheid gun om die Otter te ervaar. Wat ook al reg is, André-hut (dag 4) is baie ver om ‘n bottel wyn of twee al die pad vanaf Stormsrivier saam te dra en boonop was dit Ben se verjaarsdag. Dit het die besluit ietwat makliker gemaak. Ons het vooraf gerëel vir ons aflewering en toe ons André hut se deur oopslaan staan ons krat met vleis, wyn en bier daar. Ons het inderdaad daardie aand lekker verjaarsdag gevier.

Die rivierkruisings

Ons was baie gelukkig en kon met gemak (net so bo die knie nat geword) deur al drie die groot riviere kruis. Dit sluit die Elandsbos, Lottering en natuurlik die Bloukransrivier in. Ons was ook baie gelukkig met die getye. Dit is belangrik dat jy die Bloukransrivier en Lottering rivier so na as moontlik aan laagwater kruis. Toe ons gestap het was laagwater net so voor tweeuur in die middag op dag vier. As ons byvoorbeeld vier dae later weg gespring het sou ons deur die nag moes stap om betyds te wees om seweuur die oggend te kan kruis. Daar is ‘n groot verskil! Terloops, as jy die getye wil nagaan kan jy hierdie skakel volg: Otter Trail Tides.

My nuwe skoene

Ek het onlangs ‘n paar Merrell ROGUE HIKER MID GTX stapskoene aangeskaf. Ek het dit oorweeg om die Otter met hulle aan te pak, maar die skoene was nog nie heeltemal uitgetrap nie. Ek besluit om eerder met my Altra Loan Peaks te stap. Dit was die regte besluit! 90% van die voedslaanpaadjies op die Otter is geskik vir “tekkies”. Ek het my Merrell steuwels se ondersteuning en houvas op die klippe en kranse gemis, maar die gemak van die Altra’s sou ek nie met my nuwe skoene kon klop nie.

Op dag 5 het dit gesous

Net nadat ons opgepak het en ons eerste tree vir die dag gee het dit begin reën. Dit het nooit weer opgehou nie. Ons almal was pap nat gereën. Ek het reeds ‘n week voordat ons begin stap het op ‘n weervoorspelling gesien dit gaan heel moontlik dag 4 en dag 5 reën. Tot my spyt het ek nie ‘n reënbaadjie saamgedra nie. Dit is natuurlik nou bo-aan die inkopie lysie. Die reën het die uitsig vanaf die kranse belemmer en die entoesiasme van die vorige vier dae ‘n bietjie gedemp, maar ons het geweet aan die einde van hierdie voetpad het ‘n warm stort en ‘n pizza vir ons gewag.

Ek sal vir seker die Otter weer stap. My daaglikse ritueel om plek te soek mag eersdaags weer begin, wie weet.

Volgens my Garmin:

afstandtotale klim
Dag 1 – Ngubu hut4 km111 m
Dag 2 – Scott hut9 km595 m
Dag 3 – Oakhurst hut7,3 km430 m
Dag 4 – Andre hut13,7 km695 m
Dag 5 – Nature’s valley8,5 km541 m
42,5 km2 372 m

En hier is ‘n video van ons ervaring van hierdie ongelooflike staproete. Kyk gerus:



My fynbos fix by Silwermyn-natuurreservaat

Oor 6 weke stap ons die Otter en ek moet begin om te oefen. Boonop het ek verlede week vir my nuwe stapstewels gekoop wat ek moet uittrap voordat ek die Otter aandurf. Sondag was ‘n goeie geleentheid om beide te doen. Ek het besluit om in die Silwermyn-natuurreservaat te gaan stap. Dit was my eerste besoek.

Terug kyk oor die natuurreservaat en Muizenberg.

Ek kon my Wildcard gebruik om by die hek in te gaan en het maklik parkering gekry naby die dam. Ek het dadelik begin stap in die rigting van die Noordhoekpiek. Gelukkig het ek Saterdagaand ‘n kaart van my beplande roete mooi bestudeer, want daar is verskeie paadjies wat vanaf die dam lei wat nie baie goed gemerk is nie.

Die klipstapel bo-op die Noordhoekpiek.

Die plan was om op te stap na Noordhoekpiek en dan te besluit of ek Constantiaberg wil aanpak, maar met net een gluur na Constantiaberg se kant toe het ek besluit Noordhoekpiek gaan genoeg wees vir die dag. Constantiaberg is baie hoog en lyk intimiderend veral as jy alleen stap en nog nooit daar gestap het nie.

Constantiaberg vanaf Noordhoekpiek. Dit is nog baie ver en hoog.

Met die roete nou heelwat makliker kon ek my tyd vat om die panoramiese uitsig in te neem.

Uitsig oor Houtbaai.

Dit het my so drie ure gevat om die sowat 8 kilometers te voltooi en ek was betyds terug by die huis vir middagete. Die roete is redelik maklik met asemrowende uitsig as beloning. Ek kon natuurlik Noordhoekpiek van my 13 pieke lysie afmerk.

Stofpad om die Berge

Nadat ons die roes afgeslaap het na die vorige aand se wynproe, terloops Phesantekraal se chenin blanc was loshande die wenner gewees, is ons laat oggend by Sanddrif weg om die berge te gaan verken vanuit die gerief van ‘n lugversorgde motorkajuit.

Ons het ‘n sirkelroete gery wat ons verby Algeria tot in Clanwilliam gevat het. Middagete het ons in die Clanwilliam hotel geniet. Vanaf Clanwilliam het ons Noord-oos gedraai oor die Pakhuispas gery en verby historiese nedersettings soos Wupperthal en Eselbank en weer terug tot by Sanddrif via Matjiesrivier.

Hier is drone video wat ek tydens ons trippie gemaak het.

Die pad is meestal grondpad en ons het verskeie passe oorgesteek waarvan die hoogste en steilste sekerlik die Eselbankpas is.

Sirkelroete om die Cederberge
Die roete om en deur die Sederberge

Die roete is sowat 175 Kilometer lank. As jy die regte voertuig het is dit die moeite werd om die roete te ry. Daar is ‘n verrassing om elke hoek en draai met asemrowende uitsigte.