Wegbreek na Mosselbaai

Ons kom so pas terug van ‘n lekker week lange breek in Mosselbaai. Ons het weer by Ettie-hulle gaan kuier. Dit was so lekker om vir ‘n hele week lank nie aan die werk te dink nie en boonop nog lekker met die familie te kuier. Ek en Ester het Saterdag oggend vroeg lekker op die lughawe gaan ontbyt eet voordat ons George toe gevlieg het. Dit was ‘n bibberende 2 grade Celsius in Johannesburg gewees en ons kon nie wag om van die koue te ontsnap nie. Alhoewel dit nog altyd koud in Mosselbaai was as ons daar gaan kuier het, was ons seker dit sou warmer wees as Johannesburg.

Mosselbaai

Mosselbaai

Ek het hierdie jaar al baie gevlieg, maar ek het nog nie een keer in so ‘n helder dag gevlieg nie. Vandat ons opgestyg het kon ek allerhande interessante en bekende landmerke sien. Ek kon sien hoe Sasol 2 en 3 se rook Centurion besoedel. Ek het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die hele Vaaldam gehad, ek het sneeu op die Drakensberge gesien, ek kon selfs die Sentinel duidelik vanuit die vliegtuig uitmaak, ek het Clarens gesien en al die berge naby aan George was vol sneeu. Net voordat ons geland het, het die vliegtuig ‘n draai gemaak oor Heroldsbaai en van daar af kon ek elke liewe dorpie sien tot in Mosselbaai.

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Donavan, Duncan en Malcolm het ons by die lughawe kom haal. Ons het toe die res van Saterdag lekker gekuier en lekker in Ettie-hulle se nuwe braaiplek gebraai. Vandat ons in Mosselbaai aangekom het was die vars reuk van die see baie opvallend – ek mis dit baie en ek moet tog eendag by die see kom bly.

Naby aan die walvis

Naby aan die walvis

Sondag het die manne (Donavan, Malcolm en ek) op die bood gaan ry. Ons het al langs die kus af gevaar oppad Heroldsbaai toe. Ons het soos laas keer weer baie walvisse gesien en op een stadium was ons minder as 50 meter vanaf drie walvisse af gewees – moet dit asseblief nie vir die regering noem nie – en een van die walvisse het toe tot reg onder die bood in geswem. Dit was sekerlik die naaste wat ek nog ooit aan ‘n walvis gekom het. Dit was ook baie interesant om Heroldsbaai van die “ander” kant af te sien. Ons het terug gedraai Mosselbaai se kant toe en toe weer stadig al langs die kus af gevaar.

Heroldsbaai van die ander kant af

Heroldsbaai van die ander kant af

Die res van die week het basies uit kuier, slaap en eet bestaan en nog bietjie kuier. Ons is ‘n paar keer George toe om inkopies te doen. Ek het Donavan gehelp om sy rekenaar en netwerk op te gradeer – Donavan, ek hoop as jy hierdie lees doen jy dit vanuit jou sitkamer! Ons het paar keer by Pinacle Point gaan eet.

Ontbyt by Pinnacle Point

Ontbyt by Pinnacle Point

Ons het een middag almal saam op Glentana se strand gaan stap. Ons doelwit was om die wrak daar te gaan kyk, maar ons het sover gekom soos die eerste paar rotse en toe maar omgedraai. Dit was nietemin baie lekker gewees veral vir die kinders. Self Euen het ‘n hele end op sy eie gestap.

Ettie-hulle by die mode parade

Ettie-hulle by die modeparade

Vrydagaand het ons ‘n skoolfunksie in Hartenbos gaan bywoon. Dit was ‘n modeparade en Duncan en Malcolm het die catwalk aangevat. Ettie het ook deelgeneem. Saterdag – ons laaste dag – het ons maar gaan rondry en Saterdagaand het ek die lekkerste vis geëet in ‘n baie lang tyd. Donavan het ‘n vis (ons weet nou nog nie watse soort dit was nie) op die vuur gegooi. Sondagoggend het ons heerlike vakansie se tyd uitgeloop en ons is terug koue Johannesburg toe.

Mosselbaai

Ons is nou net terug van ‘n lekker lang naweek se kuier by die familie in Mosselbaai. Van ons het al Donderdag Mosselbaai toe gevlieg. Ester moes eers Durban toe vir werk voordat sy Saterdag oggend kon aansluit. Met die wete dat ons eers Maandagaand terug kom het ons lekker kon ontspan. Soos gewoonlik as ons in Mosselbaai gaan kuier is dit koud. Ek hoor altyd stories dat Mosselbaai die beste klimaat het naas Hawaii. Ek wonder soms of daar nie dalk ‘n ander plek bestaan met die naam Hawaii nie. Miskien êrens in Alaska?

Walvis by Mosselbaai

Daar was walvisse net waar jy kyk

Ek het vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n gholfstok geswaai. Enige persoon wat gholf speel sal weet dat ek met so min oefening sou sukkel om baansyfer te maak en dit nogal op Pinnacle Point. Ja, hulle was reg (ek kon in elk geval nog nooit op enige ander baan baansyfer maak nie). Die gholf het gegaan soos ek verwag het – sleg. Die lugdiens was bly, want my gholfsak was twee kilogram ligter toe ek terug vlieg a.g.v. al die balle wat ek daar op die gholfbaan weg geslaan het. Dit was baie lekker om weer te speel en ek het boonop op die laaste gat ‘n baie goeie afslaan gehad en ‘n syfer gemaak.

Gholf by Pinnacle Point

Gholf by Pinnacle Point

Saterdagoggend het ons vir Ester gaan oplaai by die lughawe en toe gou ‘n draai gaan maak by die mooiste strand in die wêreld – Heroldsbaai. Ons wou by Duton’s Cove gou middagete gaan eet, maar dit was te koud en ons is toe terug na Mosselbaai.

Heroldsbaai

Heroldsbaai

Nog baie moeg van Saterdagaand se kuiertjie, het ons Sondagoggend op Pinnacle Point se boot gaan ry. Dit is ‘n baie luukse 40 voet motorboot. Ons het lekker kos en drankies ingepak sommer vistokke ook. Ons het heel oggend rustig in die baai tussen al die walvisse rondgery. Ons het toe voor Santos anker gegooi en die kinders het lekker vis gevang. Wat ‘n lekker dag!

Surfer by Delfino's in Mosselbaai

Surfer by Delfino's

Maandag het ons ‘n lekker ontbyt gaan eet en die res van die dag ontspan. Dankie Ettie-julle ons het lekker gekuier!