Karla gaan skool toe

Ek dink al die laaste twee weke net aan vandag. Die dag wat ons vir Karla alleen tussen vreemde mense moes los. Karla het verskriklik gehuil toe ons haar vanoggend by die skool gaan aflaai het. Sy was ook nie die enigste een nie, dit het geklink of die hele skool gehuil het! Ongelukkig is daar nie ‘n ander alternatief nie, Karla soek nou maaitjies. Sy sal dit verseker by hierdie skooltjie kry en ek is seker sy sal dit hier geniet.

Karla en Ester voor Klein Fonteintjies

Eerste dag by die skool

Van wat ek vandag gesien het lyk die skool baie oulik. Die skool is so vyf kilometer van ons huis af. Daar is baie kinders daar van alle ouderdomme (voor-skool natuurlik). Karla kry elke dag ‘n ontbyt, verversings en middagete daar. Daar is baie speelgoed en klimrame vir die kinders. Personeel lyk almal vriendelik (al het die kinders so geskreeu). Klik gerus hier om te sien wat die skool alles aanbied.

Karla voor Klein Fonteintjies

Wat se plek is hierdie?

Ek en Ester is albei vanmiddag bietjie vroeër van die werk af weg om vir Karla te gaan oplaai. Toe sy ons sien het sy dadelik begin huil. Sy het darem so een of twee keer al iets te sê gehad oor die skool, maar dis al. Ek is seker sy gaan môre weer kwaad wees as ons haar daar aflaai en dalk nog meer die dag daarna. Dit gaan seker maar erger raak voordat dit  beter gaan raak.

Karla is ‘n maand oud

Dit is net ongelooflik hoe vinnig ‘n maand kan verbyvlieg. Karla is vandag – 16 Desember – 1 maand oud. Ek het nie gedink ‘n klein babatjie kan mens so besig hou nie, maar glo my die dae is vir my baie kort.

Karla kuier met ons in die bed

Karla kuier met ons in die bed

As ek terug dink aan haar geboortedag. Dit het so onwerklik gevoel toe ons die 16de November daar in teater wag. Dit was die beste ervaring in ‘n teater wat ek nog ooit beleef het. Hannes het so oulik gelyk in sy teaterpakkie. Die atmosfeer in die teater was so kalm – almal het lekker gesels. Die mooiste geluid is toe dr Baker vir Karla uithaal en sy begin skree. Nie huil nie – skree. Toe vir ‘n oomblik met haar blou lyf op my bors lê was sy alreeds vir my die mooiste dogtertjie in die hele wêreld. Die hele keisersnit ervaring was spesiaal en ek het nogal gou gesond geword.

Karla se Kuiertjie

Karla se Kuiertjie

Sy het al so gegroei. Van die ou pap babatjie wat nie kan fokus nie tot ‘n karnallie wat nie sommer meer heeldag wil slaap nie. Sy kan nou al haar koppie vir ‘n paar oomblikke regop hou en sy kyk al heerlik rond. By ‘n gebrek aan woorde en geluide, doen haar ogies maar die gesels werk.

Hoor julle wat ek sê?

Hoor julle wat ek sê?

Karla het sowaar ons lewens verander en ons slaap vir altyd versteur, maar ek sal dit nooit anders wil hê nie. As ek moeg is en die nare hormoonmonster loer oor my skouer, kyk ek net na daar die twee babagrys ogies en dan is alles weer reg!

Onthou julle kan meer fotos van Karla sien in “Ons foto albums” of klik hier .

Haar nuwe huis

Na drie dae in die hospitaal en ‘n lang wag vanoggend dat Ester se steke uitgehaal moes word is Karla en Ester uiteindelik by die huis. Ek moes nog vanoggend baie vroeg ‘n paar goedjies in haar kamer reg skuif. Ek hoop sy hou van haar nuwe kamer – ek sal seker later vandag weet.

In haar eie bedtjie

In haar eie bedjie

Ek moes ook vir die eerste keer in my lewe ‘n karstoeltjie in die kar probeer vas gordel. Dit het my amper ‘n halfuur geneem en toe moes ek dit weer verwyder toe ek hulle by die hospitaal gaan haal het. Die hospitaal het vereis dat sy in die karstoeltjie daar weg gaan en weer moes ek sukkel om die karstoeltjie in die kar vas te gordel. Gelukkig was Karla baie soet. Ons het dit darem veilig tot by die huis gemaak en sy is reguit bed toe. Sy lyk tog so klein in haar nuwe bedtjie.

Die karstoeltjie

Die karstoeltjie

Ester was net so verlig om terug te wees. Ek is môre op verlof en beplan om tot Maandag nie my voet by die deur uit te sit nie. Ek sal die tyd gebruik om baie foto’s te neem en dit hier plaas.

Sy is baie klein

Sy is baie klein

Dit gaan baie goed

Dit gaan baie goed met Ester en met Karla op die oomblik. Ek kan nie wag om die twee by die huis te kry nie. Dankie vir almal van julle se boodskappe en ondersteuning. Hier is nog ‘n paar foto’s van Karla. Sy slaap net die heeltyd, ons kry nie aandag nie.

Eerste foto van Karla

Hier tik ek en dit beteken ek is pa! Hier is die eerste foto van Karla. Die foto is ongelukkig deur die dokter geneem wat nie veel van die kamera af geweet het nie. Ek mag net gesit en kyk het. Ek sal so gou moontlik ‘n paar behoorlike foto’s neem.

Eerste foto van Karla

Eerste foto van Karla

Karla weeg 3,87 Kilogram en is 48 cm lank en sy was 15:49 gebore.