Die van julle wat nie weet wat die Wedvaart om die Eiland is nie kan gerus ‘n draai gaan maak op die Afrikaanse Wikipedia Webwerf (terloops, ek het daardie Wiki geskryf). Hierdie regatta is een van my gunstelinge, want dit is in die middel van die somer, die dam is altyd vol, baie bote neem deel, dit is ʼn langafstand wedvaart, naweek se kamp langs die dam wat gewoonlik met lekker kuier gepaard gaan.

Vrydagaand se reën en wind.
Hierdie jaar was geen uitsondering nie, behalwe vir die somer gedeelte. Ja, natuurlik reën dit in die somer, maar hel, ek wil darem so nou en dan die son ook sien. Ons het Vrydagmiddag in die reën by die klub aangekom en om die kampplek onder die boom te deps moes ons die tente in die reën opslaan. Saterdag het ons die son nie met ʼn oog gesien nie. Saterdagmiddag het ons gou gaan seil, maar papnat terug gekom. Sondag het ons vir ure lank op die boot nat gereën en weereens nie die son met ‘n oog gesien nie. Daar is natuurlik baie waardevolle lesse geleer, soos byvoorbeeld as jy ʼn reënbaadjie al die pad Deneysville toe saambring, neem hom saam op die boot, altyd.

Voor die matras afgeblaas het is Mandy en Alexis nog vol glimlagte.
Vrydagaand nadat die reën skaars ophou val het, het ons vuurtjie aangesteek, maar die reen is deur sterk wind vervang wat gelukkig nie ons pret kon bederf nie. Ons het heerlik gebraai, geëet en gekuier, sommer tot baie laat oor seil, musiek, werk en allerhande dinge gesels. Ek is seker ons kampgenote sal jou beter kan inlig oor die detail van die gesprekke.

Top Notch vas gemeer.
Saterdag was dit boot-dag. Ons het sommer vroeg die boot in die water gehad en amper reg voor ons tent vasgemeer. Nadat ons vir die wedvaart gaan inskryf het, het ons ʼn paar parte vir die boot by Deneysville se bootwinkel gaan koop. Almal het hand bygesit om die boot eksie-perfeksie vir die wedvaart te kry. Alexis en ek het die toue reg gekry, naaldwerk is deur Mandy behartig (ons moes ʼn nuwe tou deur die mas ryg) en John het ons, soos gewoonlik, aangemoedig. Dit was nou al laat middag en ons het gaan seil, natgereën, terug geseil en papnat op moeder aarde aangekom. Na nog n lekker braai Saterdagaand is ons almal vroeg in die bed. Praat van lesse om te leer en party van ons het Saterdagaand die opblaasmatras-blaas-gewoonlik-af-in-die-middel-van-die-nag les geleer.

Alexis en Mandy is besig om die boot reg te kry vir die volgende oggend se wedvaart
Vroeg Sondagoggend is ons boot toe en op pad wegspringlyn toe. Soos gewoonlik is daar honderde bote op die dam, almal met dieselfde plan. Op pad het ons amper ons enjin verloor. Gelukkig kon ons betyds keer en die ou staatmaker het sommer dadelik weer gebrom en het ons betyds by die wegspring gekry. Die eerste uur of wat van die wedvaart was daar baie min wind. ʼn Storm het in LDYC se rigting gedreig en nie lank nie toe het dit begin reën. Later het dit so hard gereën dat ons nie eers land kon sien nie. Ten minste het die wind nou begin waai, eers vanuit ‘n Suidelike rigting en toe draai dit weer Oos en het toe redelik konstant gewaai vir die res van die tyd. Ons was nou agter die eiland en baie Stadt 23 bote was bymekaar en dit het die wedvaart opwindend gemaak. Alexis moes baie vinnig leer hoe die bolseil werk. Dit het aanhoudend gereën en nou en dan n weerligstraal wat slaan.

John en Alexis kry gou alles reg voordat ons Saterdagmiddag gaan seil.
Met die eindstreep in sig was ons nou drie Stadt 23’s almal bymekaar. Geluk was die keer aand ons kant en die ander twee het skielik wind verloor en ons het verby geseil en voor hulle oor die eindstreep geseil. Op daardie stadium was ek nie seker hoeveel ander Stadt’s voor ons klaar gemaak het nie, maar ek het sopas uitgevind daar was net een voor ons. Ja, ons was die tweede Stadt 23 oor die lyn en 47 ste in die algehele posisie uit amper tweehonderd bote.

Oppad na die wegspring area.
Vir die eerste keer is ons nou vier aan boord en almal baie entoesiasties. Ek hoop ons vier neem volgende jaar weer deel.