Klein Paradys Nylstroom

Ek het al baie gehoor hoe lekker dit is om by Klein Paradys te kamp. Toe iemand onlangs dit weer vir my noem het ek besluit om sommer dadelik te bespreek. Ek is reguit na hul webwerf (kleinparadys.co.za) om die nommer te kry en het bespreek of so het ek gedink.

Swembad in die middel van die kamp

Swembad in die middel van die kamp

Toe ek die besprekings besonderhede kry via epos word daar in rooi gemerk dat ek moet kennis neem dat dit nie die Klein Paradys naby Brits is nie, maar wel Klein Paradys naby Nylstroom. Ek het besef die Klein Paradys waarvan ons so baie gehoor het is die een naby Brits. Ek kon vinnig vasstel dat hulle webwerf kleinparadys.com is. Ons het besluit ons gaan sommer na beide.

Ons OzTent word gebruik.

Ons OzTent word gebruik.

Ons het Vrydagmiddag so drie uur uit Johannesburg vertrek. Dis al die pad met die N1 tot by die Kranskop tolplaza en draai dan links na Nylstroom (Modimolle) en dan weer die eerste pad links. Ons het die Klein Paradys Gasteplaas baie maklik gekry en ons was net so na vyf uur al daar gewees reg om kamp op te slaan.

Die parkie

Die parkie

Die lowergroen grasperk met baie skaduwee onder hoë bome het ons dadelik opgeval terwyl ons ons staanplek soek. Ons het dadelik afgepak en begin kamp opslaan – wat deesdae baie makliker gaan vandat ons ‘n OzTent RV5 het. Ons kon gelukkig nog hout koop by die opsigter, want die winkeltjie sluit reeds 4 uur smiddae. Ons het die vuur aan die brand gesteek en begin kos maak. Dit was nou al amper donker en ons het besluit om eers die volgende oggend die res van Klein Paradys te verken. Dit was heerlik stil en warm buite en die aand het ons buite gesit, geëet en gekuier.

Die verhitte swembad

Die verhitte swembad

Saterdag het ons die kamp verken, geswem, Nylstroom toe gery, terug gekom en luilekker rond gesit. Karla het maatjies gemaak en hulle het amper heeldag in die parkie gespeel. Sy het ook ‘n rondte putt-putt gespeel. Ons het later weer gaan swem en toe weer gebraai.

Sonsopkoms

Sonsopkoms

Sondagoggend was ons vroeg wakker. Dit was nog donker buite. Ester merk beweging in die boom op.Ek gaan loer buite net toe daar ‘n nagapie op ons tafel spring. Hy was nie eers bang vir my nie en ek het tyd gehad om Ester se flits te gaan haal. Daar het intussen nog een op die tafel gespring en eers toe ek die flitslig op hulle skyn het hulle in die boom in gevlug.
Putt-putt baan

Putt-putt baan

Ons het in die verhitte swembad gaan swem voordat ons ontbyt gemaak het. Na ontbyt het ons begin oppak. Ons is laat oggend daar weg.
Ester sit op die stoep

Ester sit op die stoep

Ons het R295,00 per nag betaal vir ‘n kampeerplek met krag. Die kampeerplek sluit 4 mense, ‘n kar en tent of karavaan in. Die prys is buite seisoen. Sal ons weer soentoe gaan? Ja beslis, as ons weer opsoek is na n niksdoen naweek, miskien ook selfs in die winter, wanneer dit heerlik sal wees om in die verhitte swembad te swem.

 

Om die eiland in die reën

Die van julle wat nie weet wat die Wedvaart om die Eiland is nie kan gerus ‘n draai gaan maak op die Afrikaanse Wikipedia Webwerf (terloops, ek het daardie Wiki geskryf). Hierdie regatta is een van my gunstelinge, want dit is in die middel van die somer, die dam is altyd vol, baie bote neem deel, dit is ʼn langafstand wedvaart, naweek se kamp langs die dam wat gewoonlik met lekker kuier gepaard gaan.

Vrydagaand se reën en wind.

Vrydagaand se reën en wind.

Hierdie jaar was geen uitsondering nie, behalwe vir die somer gedeelte. Ja, natuurlik reën dit in die somer, maar hel, ek wil darem so nou en dan die son ook sien. Ons het Vrydagmiddag in die reën by die klub aangekom en om die kampplek onder die boom te deps moes ons die tente in die reën opslaan. Saterdag het ons die son nie met ʼn oog gesien nie. Saterdagmiddag het ons gou gaan seil, maar papnat terug gekom. Sondag het ons vir ure lank op die boot nat gereën en weereens nie die son met ‘n oog gesien nie. Daar is natuurlik baie waardevolle lesse geleer, soos byvoorbeeld as jy ʼn reënbaadjie al die pad Deneysville toe saambring, neem hom saam op die boot, altyd.

Voor die matras afgeblaas het is Mandy en Alexis nog vol glimlagte.

Voor die matras afgeblaas het is Mandy en Alexis nog vol glimlagte.

Vrydagaand nadat die reën skaars ophou val het, het ons vuurtjie aangesteek, maar die reen is deur sterk wind vervang wat gelukkig nie ons pret kon bederf nie. Ons het heerlik gebraai, geëet en gekuier, sommer tot baie laat oor seil, musiek, werk en allerhande dinge gesels. Ek is seker ons kampgenote sal jou beter kan inlig oor die detail van die gesprekke.

Top Notch vas gemeer.

Top Notch vas gemeer.

Saterdag was dit boot-dag. Ons het sommer vroeg die boot in die water gehad en amper reg voor ons tent vasgemeer. Nadat ons vir die wedvaart gaan inskryf het, het ons ʼn paar parte vir die boot by Deneysville se bootwinkel gaan koop. Almal het hand bygesit om die boot eksie-perfeksie vir die wedvaart te kry. Alexis en ek het die toue reg gekry, naaldwerk is deur Mandy behartig (ons moes ʼn nuwe tou deur die mas ryg) en John het ons, soos gewoonlik, aangemoedig. Dit was nou al laat middag en ons het gaan seil, natgereën, terug geseil en papnat op moeder aarde aangekom. Na nog n lekker braai Saterdagaand is ons almal vroeg in die bed. Praat van lesse om te leer en party van ons het Saterdagaand die opblaasmatras-blaas-gewoonlik-af-in-die-middel-van-die-nag les geleer.

Alexis en Mandy is besig om die boot reg te kry vir die volgende oggend se wedvaart

Alexis en Mandy is besig om die boot reg te kry vir die volgende oggend se wedvaart

Vroeg Sondagoggend is ons boot toe en op pad wegspringlyn toe. Soos gewoonlik is daar honderde bote op die dam, almal met dieselfde plan. Op pad het ons amper ons enjin verloor. Gelukkig kon ons betyds keer en die ou staatmaker het sommer dadelik weer gebrom en het ons betyds by die wegspring gekry. Die eerste uur of wat van die wedvaart was daar baie min wind. ʼn Storm het in LDYC se rigting gedreig en nie lank nie toe het dit begin reën. Later het dit so hard gereën dat ons nie eers land kon sien nie. Ten minste het die wind nou begin waai, eers vanuit ‘n Suidelike rigting en toe draai dit weer Oos en het toe redelik konstant gewaai vir die res van die tyd. Ons was nou agter die eiland en baie Stadt 23 bote was bymekaar en dit het die wedvaart opwindend gemaak. Alexis moes baie vinnig leer hoe die bolseil werk. Dit het aanhoudend gereën en nou en dan n weerligstraal wat slaan.

 

John en Alexis kry gou alles reg voordat ons Saterdagmiddag gaan seil.

John en Alexis kry gou alles reg voordat ons Saterdagmiddag gaan seil.

 

Met die eindstreep in sig was ons nou drie Stadt 23’s almal bymekaar. Geluk was die keer aand ons kant en die ander twee het skielik wind verloor en ons het verby geseil en voor hulle oor die eindstreep geseil. Op daardie stadium was ek nie seker hoeveel ander Stadt’s voor ons klaar gemaak het nie, maar ek het sopas uitgevind daar was net een voor ons. Ja, ons was die tweede Stadt 23 oor die lyn en 47 ste in die algehele posisie uit amper tweehonderd bote.

Oppad na die wegspring area.

Oppad na die wegspring area.

Vir die eerste keer is ons nou vier aan boord en almal baie entoesiasties. Ek hoop ons vier neem volgende jaar weer deel.

 

 

 

Etol se hol

Ek (en Ester en Karla) het vanoggend gaan protesteer teen die vervlakste e-tol! Nie die eerste keer dat ek so iets doen nie, maar ek is baie bitter oor die e-tol. Vandag se anti-etol protes aksie was eintlik deur motorfietsklubs gereël, maar motors kon ook deelneem en daar was heelwat op vier wiele.

Die SANRAL saluut

Die SANRAL saluut

Ons het vanoggend agtuur by Wemmerpan bymekaar gekom. Daar was teen die tyd alreeds so 500 mense daar. Dit was soos ‘n kermis met ʼn lekker gees onder almal. ‘n Vuur is gemaak met e-tol rekeninge, Sanral is gesalueer (dit is nou met die middelvinger). Nadat ʼn paar manne soos Wyne Duvenage van OUTA en Howerd whatever van Justice Project die gehoor toegespreek het, het ons in die pad geval.

Almal het 'n boodskap vir SANRAL gehad.

Almal het ‘n boodskap vir SANRAL gehad.

Die “Bikers” het nie veel vir die ondersteuning van die motors gevoel nie; seker maar niks nuuts nie; en vooruit gery. Die motors was nou in hul eie konvooi. Ons het vanaf Wemmerpan na die N12 wes gery en van daar op die N1 noord geklim. Die toeters het geblaas, anti-etol plakkate en vlae het gewapper en plakkers is uitgedeel sommer so in die ry. Ons het nie veel vinniger as 20 of 30 kilometer per huur gery nie en gou was daar ʼn baie lang tou van voertuie agter die konvooi.

Die konvooi

Die konvooi

Ongelukkig het die mense agter die konvooi ongeduldig geraak en ek kon dit verstaan, maar om deur die verkeer te vleg teen hoë spoed was onverantwoordelik. Ons het gesien hoe ʼn Ford Ranger voor ʼn Golf in die geelstreep injaag.

Ranger is in die rooi.

Ranger is in die rooi.

Die Golf het die Ranger ingejaag en reg voor die konvooi afgetrek. Die bestuurder van die Golf het uitgespring en begin appelswaai na die bestuurder van die Ranger. Intussen kom daar nog ʼn ongeduldige jaagduiwel in die geelstreep aan en ry die Golf se appel-swaaiende-bestuurder poerdes moerdes toe.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Hy het die appelswaaier probeer mis maar tref nog boonop die appelswaaier se Golf. Nou weet ek nie of hy vroeër ook met die Ranger kennis gemaak het nie, maar hy het dadelik uit sy motor uitgespring en die Ranger se bestuurder begin warm klap. Die twee meisies saam met hom was ook nie veel gepla oor die gesondheid van die man wat hulle sopas omgery het nie en hulle vloek en skel die Ranger.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die konvooi het so rukkie hier stilgestaan, kop geskud en weer in die pad geval. Toet-toet-toeeeet!

Stop en salueer.

Stop en salueer.

Ons het tot by Malibongwestraat saam gery en toe maar afgedraai huis toe. Dit was al amper twaalfuur en my mede aktiviste was moeg en my toeter besig om hees te raak.

My Nokkie wil vlam vat!

Sondagnag word ek gesteur deur my Nokia wat op my bedkassie lê se battery laai klank. Skielik ruik ek iets wat brand. Ek en Ester skrik ons gatte af. Met die lig aan en nou wawyd wakker besef ek die reuk kom van my selfoon af. Toe ek my selfoon optel brand dit ‘n blaas op my vinger. My selfoon het gesmelt! Die USB poort is heeltemal uit my foon uit gesmelt en sit nou aan die laai-kabel vas.

Nokia Lumia 920 smelt - voorkant

Nokia Lumia 920 smelt – voorkant

Behalwe vir die groot gat aan die onderkant van my foon, werk hy nog soos altyd. Natuurlik sal ek hom nie weer met die USB kabel kan laai nie, maar gelukkig kan die Nokia koordloos gelaai word.

Nokia Lumia 920 Smelt - agterkant

Nokia Lumia 920 Smelt – agterkant

Die kabel waarmee ek hom Sondagaand gelaai het is dieselfde kabel waarmee ek hom al die laaste ses maande laai. Ek kan ook nie dink daar was ‘n probleem met Eskom se krag toevoer nie, aangesien niks anders n probleem gegee het nie.Ek het gou op die Internet gekyk of dit al met ander mense gebeur het en so wragtig is my Nokia Lumia 920 nie die eerste wat wil vlam vat nie:

http://discussions.nokia.com/t5/Hardware-Codes-and-Operator/melted-USB-charging-port-on-920/td-p/1759980

My Nokia Lumia het 'n blaas op my vinger gebrand.

My Nokia Lumia het ‘n blaas op my vinger gebrand.

Ek gaan probeer om hom môre in te vat vir herstelwerk. Ek hoop hulle vervang hom eerder.

 

Mopaniruskamp in die Kruger

Ons het vir ‘n paar dae in die Mopaniruskamp in die Krugerwildtuin gekuier. Die besluit om te gaan was gemaak in ‘n verkeersknoop net buite Skukuza gedurende ‘n besoek vroeër tydens Paasnaweek. Paasnaweek is sekerlik die besigste tyd in die Krugerwildtuin en ek wou eerder die wildtuin besoek wanneer dit aansienlik rustiger daar is. Nog dieselfde aand na die trauma van die verkeersknoop het ons ‘n bespreking gemaak. Dit was steeds nie baie maklik om plek in die park te kry nie en die enigste plek wat ons kon kry (vir die datums wat ons kon gaan) was in die Mopani ruskamp. Ons verkies om op een plek te bly en die park daarvandaan te verken as wat ons van kamp tot kamp moet trek.

Olifant in die Letaba rivierbedding

Olifant in die Letaba rivierbedding

Mopani is in die Noorde van die Krugerwildtuin. Dit is meer as 200 km Noord van Skukuza en slegs sowat 10 km Suid van die Steenbokskeerkring. Aanvanklik wou ons by die Phalaborwahek ingaan waarvandaan die kamp net sowat 75 km is, maar my moer vir koletrokke het reeds in Witrivier ge-strip en ek het nie kans gesien om die pad tot in Phalaborwa met hulle te deel nie. Die besluit om eerder by die Krugerhek in te gaan was maklik, maar dit sou ons nou meer as 10 ure vat om tot by die kamp te kom. Sluit nog die paar uur se ry vanaf Nelspruit in dan was die eerste dag ‘n baie lang dag se ry.  Ek sal verseker volgende keer twee keer dink voordat ek so ver ry.

Heerlik ontspan en uitkyk naby die restaurant.

Heerlik ontspan en uitkyk naby Mopani se restaurant.

Uiteindelik by die kamp en ons het in ons 4 bed rondawel ingetrek. Die rondawels in Mopani is redelik modern as ‘n mens dit met ander in die Krugerwildtuin vergelyk. Die rondawel het slegs een slaapkamer, met ‘n stapelbed en ingeboudekas in die portaal. Die badkamer is ruim. Die kombuis is op die stoep – yskas, stoof en koskaste – en kan nie sluit nie. Die stoep het oor as genoeg kuierplek en koelte. Die rondawel kos ongeveer R 800 per nag en sluit slaapplek vir twee in.

Stoep van on rondawel

Stoep van ons rondawel

Die kamp se geriewe is baie modern en sluit ‘n goed toegeruste kafee, ‘n kroeg, restaurant en konferensiesentrum alles onder een grasdak in. Die kroeg en restaurant het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die Pioniersdam. Dit is heerlik om in die kamp rond te stap en daar is ‘n paar reuse kremetartbome in die kamp om te bekyk. Daar is ook ‘n wandelroete regs langs die dam en jy kom regtig naby aan krokodille, seekoeie en ander onaardige waterbewoners. Karla kon ook haar self vermaak op die springmat by die restaurant terwyl ons lekker koffie drink.

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Die omgewing van Mopani is nie vir my die mooiste in die wildtuin nie. Dit plantegroei bestaan meestal uit eentonige Mopaniwoude. Daar is ‘n kleiner verskeidenheid diere wat hier voorkom as in ander dele van die wildtuin. Hier het ons meestal olifante, buffels en waterbokke gesien en natuurlik heelwat krokodille en seekoeie in die dam. Behalwe vir ‘n paar visarende wat ons naby die dam gesien het is ander roofvoëls ook redelik skaars en ons het meestal watervoëls gesien wat naby die dam en riviere voorkom.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het drie van die verskeie sirkelroetes naby die kamp gery. Die eerste dag het ons die Shongoloroete gery wat aan die agterkant van die Pioniersdam verby gaan. Die pad se nommer is S142. Ons het heelwat bokke hier gesien, veral in die eerste paar kilometer naby die dam. Ons het uiteindelik by die Mtomenepan uitgekom en kon ons kar onder ‘n koelteboom parkeer en die die diere dophou en piekniekkos eet. Verder aan is die Uitspanpan waar ons ‘n paar olifante sien bad het, hier het ons minder watervoëls as by Mtomenepan gesien.

Renoster met horings

Renoster met horings

Die tweede dag het ons Noord gery en die Red Rock roete naby Shingwedsi gedoen (S52). Die plan was om na die roete via Shingwedsi terug te ry Mopani toe langs die Shingwedsirivier op die S50, maar die pad en die kamp was gesluit na die vloede in die omgewing vroeer in die jaar en ons moes maar met die teerpad terug ry Mopani toe.

Wildehonde naby Skukuza

Wildehonde naby Skukuza

Op pad terug huis toe het ons die onderste deel van die Steenbokskeerkringroete gery en dit was duidelik dat ons hierdie roete sommer eerste moes doen. Daar was heelwat watergate en dit was sommer baie besig met diere. As ek weer in hierdie omgewing is sal graag die hele roete wil ry. Die roete is op die S143.

Karla voer 'n bokkie in Letabakamp

Karla voer ‘n bokkie in Letabakamp

Op pad terug het ons ‘n lekker ontbyt by Letaba geëet en het die res van die dag rustig deur die wildtuin gery en meeste van die pad op grondpaaie gery. Een van die hoogtepunte was ‘n luiperd wat ons oor die pad sien stap het, maar hy het ongelukkig te vinnig in die bosse in verdwyn vir ‘n foto. Dit was die eerste luiperd wat ek in ‘n baie lang ruk gesien het. Ons is net voor ses uur by die hek by Numbi uit.