Crook’s Corner in die Kruger

Crook’s corner is daar waar Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe bymekaarkom, langs die plek waar die Limpopo en die Luvhuvhurivier bymekaarkom in die Krugerwildtuin. In die mees Noord-Oostelike hoekie van Suid-Afrika. Crook’s Corner is een van die mooiste plekke waar ek al was!

Blouwildebees

Blouwildebees wei in die gras

Hier is daar hordes trosvyebome, Jakkalbessiebome, reuse kremetartbome, n hele woud koorsbome en groen grasvelde en dit als lok natuurlik baie diere na die omgewing toe. Die rivier is vol krokodille en seekoeie. Bokke, buffels, olifante het baie plek om hier te wei. Van die grootste troppe buffels en olifante in die Krugerwildtuin kom in die omgewing voor. Vlakvarke en troppe bobbejane is oral hier te sien. Die omgewing is ook bekend vir die groot verskeidenheid voëlspesies wat hier voorkom.

Olifant naby Crook's Corner

Olifant naby Crook’s Corner

In die ou dae – voor behoorlike grensbeheer –  was hier ‘n baken wat die hoek van die drie lande aangewys het. As jy jou dalk in die moeilikheid met die gereg bevind kon jy by hierdie punt net na ‘n ander land toe oorstap en die gereg kon niks aan jou doen nie. In die vroeë 1900’s is die gemak om van een land na ‘n ander te kan stap, natuurlik deur wapensmokkelaars en wildstropers uitgebyt. Dit is hoe Crook’s Corner sy naam gekry het.

Reuse bome naby Crook's Corner

Reuse bome naby Crook’s Corner

Om daar te kom ry jy so paar kilometers verby die Pafuri-piekniekplek in ‘n Oostelike rigting in. Jy ry onderdeur die majestuese bome deur tot by die Limpoporivier. Terwyl ons in Desember in Tshipise vakansie gehou het, het ons die Krugerwildtuin twee keer besoek en albei kere is ons Crook’s Corner toe. Dit is waarlik ‘n plek om te besoek as jy jouself in die noordelike dele van die Krugerwildtuin bevind.

Hierdie video is van die laaste paar honderd meter tot by Crook’s Corner:

 

Mopaniruskamp in die Kruger

Ons het vir ‘n paar dae in die Mopaniruskamp in die Krugerwildtuin gekuier. Die besluit om te gaan was gemaak in ‘n verkeersknoop net buite Skukuza gedurende ‘n besoek vroeër tydens Paasnaweek. Paasnaweek is sekerlik die besigste tyd in die Krugerwildtuin en ek wou eerder die wildtuin besoek wanneer dit aansienlik rustiger daar is. Nog dieselfde aand na die trauma van die verkeersknoop het ons ‘n bespreking gemaak. Dit was steeds nie baie maklik om plek in die park te kry nie en die enigste plek wat ons kon kry (vir die datums wat ons kon gaan) was in die Mopani ruskamp. Ons verkies om op een plek te bly en die park daarvandaan te verken as wat ons van kamp tot kamp moet trek.

Olifant in die Letaba rivierbedding

Olifant in die Letaba rivierbedding

Mopani is in die Noorde van die Krugerwildtuin. Dit is meer as 200 km Noord van Skukuza en slegs sowat 10 km Suid van die Steenbokskeerkring. Aanvanklik wou ons by die Phalaborwahek ingaan waarvandaan die kamp net sowat 75 km is, maar my moer vir koletrokke het reeds in Witrivier ge-strip en ek het nie kans gesien om die pad tot in Phalaborwa met hulle te deel nie. Die besluit om eerder by die Krugerhek in te gaan was maklik, maar dit sou ons nou meer as 10 ure vat om tot by die kamp te kom. Sluit nog die paar uur se ry vanaf Nelspruit in dan was die eerste dag ‘n baie lang dag se ry.  Ek sal verseker volgende keer twee keer dink voordat ek so ver ry.

Heerlik ontspan en uitkyk naby die restaurant.

Heerlik ontspan en uitkyk naby Mopani se restaurant.

Uiteindelik by die kamp en ons het in ons 4 bed rondawel ingetrek. Die rondawels in Mopani is redelik modern as ‘n mens dit met ander in die Krugerwildtuin vergelyk. Die rondawel het slegs een slaapkamer, met ‘n stapelbed en ingeboudekas in die portaal. Die badkamer is ruim. Die kombuis is op die stoep – yskas, stoof en koskaste – en kan nie sluit nie. Die stoep het oor as genoeg kuierplek en koelte. Die rondawel kos ongeveer R 800 per nag en sluit slaapplek vir twee in.

Stoep van on rondawel

Stoep van ons rondawel

Die kamp se geriewe is baie modern en sluit ‘n goed toegeruste kafee, ‘n kroeg, restaurant en konferensiesentrum alles onder een grasdak in. Die kroeg en restaurant het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die Pioniersdam. Dit is heerlik om in die kamp rond te stap en daar is ‘n paar reuse kremetartbome in die kamp om te bekyk. Daar is ook ‘n wandelroete regs langs die dam en jy kom regtig naby aan krokodille, seekoeie en ander onaardige waterbewoners. Karla kon ook haar self vermaak op die springmat by die restaurant terwyl ons lekker koffie drink.

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Die omgewing van Mopani is nie vir my die mooiste in die wildtuin nie. Dit plantegroei bestaan meestal uit eentonige Mopaniwoude. Daar is ‘n kleiner verskeidenheid diere wat hier voorkom as in ander dele van die wildtuin. Hier het ons meestal olifante, buffels en waterbokke gesien en natuurlik heelwat krokodille en seekoeie in die dam. Behalwe vir ‘n paar visarende wat ons naby die dam gesien het is ander roofvoëls ook redelik skaars en ons het meestal watervoëls gesien wat naby die dam en riviere voorkom.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het drie van die verskeie sirkelroetes naby die kamp gery. Die eerste dag het ons die Shongoloroete gery wat aan die agterkant van die Pioniersdam verby gaan. Die pad se nommer is S142. Ons het heelwat bokke hier gesien, veral in die eerste paar kilometer naby die dam. Ons het uiteindelik by die Mtomenepan uitgekom en kon ons kar onder ‘n koelteboom parkeer en die die diere dophou en piekniekkos eet. Verder aan is die Uitspanpan waar ons ‘n paar olifante sien bad het, hier het ons minder watervoëls as by Mtomenepan gesien.

Renoster met horings

Renoster met horings

Die tweede dag het ons Noord gery en die Red Rock roete naby Shingwedsi gedoen (S52). Die plan was om na die roete via Shingwedsi terug te ry Mopani toe langs die Shingwedsirivier op die S50, maar die pad en die kamp was gesluit na die vloede in die omgewing vroeer in die jaar en ons moes maar met die teerpad terug ry Mopani toe.

Wildehonde naby Skukuza

Wildehonde naby Skukuza

Op pad terug huis toe het ons die onderste deel van die Steenbokskeerkringroete gery en dit was duidelik dat ons hierdie roete sommer eerste moes doen. Daar was heelwat watergate en dit was sommer baie besig met diere. As ek weer in hierdie omgewing is sal graag die hele roete wil ry. Die roete is op die S143.

Karla voer 'n bokkie in Letabakamp

Karla voer ‘n bokkie in Letabakamp

Op pad terug het ons ‘n lekker ontbyt by Letaba geëet en het die res van die dag rustig deur die wildtuin gery en meeste van die pad op grondpaaie gery. Een van die hoogtepunte was ‘n luiperd wat ons oor die pad sien stap het, maar hy het ongelukkig te vinnig in die bosse in verdwyn vir ‘n foto. Dit was die eerste luiperd wat ek in ‘n baie lang ruk gesien het. Ons is net voor ses uur by die hek by Numbi uit.