Op teen Mariepskop

As jy al ooit die Panorama roete gery het – dis nou die baie bekende roete vanaf Graskop verby al die watervalle, God’s Window en die Drie Rondawels, het jy al Mariepskop gesien al weet jy dit nie. Dis die hoogste punt aan die oorkant van die Canyon. Dis die kop met al die telekommunikasietorings op. Ek het die laaste paar jaar al hoe meer foto’s van Mariepskop gesien en meer oor Mariepskop op die Internet gelees. Dit als het my oortuig om Mariepskop self te gaan besoek.

Oppad op teen Mariepskop

Oppad op met die sementpad.

Verlede week het ons ‘n paar dae gaan uitspan by die Blyde Canyon oord. Die oord is deel van die Forever Resorts groep wat ook ‘n ander oord in die omgewing besit, naamlik Swadini, en dit is een van my gunsteling kampplekke in Suid-Afrika. Die Blyde Canyon en Swadini is soos die kraai vlieg skaars 10 kilometer uitmekaar uit, maar amper ‘n 100 kilometer padlangs.

Tyd om ietsie te drinkbo op Mariepskop

Tyd om ietsie te drink

Na die lekker kuiertjie by die Blyde oord was dit tyd vir oppak en ons het ‘n goue geleentheid om die langer pad terug te vat Nelspruit toe. Almal het ingestem en ons is weg. Ons is eers Swadini toe vir middagete en toe uiteindelik kon ek Mariepskop gaan verken. Aangesien die area in ‘n natuurreservaat is was ek onseker oor toegang. Ek het die bosboustasie se nommer op die Internet gekry en hulle gekontak. Hulle het aanbeveel dat ek met ‘n gids reël om saam te kom. Hulle het vir my Jeff se nommer gegee. Ek het met Jeff gereël om ons langs die pad te ontmoet.

Mariepskop kommunikasietorings

Torings

Om daar te kom het ons vanaf Swadini Klaserie toe gery en daar regs gedraai op die Mariepskoppad (by die “One Stop”). Ons het so 10 kilometer grondpad gery voordat ons Jeff langs die pad sien staan het. Ons het elk ‘n permit teen R30 by Jeff gekoop. Ek het ‘n idee dit is nie offisiële permitte nie, alhoewel Jeff anders belowe het. Jeff het saam met ons tot by ‘n sekuriteitshek gery, so 12 kilometer verder. Hy het ons vertel wat om te verwag en ons ingelig oor die plante, voëls en diere wat hier voorkom. Jeff het ‘n ongelooflike kennis van die gebied gehad.

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting vanaf Mariepskop

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting

Die pad opwaarts is baie styl. Aanvanklik is dit grondpad, maar sowat 5 kilometer van bo af word dit ‘n baie kronkelrige sement pad. Klaserie is sowat 600 meter bo seevlak en uiteindelik bereik jy ‘n hoogte van 1 935 meter bo seevlak. Die hoogste punt op die kop is 1 944 meter bo seevlak. Die sementpad is nou, maar in ‘n baie goeie toestand en veilig om te ry.

Mariepskop uitsig

Amper 2 000 meter bo seevlak

Bo op kon ons uitklim en verken. Die uitsig is fantasties! Op ‘n helder dag kan jy blykbaar Maputo van daar af sien. Die plantegroei is ook ongelooflik. Daar is meer as 2 000 plantspesies op Mariepskop alleen insluitend fynbos, meer as in die hele Krugerwildtuin en baie meer as wat daar op Tafelberg voorkom. Die unieke plantegroei op die berg lok natuurlik baie interessante voëlspesies. Die Samango apie kom ook hier voor.

Fantastiese uitsig vanaf Mariepskop

Fantastiese uitsig

Vanweë die hoogte en ligging van die kop is daar reeds in die laat 1950’s ‘n radarstasie deur die lugmag hier gebou. Meeste mense het gedink dit sal onmoontlik wees om ‘n pad tot bo op die berg te bou, maar hulle is verkeerd bewys. Die radarstasie is amptelik in 1965 geopen. Sederdien het al wat ‘n kommunikasie maatskappy ‘n toring hier kom oprig.

Mariepskop plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Ons kon maar slegs ‘n uur of twee hier bo bly voordat ons weer die pad moes vat Nelspruit toe. Ek is seker daar is nog baie om te verken. Ek beplan reeds ‘n naweeklange besoek aan die berg.

Mariepskop kronkelpad

Kronkelpad af

As jy ‘n gids benodig kan jy gerus vir Jeff bel. Hy het waardevolle kennis van die area en ook van die fauna en flora wat hier voorkom. Hy kan gekontak word op 072 995 5441. Jy kan ook die bosboustasie bel vir meer inligting: 015 793 2581.

Avontuur langs die rivier

Hansie se troue was op hulle plaas, wat deel is van die uMkhunyane Natuurreservaat, naby Piet Retief gehou. Ons het die Vrydag middag gery en het saam met Vincent en ‘n paar druppels reën daar aangekom. Vincent-hulle sou saam met ons by Alwin se kamp, ‘n jagkamp op die plaas, gaan bly vir die naweek. Ons het vinnig vir Hansie-hulle gegroet en het dadelik in die baie klipperige pad geval. Die jagkamp was ‘n uur se ry vanaf die troue hoofkwartier (HK) af.

Ons het net betyds by die jagkamp aangekom, want oomblikke later het dit baie hard begin reën. Ons het afgepak en vir die res van die aand hoog en droog onder ‘n grasdak langs die vuur gekuier. Meeste van ons het redelik vroeg gaan slaap, want ons moes die volgende oggend  vyfuur reeds opstaan om seweuur by die seremonie te wees.

Die samentbrug

Die oorgang in droër tye (foto uMkhanyane.co.za)

Ons is effe laat by die kamp weg. ‘n Paar honderd meter vanaf die kamp is ‘n stroompie water wat ons reeds die vorige aand moes oorsteek om daar te kom, maar na al die reën het dié skielik in ‘n monster verander. Ek het voor gery en by die rivier in die reën gestop en uitgeklim om seker te maak my oë bedrieg my nie. Ek ken moeilikheid as ek dit sien! Terwyl ek nog gewonder het of ons dit moet waag om die rivier aan te durf en of ons dalk ‘n alternatiewe roete moet soek, jaag Vincent verby my, by die wal af en in die rivier in. Die manier waarop sy bakkie by die modderige pad afgegly het, het my laat besef hy sal nie weer met dieselfde pad kan terug kom nie. Enigste uitweg was voorentoe.

Vincent het dadelik sy kerkskoene uitgetrek en sy broek opgerol en voor hulle bakkie ingespring om vir Maggel die pad aan te dui en seker te maak dat sy nie die sementbrug, wat nou heeltemal onsigbaar is nie, mis ry nie. Hulle het dit redelik maklik deur die rivier gemaak. Dit was ‘n groot verligting en dit was nou my beurt. Vincent het kom help en ek het ook maklik deur gery. Ester, wat reg agter my gesit het, was op hierdie stadium baie stil.

 

Vincent se bakkie

Modder 1 Vincent se bakkie 0

Die wal aan die ander kant was styl en snotglad van die modder. Die water het by die wal afgestroom en Vincent kon nie opry nie. Sodra hy naby die stylte kom het sy wiele begin gly. Die pad was ook te nou om, om te draai. Ek het uitgeklim, skoene uitgetrek, broek opgerol en probeer help, maar saam kon ons nie veel uitrig nie. Dit was duidelik dat ons nie sonder ‘n baie lang tou en iets om die tou aan vas te maak Vincent se bakkie by die wal gaan uitkry nie.

Al wat ons nou kon doen is om die bakkie te los en my kar te gaan hulp soek – dis nou as ons my kar met sy 4×4 by die wal kon uitkry. Ons was ook redelik seker dat daar op hierdie stadium geen soekgeselskap vir ons uitgestuur gaan word nie aangesien die seremonie reeds begin het. Een klein probleempie: my kar was agter Vincent se bakkie in die rivier parkeer.

Vincent se bakkie

Kyk hoe sterk vloei die rivier

Ek het dit reggekry om aan die regterkant verby Vincent se bakkie te kom en op ‘n modderbank sowat een en ‘n half meter hoër as die pad te lande te kom. Elke keer as ek voerentoe probeer ry dan begin my kar sywaarts pad se kant toe gly. Ester was nou nie meer stil nie. Ons moes terug pad toe, maar kon op die stadium nie voorentoe of agtertoe nie – kant toe was die enigste manier. Ons het toe begin gly en beland toe weer in die pad. Ons was baie gelukkig dat die kar nie omgekantel het nie. Die kar kon gelukkig die bult uit en Ester het die eerste keer in ‘n lang ruk ophou hardop bid.

Ons was onseker watse hindernisse ons nog vorentoe sal moet oorsteek, dus was dit belangrik dat Vincent saam met my terug HK toe. Een vir almal en almal vir een is ons al sewe in my kar en sonder enige verdere insidente terug HK toe.

Toe ons uiteindelik by die seremonie aankom was ons betyds om te hoor hoe Hansie en sy pragtige vrou mekaar die trou belowe. Die dominee het ook verduidelik as tye goed gaan ons nooit ‘n tou in ons 4×4 hou nie. Ek het dit heeltemal van pas gevind.

Uitgekom

Uiteindelik uit.

Ons het later die middag gery om Vincent se verlate bakkie te gaan haal. Dit was aansienlik droëer gewees en hy kon self die bult uit ry. Ons is terug HK toe en het die res van die dag gebraai en gekuier. Die vroeë oggend avontuur was net nog ‘n klein gedeelte van Hansie-hulle se wonderlike troue.

Op die video hieronder kan julle sien hoe sterk die rivier vloei en hoe lekker dit gereën het.

 

Karla gaan skool toe

Ek dink al die laaste twee weke net aan vandag. Die dag wat ons vir Karla alleen tussen vreemde mense moes los. Karla het verskriklik gehuil toe ons haar vanoggend by die skool gaan aflaai het. Sy was ook nie die enigste een nie, dit het geklink of die hele skool gehuil het! Ongelukkig is daar nie ‘n ander alternatief nie, Karla soek nou maaitjies. Sy sal dit verseker by hierdie skooltjie kry en ek is seker sy sal dit hier geniet.

Karla en Ester voor Klein Fonteintjies

Eerste dag by die skool

Van wat ek vandag gesien het lyk die skool baie oulik. Die skool is so vyf kilometer van ons huis af. Daar is baie kinders daar van alle ouderdomme (voor-skool natuurlik). Karla kry elke dag ‘n ontbyt, verversings en middagete daar. Daar is baie speelgoed en klimrame vir die kinders. Personeel lyk almal vriendelik (al het die kinders so geskreeu). Klik gerus hier om te sien wat die skool alles aanbied.

Karla voor Klein Fonteintjies

Wat se plek is hierdie?

Ek en Ester is albei vanmiddag bietjie vroeër van die werk af weg om vir Karla te gaan oplaai. Toe sy ons sien het sy dadelik begin huil. Sy het darem so een of twee keer al iets te sê gehad oor die skool, maar dis al. Ek is seker sy gaan môre weer kwaad wees as ons haar daar aflaai en dalk nog meer die dag daarna. Dit gaan seker maar erger raak voordat dit  beter gaan raak.

Beste manier om in die Kaap te kom

Wou jy al ooit met die trein af Kaap toe ry, maar het altyd gewonder of dit veilig is, skoon is, lekker is? Die antwoord is heel eenvoudig; ja, dit is! Vir nie baie meer as ‘n vliegtuigkaartjie nie kry jy vyf-en-twintig uur se rus vir die siel, heerlike kos en ‘n kans om terug te sit en by die venster uit te staar na ‘n landskap wat deurentyd verander.

Shozaloza Meyl reg om te vertrek vanuit Johannesburg

Vertrek vanaf Parkstasie

Ons het in Desember die Volvo seiljagwedvaart gaan kyk wat in Kaapstad aangedoen het na die eerste been. Dit was Desember so ons wou ons naweek in Kaapstad ‘n bietjie rek en het besluit om met die trein af te ry eerder as om Kaapstad toe en terug te vlieg. Ek het al voorheen op ‘n trein gery, maar Ester kan amper nie onthou het wanneer sy laas haar voet op ‘n trein gesit het nie. Boonop vat ons ‘n twee-jarige dogtertjie saam wat enige tyd kan besluit treinry is nie vir haar nie. Ons het glad nie geweet wat om van die treinrit te verwag nie. Ons was aangenaam verras…

Uitgestrek in die Shozaloza Meyl kompartement

Ons kompartement

Die Shozaloza Meyl (premier klas) vertrek Donderdae en Sondae vanaf Parkstasie. Ons het die Donderdag vertrek. Die laaste keer wat ek op Parkstasie was, was toe ek, JJ en Yvette met die trein Mosselbaai toe was, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Shozaloza Meyl sitkamer area

Die sitkamerwa

Parkstasie is baie besig en ‘n mens hou maar jou goedjies outomaties ‘n bietjie stywer vas. Eers in die premierklas se sitkamer kon ons ontspan en ons opgewondenheid met ons medepassasiers deel terwyl ons ‘n versnapering geniet. Ons bagasie was reeds in ons kompartement toe ons opklim. Stiptelik drie uur het die treinbestuurder sy fluitjie geblaas en die trein het vertrek.  Ons is dadelik genooi vir sjampanje en biltong in die sitkamerwa waar hulle ons amptelik op die trein verwelkom het, hulle aan ons voorgestel het en vertel het hoe alles op die trein werk en hoe laat ons etes is.

Uitsig vanuit die Shozaloza Meyl

Mooi landskap

Die kompartement het drie beddens, genoeg plek vir al ons bagasie (insluitend twee reuse tasse, Karla se stootwaentjie en ‘n skouersak of twee), ‘n kassie waarin jy eetgoed of wat ook al kan bêre en ‘n tafel. Daar is lugversorging in en selfs ‘n 220v kragprop. Elke bed het ‘n leeslampie. Die kompartement is klein maar gerieflik en het volvloermatte. Alles is goed in stand gehou en skoon. Die toilet en stort word met ander kompartemente op jou wa gedeel. Die toilet was baie skoon en anders as in die ou dae spoel die toilet soos die een by jou huis en maak nie net met ‘n valdeurtjie oop nie.

Etenstyd op die Shozaloza Meyl

Ester verduidelik

Al die maaltye en verversings is in die prys ingesluit en in die vyfentwintig uur op die trein kry jy ‘n vyfgang-aandete, ‘n Engelse ontbyt, middagete en tee en koek tussin in. Jy kan ook enige tyd ietsie koels van die kroeg af bestel op jou eie rekening. Aandete was ongelooflik, nie net die kos nie, maar die feit dat jy in ‘n trein sit erens in die Wes-Transvaal en rustig kan eet, rooiwyn drink en gesels. Romanties som dit eintlik beter op.

Op die Shozaloza Meyl trein

Karla speel in die gang

Terwyl jy aandete eet, maak die personeel solank jou bed op. Daar was selfs ‘n spa-wa aangehak en Ester het na ete vir ‘n masering gegaan. Die slaap was iets waarna ek uitgesien het. Klikke-die-klik, klikke-die-klik en daars ons al drie van ons aan die slaap.

Die eetsalon op die Shozaloza Meyl

Die eetsalon

Die volgende dag het ons tussen etenstye in die kompartement kom ontspan of in die sitkamerwa gaan kuier. Ester het ‘n boek gelees, ek het ‘n fliek op my lappie gekyk en Karla het op en af in die gang gehardloop. Ander mense het kaart gespeel, ‘n paartjie het mekaar ge-BBM en ‘n ander gesin het lekker saam om ‘n tafel gekuier. Daar was heelwat mense op die trein, maar dit het nooit so gevoel nie.

Uitsig vanaf die Shozaloza Meyl

Naby die Kaap

Heeldag kon ons die Karoo landskap bewonder en nou en dan vir die arme mense wat by ‘n ry/go op die N1 staan en wag lag en waai terwyl ons in lugversorgde treinwa verby gly. Ons het deur die langste tonnel in die land gery, gekronkel deur die Hexriviervallei. Hoe nader ons aan die Kaap gekom het hoe mooier het die uitsig geraak.

Net voor die Kaapstadstasie in die Shozaloza Meyl

Net voor Kaapstadstasie

Later Vrydag middag het ons by Kaapstadstasie aangekom.  Net betyds – nie te lank nie en nie te kort nie. Trein ry Kaapstad toe is definitief die moeite werd en ek kan dit aan enige iemand aanbeveel. Ek sal dit weer doen. Jou vakansie begin reeds op Parkstasie.

Ron Roseveare Nagresies

Hierdie was die derde jaarlikse Ron Roseveare nagresies en dit was ook die derde keer dat ek deel geneem het. Ek het soos gewoonlik saam met Doug op sy boot Sea Quill geseil. Hierdie jaar was ons 6 op die boot (dit sluit natuurlik Neville, Doug se 5 jarige seuntjie in).

Sea Quill bemanning

Die Ron Roseveare resies begin gewoonlik 16:30 namiddag vanaf die Weste kant van die dam en kronkel heen en weer oor die dam tot by die eindpunt by PNYC wat naby die invloei van die Wilgerivier is. Die roete is ongeveer 40 myl ver. Die resies is vernoem na ‘n lid van die PNYC wat verdrink het tydens een van die klub se uithou wedvaarte. PNYC bied die resies elke jaar aan.

20 bote het ingeskryf

Nadat Peter uiteindelik opgedaag het, het ons so gou moonltlik na die ander kant van die dam vertrek. Dit vat meer as ‘n uur om vanaf PNYC na DAC met die motor te vaar. Ons wou vroeg daar wees sodat ons lekker kon ontspan en braai voor die resies begin.

Wag alweer vir Peter

Ons het ‘n paar biere by DAC gedrink en toe gaan braai. Die weer was wonderlik, daar was wind en dit was so warm soos dit maar in Augustus raak. Na die braai het ons die resiesoorsig gaan bywoon, voordat ons na die wegspringboei gevaar het. Daar het twintig bote ingesrkyf so die wegspring area het vinnig begin besig raak. Die deelnemers was van alle grote en vorige wenners soos Baleka was soos gewoonlik ook daar.

Kevin braai te lekker terwyl Neville toekyk

Met die wegspring was ons eerste oor die lyn en was vyfde om die eerste merk (na die vier moderne bote ons verby gesteek het). Met sonsondergang het die wind gaan lê. Ek dink die hele vloot het gedink dit is die einde van die wedvaart en ‘n herhaling van laas jaar, maar skielik het die wind weer begin waai. Dit het baie gedraai en die windspoed was baie wisselvallig, maar ons was te dankbaar vir wat ons kon kry. Die wind het die res van die aand aanhou draai en sterk gewaai dan heeltemal ophou waai. Dit het beteken dat Peter en Kevin hard moes werk om seile te wissel.

Wind raak stil

Ons het net na twee uur in baie koue weer klaar gemaak. Ons was vyfde oor die eindstreep, maar het algeheel vierde geëindig volgens voorgee. Nadat ons warm sop by die Klub gaan eet het, het ek huistoe gery. Wat het ek Sondag gedoen? Geslaap!