Klein Paradys Nylstroom

Ek het al baie gehoor hoe lekker dit is om by Klein Paradys te kamp. Toe iemand onlangs dit weer vir my noem het ek besluit om sommer dadelik te bespreek. Ek is reguit na hul webwerf (kleinparadys.co.za) om die nommer te kry en het bespreek of so het ek gedink.

Swembad in die middel van die kamp

Swembad in die middel van die kamp

Toe ek die besprekings besonderhede kry via epos word daar in rooi gemerk dat ek moet kennis neem dat dit nie die Klein Paradys naby Brits is nie, maar wel Klein Paradys naby Nylstroom. Ek het besef die Klein Paradys waarvan ons so baie gehoor het is die een naby Brits. Ek kon vinnig vasstel dat hulle webwerf kleinparadys.com is. Ons het besluit ons gaan sommer na beide.

Ons OzTent word gebruik.

Ons OzTent word gebruik.

Ons het Vrydagmiddag so drie uur uit Johannesburg vertrek. Dis al die pad met die N1 tot by die Kranskop tolplaza en draai dan links na Nylstroom (Modimolle) en dan weer die eerste pad links. Ons het die Klein Paradys Gasteplaas baie maklik gekry en ons was net so na vyf uur al daar gewees reg om kamp op te slaan.

Die parkie

Die parkie

Die lowergroen grasperk met baie skaduwee onder hoë bome het ons dadelik opgeval terwyl ons ons staanplek soek. Ons het dadelik afgepak en begin kamp opslaan – wat deesdae baie makliker gaan vandat ons ‘n OzTent RV5 het. Ons kon gelukkig nog hout koop by die opsigter, want die winkeltjie sluit reeds 4 uur smiddae. Ons het die vuur aan die brand gesteek en begin kos maak. Dit was nou al amper donker en ons het besluit om eers die volgende oggend die res van Klein Paradys te verken. Dit was heerlik stil en warm buite en die aand het ons buite gesit, geëet en gekuier.

Die verhitte swembad

Die verhitte swembad

Saterdag het ons die kamp verken, geswem, Nylstroom toe gery, terug gekom en luilekker rond gesit. Karla het maatjies gemaak en hulle het amper heeldag in die parkie gespeel. Sy het ook ‘n rondte putt-putt gespeel. Ons het later weer gaan swem en toe weer gebraai.

Sonsopkoms

Sonsopkoms

Sondagoggend was ons vroeg wakker. Dit was nog donker buite. Ester merk beweging in die boom op.Ek gaan loer buite net toe daar ‘n nagapie op ons tafel spring. Hy was nie eers bang vir my nie en ek het tyd gehad om Ester se flits te gaan haal. Daar het intussen nog een op die tafel gespring en eers toe ek die flitslig op hulle skyn het hulle in die boom in gevlug.
Putt-putt baan

Putt-putt baan

Ons het in die verhitte swembad gaan swem voordat ons ontbyt gemaak het. Na ontbyt het ons begin oppak. Ons is laat oggend daar weg.
Ester sit op die stoep

Ester sit op die stoep

Ons het R295,00 per nag betaal vir ‘n kampeerplek met krag. Die kampeerplek sluit 4 mense, ‘n kar en tent of karavaan in. Die prys is buite seisoen. Sal ons weer soentoe gaan? Ja beslis, as ons weer opsoek is na n niksdoen naweek, miskien ook selfs in die winter, wanneer dit heerlik sal wees om in die verhitte swembad te swem.