Vakansie saam met Soekie-hulle

As gevolg van my en Ester se besige werk skedules (ek wou dit nog altyd sê) het dit baie beplanning gekos om vir meer as twee weke Namibië toe te gaan, maar ons het dit op een of ander manier reg gekry en dit was alles die moeite werd gewees.

Owen, Liam en Soekie

Owen, Liam en Soekie

Ons is 3 uur Sondagoggend die 12de Desember hier weg oppad na ons eerste bestemming – Soekie-hulle se plaas naby Gobabis. Dit het feitlik vanaf ons huis tot sowat 150 km duskant Kang gereën. Dit het natuurlik dinge ‘n beitjie moeilik gemaak vir die bestuurder, maar dit het gesorg dat dit lekker koel was in die kar. Toe die son eindelik uitkom het die temperatuur in minder as 15 minute van 23 grade C tot 33 grade C geklim. Nou het dit meer soos die pad deur Botswana gelyk en gevoel. Voordat ons vertrek het, het ons albei gewonder of Karla die baie ryery gaan geniet, maar sy was stroop soet. Die hele pad en ons was sooo dankbaar daarvoor.

Die Bul van die plaas

Die Bul van die plaas

Ons was net na drie uur by die Namibiese grenspos. Daar het dit ons amper ‘n uur geneem om al die papier werk af te handel en dit alles terwyl daar ‘n klein orkaantjie buite besig was om uit te woed. Ons het so kwart oor vyf by Soekie-hulle aangekom waar sy en Willem vir ons op die stoep staan en wag het, soos regte boeremense maar moet. Na ‘n vinnige opvang en ete het ek, Ester en Karla sommer vroeg in die bed gaan spring. Dit was ‘n lang dag en ons was baie moeg.

Spitzkoppe naby Hentiesbaai

Spitzkoppe naby Hentiesbaai

Die volgende paar dae het ons heerlik op die plaas onstpan en nie veel gedoen nie behalwe lekker gekuier en natuurlik lekker geëet. Ons het elke aand verskriklik lekker geëet. Het ek genoem dat ons lekker geëet het? Die mense op hierdie plaas weet van kos maak! Hoender, vis, Mexikaans was onder andere op die spyskaart. Die Donderdag was ons Gobabis toe om die Cruiser te diens en dan sommer te gaan kyk hoe dit daar lyk. Daar gaan minder aan as wat daar op die plaas aangaan. Al wat nogal beïndruk het is die plek waar jy ‘n hoenderburger kan koop vir R 9,99 en die burger is nogal lekker ook.

Huis in Henties

Huis in Henties

Ons is die Vrydagoggend vroeg by die plaas weg see toe. Ek het nou vir die eerste keer baie uitgesien om weer bietjie die see te sien en te ruik en op die sand te sit en al die ander dinge wat die Namibiese kus so lekker maak. Soekie, Owen, Liam en die hond het in die Cruiser gery. Ek, Ester en Karla in die Fortuner en Willem in sy werksbakkie met al die speelgoed (quidbike, fietse, visstokke) agter op. Willem moes eers Vrydagoggend ‘n vandisie bywoon voordat hy vanaf Gobabis sou vertrek. Op Windhoek was ek en Ester gou in ‘n rekenaarwinkel in om vir Liam ‘n Wii namens Soekie-hulle te gaan koop. Nadat ons brandstof vol gemaak het is ons daar weg en dit was eintlik die enigste keer wat ons gestop het. Ons was almal so vyfuur daardie middag veilig in Hentiesbaai gewees.

Willem vang vis

Willem vang vis

Ons was dadelik strand toe om vir Karla aan die see en sand te gaan voorstel. Sy was aanvanklik bietjie skrikkerig, maar het sommer gou die lekkerte van in die sand speel ontdek. Die volgende dag het ons gaan visvang. Ons almal weet ek is nie die wêreld se grootste visserman nie, maar om in Henties vis te vang is vir my baie spesiaal. Ek kan nog goed onthou hoe lekker ek as kind daar visgevang het. Baie vis en grotes ook. Aan die einde van die vakansie het ek baie gaan vis vang, maar nie een keer ‘n vis gevang nie. Dit was nog steeds lekker!

Pret op die strand

Pret op die strand

Orton het intussen van die Kaap af ‘n dag vroeg daar aangekom en ons almal “verras”. Ons almal het eintlik geweet hy kom daai aand al. Die volgende paar dae het ons almal lekker saam gekuier, geëet en gedoen wat mens maar op Hentiesbaai doen. Na ‘n baie lekker vakansie saam met Soekie-hulle was dit ongelukkig tyd om hulle te groet. Hulle het nog so week op Henties oor gehad en ons is daar weg (nadat ons vir Karla van Soekie moes losskeur) Swakopmund toe vir ‘n paar dae.

Karla speel in die sand

Karla speel in die sand

Ek is mal oor Swakopmund en dit was weer lekker om in die dorp in te ry. Ek was verbaas om te sien hoe die dorp gegroei het. Daar was ‘n hele buurt waar daar vyf jaar gelede ‘n strand en ‘n karavaanpark was. Die ou deel het darem min of meer dieselfde gelyk. Ons het sommer dadelik vir Louis Ludik-hulle gekontak om saam met ons iets te gaan eet by die Mole. Na ‘n onderonsie met mede toeriste oor sitplek by ‘n kafee het ons sommer by die Lighthouse gaan plek soek en iets daar geëet waar Ludik-hulle by ons aangesluit het. Ons het die volgende twee dae onder meer gaan visvang, Walvisbaai toe gery en duine gaan klim en lekker saam met die Ludiks gekuier.

Uitsig van Louis-hulle se huis

Uitsig van Louis-hulle se huis

Ons is redelik vroeg op die 24ste uit Swakop weg en het die woestynpad aangepak tot by Sesriem. Ons het besluit om ons self vir Oukersaand te bederf en het onsself in die luukse Sossusvlei Lodge ingeboek. Ons het laat daardie selfde middag na Sossusvlei gery. Ons was heeltemal alleen by die vlei, heeltemal anders as toe ons voorheen daar was en amper vertrap was. Ons het lekker tussen hierdie masiewe duine piekniek gehou terwyl Karla in die sand gespeel het. Dit was dood stil en wonderlik daar!

Alleen by Sossusvlei

Alleen by Sossusvlei

Terug by die lodge het ons gou onder die stort van al die sand ontslae gaan raak en onsself mooi aangetrek. Dit was laat skemer toe die drie van ons gaan aansit vir ‘n lekker Oukersaandete by die restaurant onder die sterre in die middel van die Namib. Ons het soos konings geëet en ‘n bottel koue witwyn saam met die ete geniet.

Kersfees ontbyt met 'n uitsig

Kersfees ontbyt met 'n uitsig

Kersdag het ons drietjies lekker ontbyt gaan eet. Ons het toe Suid gery met die doel om Kersaand êrens naby Ai-Ais te slaap. Toe ons weer teerpad sien het ons sommer net daar besluit ons ry terug Johannesburg toe. Ons was op hierdie stadium gatvol gery. Ons het deur die nag gery en was agt uur die volgende oggend veilig terug by die huis.

Lang pad terug

Lang pad terug

Dankie Soekie en Willem ons het lanklaas so lekker vakansie gehou!

PS. As jy meer foto’s wil sien van ons vakansie klik hier links bo op die “Ons foto album” skakel.

Wegbreek na Mosselbaai

Ons kom so pas terug van ‘n lekker week lange breek in Mosselbaai. Ons het weer by Ettie-hulle gaan kuier. Dit was so lekker om vir ‘n hele week lank nie aan die werk te dink nie en boonop nog lekker met die familie te kuier. Ek en Ester het Saterdag oggend vroeg lekker op die lughawe gaan ontbyt eet voordat ons George toe gevlieg het. Dit was ‘n bibberende 2 grade Celsius in Johannesburg gewees en ons kon nie wag om van die koue te ontsnap nie. Alhoewel dit nog altyd koud in Mosselbaai was as ons daar gaan kuier het, was ons seker dit sou warmer wees as Johannesburg.

Mosselbaai

Mosselbaai

Ek het hierdie jaar al baie gevlieg, maar ek het nog nie een keer in so ‘n helder dag gevlieg nie. Vandat ons opgestyg het kon ek allerhande interessante en bekende landmerke sien. Ek kon sien hoe Sasol 2 en 3 se rook Centurion besoedel. Ek het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die hele Vaaldam gehad, ek het sneeu op die Drakensberge gesien, ek kon selfs die Sentinel duidelik vanuit die vliegtuig uitmaak, ek het Clarens gesien en al die berge naby aan George was vol sneeu. Net voordat ons geland het, het die vliegtuig ‘n draai gemaak oor Heroldsbaai en van daar af kon ek elke liewe dorpie sien tot in Mosselbaai.

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Donavan, Duncan en Malcolm het ons by die lughawe kom haal. Ons het toe die res van Saterdag lekker gekuier en lekker in Ettie-hulle se nuwe braaiplek gebraai. Vandat ons in Mosselbaai aangekom het was die vars reuk van die see baie opvallend – ek mis dit baie en ek moet tog eendag by die see kom bly.

Naby aan die walvis

Naby aan die walvis

Sondag het die manne (Donavan, Malcolm en ek) op die bood gaan ry. Ons het al langs die kus af gevaar oppad Heroldsbaai toe. Ons het soos laas keer weer baie walvisse gesien en op een stadium was ons minder as 50 meter vanaf drie walvisse af gewees – moet dit asseblief nie vir die regering noem nie – en een van die walvisse het toe tot reg onder die bood in geswem. Dit was sekerlik die naaste wat ek nog ooit aan ‘n walvis gekom het. Dit was ook baie interesant om Heroldsbaai van die “ander” kant af te sien. Ons het terug gedraai Mosselbaai se kant toe en toe weer stadig al langs die kus af gevaar.

Heroldsbaai van die ander kant af

Heroldsbaai van die ander kant af

Die res van die week het basies uit kuier, slaap en eet bestaan en nog bietjie kuier. Ons is ‘n paar keer George toe om inkopies te doen. Ek het Donavan gehelp om sy rekenaar en netwerk op te gradeer – Donavan, ek hoop as jy hierdie lees doen jy dit vanuit jou sitkamer! Ons het paar keer by Pinacle Point gaan eet.

Ontbyt by Pinnacle Point

Ontbyt by Pinnacle Point

Ons het een middag almal saam op Glentana se strand gaan stap. Ons doelwit was om die wrak daar te gaan kyk, maar ons het sover gekom soos die eerste paar rotse en toe maar omgedraai. Dit was nietemin baie lekker gewees veral vir die kinders. Self Euen het ‘n hele end op sy eie gestap.

Ettie-hulle by die mode parade

Ettie-hulle by die modeparade

Vrydagaand het ons ‘n skoolfunksie in Hartenbos gaan bywoon. Dit was ‘n modeparade en Duncan en Malcolm het die catwalk aangevat. Ettie het ook deelgeneem. Saterdag – ons laaste dag – het ons maar gaan rondry en Saterdagaand het ek die lekkerste vis geëet in ‘n baie lang tyd. Donavan het ‘n vis (ons weet nou nog nie watse soort dit was nie) op die vuur gegooi. Sondagoggend het ons heerlike vakansie se tyd uitgeloop en ons is terug koue Johannesburg toe.

Krieket op die Wanderers

Ons het Saterdag lekker gaan krieket kyk. Suid-Afrika het teen Australië in ‘n toets wedstryd gespeel. Alhoewel Saterdag uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt nie die beste dag van die toets was nie, was dit nie te min baie lekker om deel te wees van ‘n volgepakte Wanderers stadion.

Suid-Afrika besig om te kolf

Suid-Afrika besig om te kolf

Kinga het kaartjies by haar werk gekry en sy en Johan het vir my en Ester genooi om saam te gaan. Ons het in Kinga se werk se losie gesit. Ons was die hele dag nie meer as ses mense in die losie nie, dus was daar genoeg plek om te sit, baie om te eet en baie om te drink.

Johan besig met sy selfoon

Johan besig met sy selfoon

Die wedstryd het Donderdag begin en Australie het eerste gekolf en ‘n totaal van 466 lopies aangeteken. Suid-Afrika het Vrydag en Saterdag probeer om in te haal, maar is al reeds Saterdag almal uit vir net 220 lopies. Die hoogtepunt van die krieket was verseker to AB de Villiers sy honderdtal geslaan het. Al 20 000 mense op Wanders het vir 5 minute lank gejuig. AB het amper die helfte van Suid-Afrika se 220 lopies aangeteken. Australie het weer kom kolf en die spel het 4 uur opgehou, omdat dit skielik begin donker raak het en toe begin reën het.

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middag ete

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middagete

Suid-Afrika het toe Sondag en die Maandag nadat ons daar was redelik begin inhaal, maar kon nie genoeg regkry nie en op die einde het Australië die toets gewen.

Mosselbaai

Ons is nou net terug van ‘n lekker lang naweek se kuier by die familie in Mosselbaai. Van ons het al Donderdag Mosselbaai toe gevlieg. Ester moes eers Durban toe vir werk voordat sy Saterdag oggend kon aansluit. Met die wete dat ons eers Maandagaand terug kom het ons lekker kon ontspan. Soos gewoonlik as ons in Mosselbaai gaan kuier is dit koud. Ek hoor altyd stories dat Mosselbaai die beste klimaat het naas Hawaii. Ek wonder soms of daar nie dalk ‘n ander plek bestaan met die naam Hawaii nie. Miskien êrens in Alaska?

Walvis by Mosselbaai

Daar was walvisse net waar jy kyk

Ek het vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n gholfstok geswaai. Enige persoon wat gholf speel sal weet dat ek met so min oefening sou sukkel om baansyfer te maak en dit nogal op Pinnacle Point. Ja, hulle was reg (ek kon in elk geval nog nooit op enige ander baan baansyfer maak nie). Die gholf het gegaan soos ek verwag het – sleg. Die lugdiens was bly, want my gholfsak was twee kilogram ligter toe ek terug vlieg a.g.v. al die balle wat ek daar op die gholfbaan weg geslaan het. Dit was baie lekker om weer te speel en ek het boonop op die laaste gat ‘n baie goeie afslaan gehad en ‘n syfer gemaak.

Gholf by Pinnacle Point

Gholf by Pinnacle Point

Saterdagoggend het ons vir Ester gaan oplaai by die lughawe en toe gou ‘n draai gaan maak by die mooiste strand in die wêreld – Heroldsbaai. Ons wou by Duton’s Cove gou middagete gaan eet, maar dit was te koud en ons is toe terug na Mosselbaai.

Heroldsbaai

Heroldsbaai

Nog baie moeg van Saterdagaand se kuiertjie, het ons Sondagoggend op Pinnacle Point se boot gaan ry. Dit is ‘n baie luukse 40 voet motorboot. Ons het lekker kos en drankies ingepak sommer vistokke ook. Ons het heel oggend rustig in die baai tussen al die walvisse rondgery. Ons het toe voor Santos anker gegooi en die kinders het lekker vis gevang. Wat ‘n lekker dag!

Surfer by Delfino's in Mosselbaai

Surfer by Delfino's

Maandag het ons ‘n lekker ontbyt gaan eet en die res van die dag ontspan. Dankie Ettie-julle ons het lekker gekuier!

Songimvelo

“Waar heen wil julle môre ry?” vra my skoonma. “Kom ons gaan bietjie wildtuin toe” sê ek. “Dit klink lekker, ek kry gou my wildcard” , “Nee, ma, dit sal nie nodig wees nie, die wildtuin waarheen ek wil gaan aanvaar nie wildcards nie. Ek wil Songimvelo toe!”
Dam naby Diepgezet

Dam naby Diepgezet

Ons is gister oggend ses uur hier uit Nelspruit weg na Songimvelowildreservaat. Nie een van ons het geweet wat om te verwag nie, want inligting oor die wildtuin is maar skaars. Ek het al lankal van die reservaat geweet en wou nog altyd gaan, maar toe ek onlangs ‘n berig oor Songimvelo in die Weg tydskrif lees en ek geweet het ons kom Nelspruit toe hierdie naweek, het alles uiteindelik bymekaar gekom. Die tyd en plek was reg vir my eerste besoek.

Diepgezet omgewing

Kronkelpad oor die berge

Om daar te kom is ‘n klein avontuur op sy eie. Vanaf Nelspruit ry ons Baberton toe en daar begin die kronkel pad oor die berge. Die vorige keer wat ek hierdie pad oor die berge gery het was dit ‘n baie slegte grondpad, dit lyk egter of die regering nie al ons geld steel nie, hulle het wel ‘n paar Rand oor om die pad te teer. Ek verstaan hulle teer eintlik die pad vir ‘n ander wildtuin in die omgewing.

Kameelperd by Songimvelo

Een van baie kameelperde in die park

Die laaste deel van die pad is steeds grondpad en gaan verseker nie binnekort geteer word nie. Hierdie pad is gebou vir die Msauli asbesmyn wat in die omgewing was. Die Msauli asbesmyn het in 2003 gesluit a.g.v. die gevare van asbes. Die myn personeel het almal in Diepgezet gewoon. Die naam sê dit als. Dit is ‘n baie klein dorpie in ‘n kom en omring deur baie hoë berge. Een van die min hoogtepunte in so klein dorpie se kalendar was die jaarlikse gholfdag. Gholfers het van oral gekom om op hierdie baan te kan speel. Ek het in die laaste drie Msauli opes deelgeneem. Nou is die dorp ‘n ware spookdorp. Daar is so een of twee huisies wat steeds bewoon word sekerlik deur mense wat die dorp oppas. Ons het ‘n draai gemaak by die ontspanningsklub en toe weer die pad gevat. Nog so 25 kilometer vanaf Diepgezet is die afdraai na Songimvelo.

Die Komatirivier vanaf die bergpad in Songimvelo

Die Komatirivier vanaf die bergpad

Dit het ons R125 gekos om in te gaan. Hoe die hekwag by R125 uitgekom het weet hy en ek tot vandag toe nie. Kontant is die enigste opsie. Ons was die vierde kar wat die dag ingeteken het. Ek het ‘n padkaart versoek en na ‘n gesoek het die hekwag een onder in sy boekrak uitgekrap. Dit is ‘n swart en wit afdruk van ‘n baie basiese kaart. Agterop was in ‘n vorige besoeker se handskrif ‘n lysie van diere wat hulle gesien het. Plek-plek is daar nommers op die kaart wat lyk of dit iets belangriks beteken, maar ek kon nie die legende op die kaart vind nie. Die reservaat is 48 000 ha groot en dit is baie jammer dat daar nie ‘n goeie kaart beskikbaar is nie. Ons het beplan om êrens piekniek te hou, maar daar is geen piekniek areas in die reservaat nie, gelukkig het ons darem biltong en ‘n paar broodjies byderhand gehad. Daar is eintlik niks by die hek nie, behalwe vir jou ingangsfooi is daar geen ander rede om kontant saam te vat nie.

Daar was baie om te sien by Songimvelo

Daar was baie om te kyk

Na ‘n gespook om ‘n werkende toilet te kry en die flou diens by die hek was ons al drie maar ‘n bietjie pessimisties oor wat ons die res van die dag kan verwag. Dinge het egter gou verander toe ons skaars ‘n honderd meter van die hek af ons eerste wild sien – ‘n koedoe. Nie veel verder het ons die eerste van baie kameelperde gesien. Daar is blykbaar 60 kameelperde in die reservaat. Ons het toe nog waterbokke, springbokke, rooibokke, duikers, blesbokke en vlakvarke gesien. Daar is ook olifante en buffels maar ons het hulle ongelukkig nie gesien nie.

Af met die berg paatjie by Songimvelo

Af met die bergpaadjie

Die paaie is wel gemerk, maar sonder ‘n goeie kaart help dit nie veel nie. Ons het maar ‘n pad gevat en gery. Die paaie is baie sleg en is meestal maar ‘n tweespoor pad. Op een stadium moes ons besluit om deur ‘n rivier te ry of om te draai. Na ‘n lang redenasie – wat ek verloor het – sit ek die kar tog in low range en ons is deur die rivier. Die pad vat ons toe oor ‘n paar berge en word toe skielik ‘n ernstige 4X4 roete. Voor ons was ‘n baie styl helling. Die vrouens was maar baie stil, ek was bietjie bekommerd, maar ons is oor. Dit was weer lekker om die kar se 4X4 te gebruik, dit was vir hierdie tipe plesier dat ons ekstra betaal het. Die pad loop toe skielik dood en ons moes omdraai en al die pret en angs het weer van voor af begin.

Dit was my huis in die weermag Armburg

Dit was my huis in die weermag - Armburg

Na die berg roete het die vrouens besluit dit was nou genoeg en ons is terug hek toe. Vanaf die wildtuin het ek ‘n draai gaan maak by Armburg. Armburg was ‘n weermagbasis waar ek amper ‘n jaar van my diensplig gedoen het. Die basis het uit ‘n plaashuis en nie veel meer bestaan nie. Die basis is in 1992 gesluit en omskep in ‘n veearts.

Ons is toe na Badplaas om iets te drink voordat ons terug Nelspruit toe is. Die einde van ‘n baie interesante dag!