2015 was ’n jaar van verandering. Ons het Kaap toe getrek om ’n nuwe hoofstuk te begin, en ek het besluit my voertuig moet saam met my verander. Teen einde 2014 het Toyota die Land Cruiser met die 4.5-liter V8 diesel-enjin bekendgestel – ’n enjin met ’n diep brul wat jou dadelik laat weet hy is gebou vir werk. ’n Regte manskar, bekend vir sy veldryvermoë, gemaklike grondpadgedrag en eenvoudige elektronika- presies waarna ek gesoek het.

Kort ná ons aankoms in die Kaap moes ek my Fortuner vir ’n diens vat, en daar staan hy toe by die agentskap in Table View. Regte tyd, regte plek. Die besluit was vinnig geneem, en ’n dag later het ek by die huis opgedaag met my nuwe wiele: “Die Beer.”

In daardie jare was Land Cruisers nog nie oral op die pad nie. Daar was amper ’n klein, ongeskrewe broederskap onder eienaars. As jy ’n ander Cruiser sien aankom, het jy geweet wat om te doen – ligte geflikker, of die bekende twee-vinger wuif oor die stuurwiel. Dis nie iets wat jy beplan het nie; dit het net gebeur. ’n Stil erkenning tussen mense wat dieselfde stofpaaie ken en die tipe lewensstyl verstaan. Soos die Cruiser later meer algemeen geraak het, het daardie klein stukkie kultuur stadig begin verdwyn, maar as jy lank genoeg bestuur het, onthou jy dit nog duidelik.

Ek het uiteindelik my Cruiser vir net meer as 11 jaar besit, en in daardie tyd het ons saam amper 175 000 kilometer afgelê. Hy het my na van die mooiste plekke op aarde geneem – verskeie kere deur Namibië en Botswana, en selfs tot in Mosambiek. Elke reis het ’n nuwe herinnering bygevoeg.

Maar tyd staan nie stil nie. Hy het nie jonger geword nie, en ek ook nie. Op ’n stadium moet ’n mens eerlik raak: ry jy hom tot hy uiteindelik uitmekaar begin val, of maak jy vrede daarmee om aan te beweeg na iets wat jou weer daardie 11 jaar se voorsprong gee?
En so het die besluit gekom. Ek het Die Beer verkoop. En soos wat ek nou terugkyk, besef ek ’n Cruiser dra nie net jou kamp goed nie – hy dra jou stories.

Voor ek hom finaal groet, is daar nog een manier om die storie reg te laat eindig – deur na die syfers te kyk.
Daar is min twyfel dat ’n Toyota Land Cruiser sy waarde goed hou. Om ’n idee te gee, hier is wat ek hom oorspronklik vir betaal het (los natuurlik inflasie en enige finansieringskostes uit die vergelyking uit).
| Aankoopprys in 2015 | R 635 399 |
| Verkoopprys in 2026 | R 600 000 |
| Waardevermindering per jaar (11 jaar) | R 3 200 |

As dit by brandstofverbruik kom, is dit natuurlik ’n heel ander storie. Die 4.5 liter V8 is bekend vir sy brandstof gebruik, maar nie vir die regte redes nie. Die enjin is gebou om diesel te gebruik en hy is baie goed in sy werk.
Ek het ongelukkig nie van dag een af noukeurige statistieke gehou nie, maar het eers so vanaf 14 000 kilometer begin dophou wat hy eintlik drink.
| Totale brandstof aankope | R 387 318 |
| Brandstof koste per dag | R 101,85 |
| Brandstof koste per kilo | R 2,42 |
| Verbruik (L/100 km) | 13,96 |

11 jaar later, 175 000 kilometer en baie herinneringe ry Die Beer sy laaste pad saam met my. Maar elke einde bring ’n nuwe begin en sy plek is nou ingeneem deur Oskar die Boskar.