As gevolg van my en Ester se besige werk skedules (ek wou dit nog altyd sê) het dit baie beplanning gekos om vir meer as twee weke Namibië toe te gaan, maar ons het dit op een of ander manier reg gekry en dit was alles die moeite werd gewees.
Ons is 3 uur Sondagoggend die 12de Desember hier weg oppad na ons eerste bestemming – Soekie-hulle se plaas naby Gobabis. Dit het feitlik vanaf ons huis tot sowat 150 km duskant Kang gereën. Dit het natuurlik dinge ‘n beitjie moeilik gemaak vir die bestuurder, maar dit het gesorg dat dit lekker koel was in die kar. Toe die son eindelik uitkom het die temperatuur in minder as 15 minute van 23 grade C tot 33 grade C geklim. Nou het dit meer soos die pad deur Botswana gelyk en gevoel. Voordat ons vertrek het, het ons albei gewonder of Karla die baie ryery gaan geniet, maar sy was stroop soet. Die hele pad en ons was sooo dankbaar daarvoor.
Ons was net na drie uur by die Namibiese grenspos. Daar het dit ons amper ‘n uur geneem om al die papier werk af te handel en dit alles terwyl daar ‘n klein orkaantjie buite besig was om uit te woed. Ons het so kwart oor vyf by Soekie-hulle aangekom waar sy en Willem vir ons op die stoep staan en wag het, soos regte boeremense maar moet. Na ‘n vinnige opvang en ete het ek, Ester en Karla sommer vroeg in die bed gaan spring. Dit was ‘n lang dag en ons was baie moeg.
Die volgende paar dae het ons heerlik op die plaas onstpan en nie veel gedoen nie behalwe lekker gekuier en natuurlik lekker geëet. Ons het elke aand verskriklik lekker geëet. Het ek genoem dat ons lekker geëet het? Die mense op hierdie plaas weet van kos maak! Hoender, vis, Mexikaans was onder andere op die spyskaart. Die Donderdag was ons Gobabis toe om die Cruiser te diens en dan sommer te gaan kyk hoe dit daar lyk. Daar gaan minder aan as wat daar op die plaas aangaan. Al wat nogal beïndruk het is die plek waar jy ‘n hoenderburger kan koop vir R 9,99 en die burger is nogal lekker ook.
Ons is die Vrydagoggend vroeg by die plaas weg see toe. Ek het nou vir die eerste keer baie uitgesien om weer bietjie die see te sien en te ruik en op die sand te sit en al die ander dinge wat die Namibiese kus so lekker maak. Soekie, Owen, Liam en die hond het in die Cruiser gery. Ek, Ester en Karla in die Fortuner en Willem in sy werksbakkie met al die speelgoed (quidbike, fietse, visstokke) agter op. Willem moes eers Vrydagoggend ‘n vandisie bywoon voordat hy vanaf Gobabis sou vertrek. Op Windhoek was ek en Ester gou in ‘n rekenaarwinkel in om vir Liam ‘n Wii namens Soekie-hulle te gaan koop. Nadat ons brandstof vol gemaak het is ons daar weg en dit was eintlik die enigste keer wat ons gestop het. Ons was almal so vyfuur daardie middag veilig in Hentiesbaai gewees.
Ons was dadelik strand toe om vir Karla aan die see en sand te gaan voorstel. Sy was aanvanklik bietjie skrikkerig, maar het sommer gou die lekkerte van in die sand speel ontdek. Die volgende dag het ons gaan visvang. Ons almal weet ek is nie die wêreld se grootste visserman nie, maar om in Henties vis te vang is vir my baie spesiaal. Ek kan nog goed onthou hoe lekker ek as kind daar visgevang het. Baie vis en grotes ook. Aan die einde van die vakansie het ek baie gaan vis vang, maar nie een keer ‘n vis gevang nie. Dit was nog steeds lekker!
Orton het intussen van die Kaap af ‘n dag vroeg daar aangekom en ons almal “verras”. Ons almal het eintlik geweet hy kom daai aand al. Die volgende paar dae het ons almal lekker saam gekuier, geëet en gedoen wat mens maar op Hentiesbaai doen. Na ‘n baie lekker vakansie saam met Soekie-hulle was dit ongelukkig tyd om hulle te groet. Hulle het nog so week op Henties oor gehad en ons is daar weg (nadat ons vir Karla van Soekie moes losskeur) Swakopmund toe vir ‘n paar dae.
Ek is mal oor Swakopmund en dit was weer lekker om in die dorp in te ry. Ek was verbaas om te sien hoe die dorp gegroei het. Daar was ‘n hele buurt waar daar vyf jaar gelede ‘n strand en ‘n karavaanpark was. Die ou deel het darem min of meer dieselfde gelyk. Ons het sommer dadelik vir Louis Ludik-hulle gekontak om saam met ons iets te gaan eet by die Mole. Na ‘n onderonsie met mede toeriste oor sitplek by ‘n kafee het ons sommer by die Lighthouse gaan plek soek en iets daar geëet waar Ludik-hulle by ons aangesluit het. Ons het die volgende twee dae onder meer gaan visvang, Walvisbaai toe gery en duine gaan klim en lekker saam met die Ludiks gekuier.
Ons is redelik vroeg op die 24ste uit Swakop weg en het die woestynpad aangepak tot by Sesriem. Ons het besluit om ons self vir Oukersaand te bederf en het onsself in die luukse Sossusvlei Lodge ingeboek. Ons het laat daardie selfde middag na Sossusvlei gery. Ons was heeltemal alleen by die vlei, heeltemal anders as toe ons voorheen daar was en amper vertrap was. Ons het lekker tussen hierdie masiewe duine piekniek gehou terwyl Karla in die sand gespeel het. Dit was dood stil en wonderlik daar!
Terug by die lodge het ons gou onder die stort van al die sand ontslae gaan raak en onsself mooi aangetrek. Dit was laat skemer toe die drie van ons gaan aansit vir ‘n lekker Oukersaandete by die restaurant onder die sterre in die middel van die Namib. Ons het soos konings geëet en ‘n bottel koue witwyn saam met die ete geniet.
Kersdag het ons drietjies lekker ontbyt gaan eet. Ons het toe Suid gery met die doel om Kersaand êrens naby Ai-Ais te slaap. Toe ons weer teerpad sien het ons sommer net daar besluit ons ry terug Johannesburg toe. Ons was op hierdie stadium gatvol gery. Ons het deur die nag gery en was agt uur die volgende oggend veilig terug by die huis.
Dankie Soekie en Willem ons het lanklaas so lekker vakansie gehou!
PS. As jy meer foto’s wil sien van ons vakansie klik hier links bo op die “Ons foto album” skakel.