Mopaniruskamp in die Kruger

Ons het vir ‘n paar dae in die Mopaniruskamp in die Krugerwildtuin gekuier. Die besluit om te gaan was gemaak in ‘n verkeersknoop net buite Skukuza gedurende ‘n besoek vroeër tydens Paasnaweek. Paasnaweek is sekerlik die besigste tyd in die Krugerwildtuin en ek wou eerder die wildtuin besoek wanneer dit aansienlik rustiger daar is. Nog dieselfde aand na die trauma van die verkeersknoop het ons ‘n bespreking gemaak. Dit was steeds nie baie maklik om plek in die park te kry nie en die enigste plek wat ons kon kry (vir die datums wat ons kon gaan) was in die Mopani ruskamp. Ons verkies om op een plek te bly en die park daarvandaan te verken as wat ons van kamp tot kamp moet trek.

Olifant in die Letaba rivierbedding

Olifant in die Letaba rivierbedding

Mopani is in die Noorde van die Krugerwildtuin. Dit is meer as 200 km Noord van Skukuza en slegs sowat 10 km Suid van die Steenbokskeerkring. Aanvanklik wou ons by die Phalaborwahek ingaan waarvandaan die kamp net sowat 75 km is, maar my moer vir koletrokke het reeds in Witrivier ge-strip en ek het nie kans gesien om die pad tot in Phalaborwa met hulle te deel nie. Die besluit om eerder by die Krugerhek in te gaan was maklik, maar dit sou ons nou meer as 10 ure vat om tot by die kamp te kom. Sluit nog die paar uur se ry vanaf Nelspruit in dan was die eerste dag ‘n baie lang dag se ry.  Ek sal verseker volgende keer twee keer dink voordat ek so ver ry.

Heerlik ontspan en uitkyk naby die restaurant.

Heerlik ontspan en uitkyk naby Mopani se restaurant.

Uiteindelik by die kamp en ons het in ons 4 bed rondawel ingetrek. Die rondawels in Mopani is redelik modern as ‘n mens dit met ander in die Krugerwildtuin vergelyk. Die rondawel het slegs een slaapkamer, met ‘n stapelbed en ingeboudekas in die portaal. Die badkamer is ruim. Die kombuis is op die stoep – yskas, stoof en koskaste – en kan nie sluit nie. Die stoep het oor as genoeg kuierplek en koelte. Die rondawel kos ongeveer R 800 per nag en sluit slaapplek vir twee in.

Stoep van on rondawel

Stoep van ons rondawel

Die kamp se geriewe is baie modern en sluit ‘n goed toegeruste kafee, ‘n kroeg, restaurant en konferensiesentrum alles onder een grasdak in. Die kroeg en restaurant het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die Pioniersdam. Dit is heerlik om in die kamp rond te stap en daar is ‘n paar reuse kremetartbome in die kamp om te bekyk. Daar is ook ‘n wandelroete regs langs die dam en jy kom regtig naby aan krokodille, seekoeie en ander onaardige waterbewoners. Karla kon ook haar self vermaak op die springmat by die restaurant terwyl ons lekker koffie drink.

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Heerlike ontbyt by die restaurant in Mopani

Die omgewing van Mopani is nie vir my die mooiste in die wildtuin nie. Dit plantegroei bestaan meestal uit eentonige Mopaniwoude. Daar is ‘n kleiner verskeidenheid diere wat hier voorkom as in ander dele van die wildtuin. Hier het ons meestal olifante, buffels en waterbokke gesien en natuurlik heelwat krokodille en seekoeie in die dam. Behalwe vir ‘n paar visarende wat ons naby die dam gesien het is ander roofvoëls ook redelik skaars en ons het meestal watervoëls gesien wat naby die dam en riviere voorkom.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het meer as 50 unieke voëls gewaar.

Ons het drie van die verskeie sirkelroetes naby die kamp gery. Die eerste dag het ons die Shongoloroete gery wat aan die agterkant van die Pioniersdam verby gaan. Die pad se nommer is S142. Ons het heelwat bokke hier gesien, veral in die eerste paar kilometer naby die dam. Ons het uiteindelik by die Mtomenepan uitgekom en kon ons kar onder ‘n koelteboom parkeer en die die diere dophou en piekniekkos eet. Verder aan is die Uitspanpan waar ons ‘n paar olifante sien bad het, hier het ons minder watervoëls as by Mtomenepan gesien.

Renoster met horings

Renoster met horings

Die tweede dag het ons Noord gery en die Red Rock roete naby Shingwedsi gedoen (S52). Die plan was om na die roete via Shingwedsi terug te ry Mopani toe langs die Shingwedsirivier op die S50, maar die pad en die kamp was gesluit na die vloede in die omgewing vroeer in die jaar en ons moes maar met die teerpad terug ry Mopani toe.

Wildehonde naby Skukuza

Wildehonde naby Skukuza

Op pad terug huis toe het ons die onderste deel van die Steenbokskeerkringroete gery en dit was duidelik dat ons hierdie roete sommer eerste moes doen. Daar was heelwat watergate en dit was sommer baie besig met diere. As ek weer in hierdie omgewing is sal graag die hele roete wil ry. Die roete is op die S143.

Karla voer 'n bokkie in Letabakamp

Karla voer ‘n bokkie in Letabakamp

Op pad terug het ons ‘n lekker ontbyt by Letaba geëet en het die res van die dag rustig deur die wildtuin gery en meeste van die pad op grondpaaie gery. Een van die hoogtepunte was ‘n luiperd wat ons oor die pad sien stap het, maar hy het ongelukkig te vinnig in die bosse in verdwyn vir ‘n foto. Dit was die eerste luiperd wat ek in ‘n baie lang ruk gesien het. Ons is net voor ses uur by die hek by Numbi uit.

 

 

Op teen Mariepskop

As jy al ooit die Panorama roete gery het – dis nou die baie bekende roete vanaf Graskop verby al die watervalle, God’s Window en die Drie Rondawels, het jy al Mariepskop gesien al weet jy dit nie. Dis die hoogste punt aan die oorkant van die Canyon. Dis die kop met al die telekommunikasietorings op. Ek het die laaste paar jaar al hoe meer foto’s van Mariepskop gesien en meer oor Mariepskop op die Internet gelees. Dit als het my oortuig om Mariepskop self te gaan besoek.

Oppad op teen Mariepskop

Oppad op met die sementpad.

Verlede week het ons ‘n paar dae gaan uitspan by die Blyde Canyon oord. Die oord is deel van die Forever Resorts groep wat ook ‘n ander oord in die omgewing besit, naamlik Swadini, en dit is een van my gunsteling kampplekke in Suid-Afrika. Die Blyde Canyon en Swadini is soos die kraai vlieg skaars 10 kilometer uitmekaar uit, maar amper ‘n 100 kilometer padlangs.

Tyd om ietsie te drinkbo op Mariepskop

Tyd om ietsie te drink

Na die lekker kuiertjie by die Blyde oord was dit tyd vir oppak en ons het ‘n goue geleentheid om die langer pad terug te vat Nelspruit toe. Almal het ingestem en ons is weg. Ons is eers Swadini toe vir middagete en toe uiteindelik kon ek Mariepskop gaan verken. Aangesien die area in ‘n natuurreservaat is was ek onseker oor toegang. Ek het die bosboustasie se nommer op die Internet gekry en hulle gekontak. Hulle het aanbeveel dat ek met ‘n gids reël om saam te kom. Hulle het vir my Jeff se nommer gegee. Ek het met Jeff gereël om ons langs die pad te ontmoet.

Mariepskop kommunikasietorings

Torings

Om daar te kom het ons vanaf Swadini Klaserie toe gery en daar regs gedraai op die Mariepskoppad (by die “One Stop”). Ons het so 10 kilometer grondpad gery voordat ons Jeff langs die pad sien staan het. Ons het elk ‘n permit teen R30 by Jeff gekoop. Ek het ‘n idee dit is nie offisiële permitte nie, alhoewel Jeff anders belowe het. Jeff het saam met ons tot by ‘n sekuriteitshek gery, so 12 kilometer verder. Hy het ons vertel wat om te verwag en ons ingelig oor die plante, voëls en diere wat hier voorkom. Jeff het ‘n ongelooflike kennis van die gebied gehad.

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting vanaf Mariepskop

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting

Die pad opwaarts is baie styl. Aanvanklik is dit grondpad, maar sowat 5 kilometer van bo af word dit ‘n baie kronkelrige sement pad. Klaserie is sowat 600 meter bo seevlak en uiteindelik bereik jy ‘n hoogte van 1 935 meter bo seevlak. Die hoogste punt op die kop is 1 944 meter bo seevlak. Die sementpad is nou, maar in ‘n baie goeie toestand en veilig om te ry.

Mariepskop uitsig

Amper 2 000 meter bo seevlak

Bo op kon ons uitklim en verken. Die uitsig is fantasties! Op ‘n helder dag kan jy blykbaar Maputo van daar af sien. Die plantegroei is ook ongelooflik. Daar is meer as 2 000 plantspesies op Mariepskop alleen insluitend fynbos, meer as in die hele Krugerwildtuin en baie meer as wat daar op Tafelberg voorkom. Die unieke plantegroei op die berg lok natuurlik baie interessante voëlspesies. Die Samango apie kom ook hier voor.

Fantastiese uitsig vanaf Mariepskop

Fantastiese uitsig

Vanweë die hoogte en ligging van die kop is daar reeds in die laat 1950’s ‘n radarstasie deur die lugmag hier gebou. Meeste mense het gedink dit sal onmoontlik wees om ‘n pad tot bo op die berg te bou, maar hulle is verkeerd bewys. Die radarstasie is amptelik in 1965 geopen. Sederdien het al wat ‘n kommunikasie maatskappy ‘n toring hier kom oprig.

Mariepskop plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Ons kon maar slegs ‘n uur of twee hier bo bly voordat ons weer die pad moes vat Nelspruit toe. Ek is seker daar is nog baie om te verken. Ek beplan reeds ‘n naweeklange besoek aan die berg.

Mariepskop kronkelpad

Kronkelpad af

As jy ‘n gids benodig kan jy gerus vir Jeff bel. Hy het waardevolle kennis van die area en ook van die fauna en flora wat hier voorkom. Hy kan gekontak word op 072 995 5441. Jy kan ook die bosboustasie bel vir meer inligting: 015 793 2581.

Avontuur langs die rivier

Hansie se troue was op hulle plaas, wat deel is van die uMkhunyane Natuurreservaat, naby Piet Retief gehou. Ons het die Vrydag middag gery en het saam met Vincent en ‘n paar druppels reën daar aangekom. Vincent-hulle sou saam met ons by Alwin se kamp, ‘n jagkamp op die plaas, gaan bly vir die naweek. Ons het vinnig vir Hansie-hulle gegroet en het dadelik in die baie klipperige pad geval. Die jagkamp was ‘n uur se ry vanaf die troue hoofkwartier (HK) af.

Ons het net betyds by die jagkamp aangekom, want oomblikke later het dit baie hard begin reën. Ons het afgepak en vir die res van die aand hoog en droog onder ‘n grasdak langs die vuur gekuier. Meeste van ons het redelik vroeg gaan slaap, want ons moes die volgende oggend  vyfuur reeds opstaan om seweuur by die seremonie te wees.

Die samentbrug

Die oorgang in droër tye (foto uMkhanyane.co.za)

Ons is effe laat by die kamp weg. ‘n Paar honderd meter vanaf die kamp is ‘n stroompie water wat ons reeds die vorige aand moes oorsteek om daar te kom, maar na al die reën het dié skielik in ‘n monster verander. Ek het voor gery en by die rivier in die reën gestop en uitgeklim om seker te maak my oë bedrieg my nie. Ek ken moeilikheid as ek dit sien! Terwyl ek nog gewonder het of ons dit moet waag om die rivier aan te durf en of ons dalk ‘n alternatiewe roete moet soek, jaag Vincent verby my, by die wal af en in die rivier in. Die manier waarop sy bakkie by die modderige pad afgegly het, het my laat besef hy sal nie weer met dieselfde pad kan terug kom nie. Enigste uitweg was voorentoe.

Vincent het dadelik sy kerkskoene uitgetrek en sy broek opgerol en voor hulle bakkie ingespring om vir Maggel die pad aan te dui en seker te maak dat sy nie die sementbrug, wat nou heeltemal onsigbaar is nie, mis ry nie. Hulle het dit redelik maklik deur die rivier gemaak. Dit was ‘n groot verligting en dit was nou my beurt. Vincent het kom help en ek het ook maklik deur gery. Ester, wat reg agter my gesit het, was op hierdie stadium baie stil.

 

Vincent se bakkie

Modder 1 Vincent se bakkie 0

Die wal aan die ander kant was styl en snotglad van die modder. Die water het by die wal afgestroom en Vincent kon nie opry nie. Sodra hy naby die stylte kom het sy wiele begin gly. Die pad was ook te nou om, om te draai. Ek het uitgeklim, skoene uitgetrek, broek opgerol en probeer help, maar saam kon ons nie veel uitrig nie. Dit was duidelik dat ons nie sonder ‘n baie lang tou en iets om die tou aan vas te maak Vincent se bakkie by die wal gaan uitkry nie.

Al wat ons nou kon doen is om die bakkie te los en my kar te gaan hulp soek – dis nou as ons my kar met sy 4×4 by die wal kon uitkry. Ons was ook redelik seker dat daar op hierdie stadium geen soekgeselskap vir ons uitgestuur gaan word nie aangesien die seremonie reeds begin het. Een klein probleempie: my kar was agter Vincent se bakkie in die rivier parkeer.

Vincent se bakkie

Kyk hoe sterk vloei die rivier

Ek het dit reggekry om aan die regterkant verby Vincent se bakkie te kom en op ‘n modderbank sowat een en ‘n half meter hoër as die pad te lande te kom. Elke keer as ek voerentoe probeer ry dan begin my kar sywaarts pad se kant toe gly. Ester was nou nie meer stil nie. Ons moes terug pad toe, maar kon op die stadium nie voorentoe of agtertoe nie – kant toe was die enigste manier. Ons het toe begin gly en beland toe weer in die pad. Ons was baie gelukkig dat die kar nie omgekantel het nie. Die kar kon gelukkig die bult uit en Ester het die eerste keer in ‘n lang ruk ophou hardop bid.

Ons was onseker watse hindernisse ons nog vorentoe sal moet oorsteek, dus was dit belangrik dat Vincent saam met my terug HK toe. Een vir almal en almal vir een is ons al sewe in my kar en sonder enige verdere insidente terug HK toe.

Toe ons uiteindelik by die seremonie aankom was ons betyds om te hoor hoe Hansie en sy pragtige vrou mekaar die trou belowe. Die dominee het ook verduidelik as tye goed gaan ons nooit ‘n tou in ons 4×4 hou nie. Ek het dit heeltemal van pas gevind.

Uitgekom

Uiteindelik uit.

Ons het later die middag gery om Vincent se verlate bakkie te gaan haal. Dit was aansienlik droëer gewees en hy kon self die bult uit ry. Ons is terug HK toe en het die res van die dag gebraai en gekuier. Die vroeë oggend avontuur was net nog ‘n klein gedeelte van Hansie-hulle se wonderlike troue.

Op die video hieronder kan julle sien hoe sterk die rivier vloei en hoe lekker dit gereën het.

 

Beste manier om in die Kaap te kom

Wou jy al ooit met die trein af Kaap toe ry, maar het altyd gewonder of dit veilig is, skoon is, lekker is? Die antwoord is heel eenvoudig; ja, dit is! Vir nie baie meer as ‘n vliegtuigkaartjie nie kry jy vyf-en-twintig uur se rus vir die siel, heerlike kos en ‘n kans om terug te sit en by die venster uit te staar na ‘n landskap wat deurentyd verander.

Shozaloza Meyl reg om te vertrek vanuit Johannesburg

Vertrek vanaf Parkstasie

Ons het in Desember die Volvo seiljagwedvaart gaan kyk wat in Kaapstad aangedoen het na die eerste been. Dit was Desember so ons wou ons naweek in Kaapstad ‘n bietjie rek en het besluit om met die trein af te ry eerder as om Kaapstad toe en terug te vlieg. Ek het al voorheen op ‘n trein gery, maar Ester kan amper nie onthou het wanneer sy laas haar voet op ‘n trein gesit het nie. Boonop vat ons ‘n twee-jarige dogtertjie saam wat enige tyd kan besluit treinry is nie vir haar nie. Ons het glad nie geweet wat om van die treinrit te verwag nie. Ons was aangenaam verras…

Uitgestrek in die Shozaloza Meyl kompartement

Ons kompartement

Die Shozaloza Meyl (premier klas) vertrek Donderdae en Sondae vanaf Parkstasie. Ons het die Donderdag vertrek. Die laaste keer wat ek op Parkstasie was, was toe ek, JJ en Yvette met die trein Mosselbaai toe was, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Shozaloza Meyl sitkamer area

Die sitkamerwa

Parkstasie is baie besig en ‘n mens hou maar jou goedjies outomaties ‘n bietjie stywer vas. Eers in die premierklas se sitkamer kon ons ontspan en ons opgewondenheid met ons medepassasiers deel terwyl ons ‘n versnapering geniet. Ons bagasie was reeds in ons kompartement toe ons opklim. Stiptelik drie uur het die treinbestuurder sy fluitjie geblaas en die trein het vertrek.  Ons is dadelik genooi vir sjampanje en biltong in die sitkamerwa waar hulle ons amptelik op die trein verwelkom het, hulle aan ons voorgestel het en vertel het hoe alles op die trein werk en hoe laat ons etes is.

Uitsig vanuit die Shozaloza Meyl

Mooi landskap

Die kompartement het drie beddens, genoeg plek vir al ons bagasie (insluitend twee reuse tasse, Karla se stootwaentjie en ‘n skouersak of twee), ‘n kassie waarin jy eetgoed of wat ook al kan bêre en ‘n tafel. Daar is lugversorging in en selfs ‘n 220v kragprop. Elke bed het ‘n leeslampie. Die kompartement is klein maar gerieflik en het volvloermatte. Alles is goed in stand gehou en skoon. Die toilet en stort word met ander kompartemente op jou wa gedeel. Die toilet was baie skoon en anders as in die ou dae spoel die toilet soos die een by jou huis en maak nie net met ‘n valdeurtjie oop nie.

Etenstyd op die Shozaloza Meyl

Ester verduidelik

Al die maaltye en verversings is in die prys ingesluit en in die vyfentwintig uur op die trein kry jy ‘n vyfgang-aandete, ‘n Engelse ontbyt, middagete en tee en koek tussin in. Jy kan ook enige tyd ietsie koels van die kroeg af bestel op jou eie rekening. Aandete was ongelooflik, nie net die kos nie, maar die feit dat jy in ‘n trein sit erens in die Wes-Transvaal en rustig kan eet, rooiwyn drink en gesels. Romanties som dit eintlik beter op.

Op die Shozaloza Meyl trein

Karla speel in die gang

Terwyl jy aandete eet, maak die personeel solank jou bed op. Daar was selfs ‘n spa-wa aangehak en Ester het na ete vir ‘n masering gegaan. Die slaap was iets waarna ek uitgesien het. Klikke-die-klik, klikke-die-klik en daars ons al drie van ons aan die slaap.

Die eetsalon op die Shozaloza Meyl

Die eetsalon

Die volgende dag het ons tussen etenstye in die kompartement kom ontspan of in die sitkamerwa gaan kuier. Ester het ‘n boek gelees, ek het ‘n fliek op my lappie gekyk en Karla het op en af in die gang gehardloop. Ander mense het kaart gespeel, ‘n paartjie het mekaar ge-BBM en ‘n ander gesin het lekker saam om ‘n tafel gekuier. Daar was heelwat mense op die trein, maar dit het nooit so gevoel nie.

Uitsig vanaf die Shozaloza Meyl

Naby die Kaap

Heeldag kon ons die Karoo landskap bewonder en nou en dan vir die arme mense wat by ‘n ry/go op die N1 staan en wag lag en waai terwyl ons in lugversorgde treinwa verby gly. Ons het deur die langste tonnel in die land gery, gekronkel deur die Hexriviervallei. Hoe nader ons aan die Kaap gekom het hoe mooier het die uitsig geraak.

Net voor die Kaapstadstasie in die Shozaloza Meyl

Net voor Kaapstadstasie

Later Vrydag middag het ons by Kaapstadstasie aangekom.  Net betyds – nie te lank nie en nie te kort nie. Trein ry Kaapstad toe is definitief die moeite werd en ek kan dit aan enige iemand aanbeveel. Ek sal dit weer doen. Jou vakansie begin reeds op Parkstasie.

Gaan toer deur Namibië

‘n Goeie vriend van my het my nou die dag gevra watter plekke in Namibië die moeite werd is om te besoek. Hy en ‘n paar van sy vriende beplan ‘n 3 weke lange toer deur Namibië later hierdie jaar. Ek beskou my glad nie as ‘n kenner nie, maar ek het darem al so twee of drie keer daar gaan vakansie hou en getoer.

Daar is drie maniere om vanaf Johannesburg en Pretoria tot in Namibië te ry. Die eerste is die Trans Kalahari “snelweg”. Dit is die pad vanaf Johannesburg reguit deur Botswana tot in Gobabis. Daar is nie veel langs die pad om te sien nie en al wat jy eintlik vir tien ure lank doen is donkies vermy. Dit is onmoontlik om hierdie pad in die nag aan te durf. Ons het dit al probeer, maar ons kon nie vinnerger as so 80 kilometer per uur handhaaf nie. Te veel diere. Wilde diere mak diere, donkies, beeste, selfs groot voëls was oral in die pad.

Snelweg deur Botswana

Snelweg deur Botswana

Die tweede roete is die N14 deur Upington tot by Ariamsvlei. Dit is die “komersiële” hoofpad tot in Windhoek, i.e komersieël is gelyk aan vragmotors en baie daarvan. Die derde en my persoonlike gunstilling is die N14, maar nie al die pad tot by Namibië nie. Draai ‘n bietjie vroeër af of ry selfs ‘n bietjie verder en gaan deur een van die kleiner grensposte binne. Vat dit dan baie rustig en sien baie meer. Ons het byvoorbeeld een keer by Augrabies oorgeslaap en toe deur Onseepkans gresnpos gegaan. Dit klink sommer baie lekkerder om so in Namibië aan te kom.

Kom ons aanvaar dat Gert my raad vat en die derde opsie kies. Dit beteken hulle toer kloksgewys deur Namibië. Hier is ‘n paar van my persoonlike gunstelin plekke om te besoek:

Onseepkans

Grenspos by Onseepkans

1. Ai-Ais

Hierdie is ‘n warmwaterbron vakansieoord en ek is seker as julle in die winter daar gaan wees gaan die warm water heerlik wees om in te swem. Die oord het baie swembaddens, binne en buite. Dit is ook baie lekker om hier te kamp so reg langs die Visrivier.

Kampplek in Ai-Ais

Kampplek in Ai-Ais

Vanaf Ai-Ais is daar ‘n paar plekke om te gaan verken. Julle kan na die Visrivier canyon se hoof uitkyk punt gaan. Gaan eet iets by die Canyon Roadhouse. Hulle maak baie lekker kos. Ons was laas in ’93 by Ai-Ais oor ‘n paasnaweek en ons het redelik maklik ‘n staanplek gekry sonder om te bespreek. Ons het twee aande daar gekamp.

Ai-Ais swembad

Ester swem in die warm swembad

2. Luderitz

Luderitz is ‘n klein vissersdorp. ‘n Regte duitse dorpie in die woestyn langs die koue oseaan. Gaan kamp by Shark Island. Ons het nie bespreek nie en baie maklik daar staanplek gekry.

Kampplek op Shark Island Luderitz

Kampplek om Shark Island

Vat ekstra lang tentpenne saam. Ons het daar gaan kamp en die wind het ons amper weg gewaai. Die wind het so erg gewaai dat ons ‘n dag vroeër opgepak het. Daar is ‘n paar lekker restaurante om te besoek (veral as die wind so woes waai help dit as ‘n skuiling). Julle kan die dorp verken en ook Kolmannskop verken (‘n verlate myndorp in die woestyn). Dit is die moeite werd om Luderitz te besoek al kamp julle net een nag daar.

Die wind die waai in Luderitz

Die wind die waai

3. Sesriem en Sossusvlei

Vanaf Luderitz is daar ‘n paar klein dorpies waardeur mens ry oppad Sesriem toe. Persoonlik dink ek nie dit is die moeite werd om daar te oornag nie, maar gaan spandeer so uur of twee in elk. Wat wel die moeite werd is, is om verby die Duviseb kasteel te ry. As dit laat raak kan julle oorweeg om sommer by die kasteel te kamp. Julle behoort maklik plek te kry. Indien julle haastig is, is Sesriem dan die volgende stop.

Kampplek op Sesriem

Kampplek op Sesriem

By Sesriem is die ingang na Sossusvlei toe (60 km Wes). Op Sesriem is daar ‘n baie lekker kamppeerterrein. Ons kon laas nie hier plek kry nie, maar omdat ons eers laat die middag daar aangekom het. As julle dalk by Duviseb oornag, maak seker dat julle sommer vroeg (middag) by Sesriem se kamp aanmeld. Of beter nog hou die telefoon nommer van die kamppeerterrein byderhand en bel hulle sommer die oggend. Indien die “lekker/regte” kamp area vol is, laat hulle jou toe om sommer daar naby in ‘n oop stuk veld te gaan kamp vir dieselfde prys as in die hoofkamp. Dit raak baie koud hier so vat baie warm goed saam.

Sossusvlei

Sossusvlei

Julle kan die volgende dag Sossusvlei gaan verken. Dit is waar die wêreld se hoogste duine is en dit is regtig ‘n baie mooi area. Julle kan gaan piekniek hou in die vlei. Terug op Sesriem moet julle ook die Canyon gaan besoek.

4. Swakopmund

Ek verkies om eerder op Swakopmund te kamp as in Walvisbaai. Daar is nou ‘n moderne kampterein aan die Suide van Swakop gebou. Ek het nog nie daar gekamp nie, maar het wel daar deur gaan ry. Die kamp is baie netjies en elke staanplek het sy eie badkamer, opwasbak en krag. Vanaf Swakopmund is dit maklik om Walvisbaai te verken (30 km ver). Daar is interresante plekke om te gaan sien in Walvisbaai soos die lagune en die soutpanne. Swakopmund is my gunstelling plek in Namibie. Dit is Duits met baie lekker restaurante wat duitse kos maak. Die bier proe ook sommer lekker hier. Julle behoort maklik kampplek hier te kry. Onthou dit word baie koud in die aande hier. Spandeer baie soveel tyd as wat julle kan hier.

Swakopmund

Swakopmund

5. Hentiesbaai

Henties het ook ‘n lekker kamppeerterrein met eie badkamer vir elke staanplek. Hierdie is ‘n regte vakansie dorp. Gaan word dronk by die De Duine hotel. As jy nie visvang nie of jy nie ‘n 4X4 het nie, is hier nie veel om te doen nie. Julle kan van Henties af kies of julle binneland of kuslangs na jul volgende bestemming wil gaan. Ek stel voor gaan kyk hoe Torrabaai lyk.

6. Torrabaai (NB – As dit oop is)

Ek stel voor vind eers uit of Torrabaai daai tyd van die jaar oop is voordat jy verder lees, anders kan jy kamplekke soek oppad Etosha toe. Daar is verskeie plekke om te sien oppad Torrabaai toe soos die Brandberg en Kaap Kruis. Gaan kamp een aand by Torrabaai. Dit is nou Weskus daai. Van hier af is Etosha nie ver nie. Onthou om voor 15:00 by die hek te wees. Julle sal permitte nodig hê en julle kan dit sommer by die hek koop.

7. Etosha

Ek dink julle sal maar ‘n kaart moet raadpleek om te sien waar julle oppad Etosha toe wil oornag, dit is nou as julle wil. Julle sal natuurlik vir Etosha moet plek bespreek. Daar is ook verskeie kamppeerterreine en lodges rondom Etosha.

8. Windhoek

Vanaf Etosha stel ek voor julle begin weer Suidwaarts ry. Gaan kuier lekker in Windhoek voordat julle die Tanskalahari terug vat deur Botswana huistoe.