Ons is nou net terug van ‘n lekker lang naweek se kuier by die familie in Mosselbaai. Van ons het al Donderdag Mosselbaai toe gevlieg. Ester moes eers Durban toe vir werk voordat sy Saterdag oggend kon aansluit. Met die wete dat ons eers Maandagaand terug kom het ons lekker kon ontspan. Soos gewoonlik as ons in Mosselbaai gaan kuier is dit koud. Ek hoor altyd stories dat Mosselbaai die beste klimaat het naas Hawaii. Ek wonder soms of daar nie dalk ‘n ander plek bestaan met die naam Hawaii nie. Miskien êrens in Alaska?
Ek het vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n gholfstok geswaai. Enige persoon wat gholf speel sal weet dat ek met so min oefening sou sukkel om baansyfer te maak en dit nogal op Pinnacle Point. Ja, hulle was reg (ek kon in elk geval nog nooit op enige ander baan baansyfer maak nie). Die gholf het gegaan soos ek verwag het – sleg. Die lugdiens was bly, want my gholfsak was twee kilogram ligter toe ek terug vlieg a.g.v. al die balle wat ek daar op die gholfbaan weg geslaan het. Dit was baie lekker om weer te speel en ek het boonop op die laaste gat ‘n baie goeie afslaan gehad en ‘n syfer gemaak.
Saterdagoggend het ons vir Ester gaan oplaai by die lughawe en toe gou ‘n draai gaan maak by die mooiste strand in die wêreld – Heroldsbaai. Ons wou by Duton’s Cove gou middagete gaan eet, maar dit was te koud en ons is toe terug na Mosselbaai.
Nog baie moeg van Saterdagaand se kuiertjie, het ons Sondagoggend op Pinnacle Point se boot gaan ry. Dit is ‘n baie luukse 40 voet motorboot. Ons het lekker kos en drankies ingepak sommer vistokke ook. Ons het heel oggend rustig in die baai tussen al die walvisse rondgery. Ons het toe voor Santos anker gegooi en die kinders het lekker vis gevang. Wat ‘n lekker dag!
Maandag het ons ‘n lekker ontbyt gaan eet en die res van die dag ontspan. Dankie Ettie-julle ons het lekker gekuier!
Pragtige fotos hoor – dit laat dit so idilies lyk! Lyk my jy geniet die kamera.
Mis julle
Adele
Dit lyk of julle baie pret gehad het. Baie mooi foto’s…
Soos altyd laat julle ‘n gewone kuiertjie spectacular lyk
Wens ons was ook da.
Jy’t niks gese van die seesiekte nie.Boot en babalas is te naby aan mekaar vir my smaak