Wegbreek na Mosselbaai

Ons kom so pas terug van ‘n lekker week lange breek in Mosselbaai. Ons het weer by Ettie-hulle gaan kuier. Dit was so lekker om vir ‘n hele week lank nie aan die werk te dink nie en boonop nog lekker met die familie te kuier. Ek en Ester het Saterdag oggend vroeg lekker op die lughawe gaan ontbyt eet voordat ons George toe gevlieg het. Dit was ‘n bibberende 2 grade Celsius in Johannesburg gewees en ons kon nie wag om van die koue te ontsnap nie. Alhoewel dit nog altyd koud in Mosselbaai was as ons daar gaan kuier het, was ons seker dit sou warmer wees as Johannesburg.

Mosselbaai

Mosselbaai

Ek het hierdie jaar al baie gevlieg, maar ek het nog nie een keer in so ‘n helder dag gevlieg nie. Vandat ons opgestyg het kon ek allerhande interessante en bekende landmerke sien. Ek kon sien hoe Sasol 2 en 3 se rook Centurion besoedel. Ek het ‘n ongelooflike mooi uitsig oor die hele Vaaldam gehad, ek het sneeu op die Drakensberge gesien, ek kon selfs die Sentinel duidelik vanuit die vliegtuig uitmaak, ek het Clarens gesien en al die berge naby aan George was vol sneeu. Net voordat ons geland het, het die vliegtuig ‘n draai gemaak oor Heroldsbaai en van daar af kon ek elke liewe dorpie sien tot in Mosselbaai.

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Oppad terug vanaf Heroldsbaai

Donavan, Duncan en Malcolm het ons by die lughawe kom haal. Ons het toe die res van Saterdag lekker gekuier en lekker in Ettie-hulle se nuwe braaiplek gebraai. Vandat ons in Mosselbaai aangekom het was die vars reuk van die see baie opvallend – ek mis dit baie en ek moet tog eendag by die see kom bly.

Naby aan die walvis

Naby aan die walvis

Sondag het die manne (Donavan, Malcolm en ek) op die bood gaan ry. Ons het al langs die kus af gevaar oppad Heroldsbaai toe. Ons het soos laas keer weer baie walvisse gesien en op een stadium was ons minder as 50 meter vanaf drie walvisse af gewees – moet dit asseblief nie vir die regering noem nie – en een van die walvisse het toe tot reg onder die bood in geswem. Dit was sekerlik die naaste wat ek nog ooit aan ‘n walvis gekom het. Dit was ook baie interesant om Heroldsbaai van die “ander” kant af te sien. Ons het terug gedraai Mosselbaai se kant toe en toe weer stadig al langs die kus af gevaar.

Heroldsbaai van die ander kant af

Heroldsbaai van die ander kant af

Die res van die week het basies uit kuier, slaap en eet bestaan en nog bietjie kuier. Ons is ‘n paar keer George toe om inkopies te doen. Ek het Donavan gehelp om sy rekenaar en netwerk op te gradeer – Donavan, ek hoop as jy hierdie lees doen jy dit vanuit jou sitkamer! Ons het paar keer by Pinacle Point gaan eet.

Ontbyt by Pinnacle Point

Ontbyt by Pinnacle Point

Ons het een middag almal saam op Glentana se strand gaan stap. Ons doelwit was om die wrak daar te gaan kyk, maar ons het sover gekom soos die eerste paar rotse en toe maar omgedraai. Dit was nietemin baie lekker gewees veral vir die kinders. Self Euen het ‘n hele end op sy eie gestap.

Ettie-hulle by die mode parade

Ettie-hulle by die modeparade

Vrydagaand het ons ‘n skoolfunksie in Hartenbos gaan bywoon. Dit was ‘n modeparade en Duncan en Malcolm het die catwalk aangevat. Ettie het ook deelgeneem. Saterdag – ons laaste dag – het ons maar gaan rondry en Saterdagaand het ek die lekkerste vis geëet in ‘n baie lang tyd. Donavan het ‘n vis (ons weet nou nog nie watse soort dit was nie) op die vuur gegooi. Sondagoggend het ons heerlike vakansie se tyd uitgeloop en ons is terug koue Johannesburg toe.

Krieket op die Wanderers

Ons het Saterdag lekker gaan krieket kyk. Suid-Afrika het teen Australië in ‘n toets wedstryd gespeel. Alhoewel Saterdag uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt nie die beste dag van die toets was nie, was dit nie te min baie lekker om deel te wees van ‘n volgepakte Wanderers stadion.

Suid-Afrika besig om te kolf

Suid-Afrika besig om te kolf

Kinga het kaartjies by haar werk gekry en sy en Johan het vir my en Ester genooi om saam te gaan. Ons het in Kinga se werk se losie gesit. Ons was die hele dag nie meer as ses mense in die losie nie, dus was daar genoeg plek om te sit, baie om te eet en baie om te drink.

Johan besig met sy selfoon

Johan besig met sy selfoon

Die wedstryd het Donderdag begin en Australie het eerste gekolf en ‘n totaal van 466 lopies aangeteken. Suid-Afrika het Vrydag en Saterdag probeer om in te haal, maar is al reeds Saterdag almal uit vir net 220 lopies. Die hoogtepunt van die krieket was verseker to AB de Villiers sy honderdtal geslaan het. Al 20 000 mense op Wanders het vir 5 minute lank gejuig. AB het amper die helfte van Suid-Afrika se 220 lopies aangeteken. Australie het weer kom kolf en die spel het 4 uur opgehou, omdat dit skielik begin donker raak het en toe begin reën het.

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middag ete

Soos in die ou dae is almal weer op die veld tydens middagete

Suid-Afrika het toe Sondag en die Maandag nadat ons daar was redelik begin inhaal, maar kon nie genoeg regkry nie en op die einde het Australië die toets gewen.

Perfekte wind

Ek het baie lanklaas so lekker geseil soos gister. Die wind was perfek, dit was nie te warn nie en ons het die heeldag sonder enige probleme op en af geseil. Ons het amper 40km ver geseil en as dit van ons afgehang het sou ons nou nog geseil het. Ons het uiteindelik nou ‘n volledige bemanning en al drie van ons geniet die seil ewe veel. Seil is ‘n span sport en dit is baie belangrik om as ‘n span saam te oefen. Elke beweging wat ‘n bemanninglid maak het ‘n invloed op die ander twee. Saam het ons drie maar min seilervaring en ons het nog ‘n hele paar oefensessies nodig voordat ons weer in die groot regattas kan kompeteer.

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Gisteroggend voordat ons op die water kon gaan, moes ons eers herstelwerk aan die ou sleepwa doen. Die ou geroeste sleepwa gee nog altyd moeilikheid en laas keer toe ons die boot uit die water sleep het daar ‘n stuk yster van die sleepwa af gebreek. Kevin – ons nuutste bemanningslid – is gelukkig heel vaardig agter ‘n swysmasjien en het syne saam gebring dam toe. Hy het sommer gou-gou die sleepwa weer kon herstel.

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Ons gaan ongelukkig nou eers ‘n breek vat. John gaan Kaapstad toe vir sy kersvakansie en ek en Ester gaan ook ‘n ruk lank weg. So, ons volgende regatta sal die Om die Eiland wedvaart wees eers aan die einde van Januarie volgende jaar. Net so terloops, die Om die Eiland wedvaart is die grootste binnelandse regatta in die wêreld en in 2007 het daar 387 bote oor die eindstreep gevaar en ‘n nuwe wêreldrekord opgestel. Ek is bly om te kan sê ek was deel van hierdie wêreldrekord.

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Ek kan nie wag om weer te gaan seil nie!

Operasie Top Notch

Ek het baie lanklaas op Top Notch geseil en die hoof rede was my stukkende enjin en ek moes baie lank wag vir ‘n onderdeel uit Japan en my vriend Peter het besluit hy het genoeg gehad van die Stadt23 klas en het aanbeweeg na die Pacer klas toe, dus het ons nie genoeg bemanning gehad nie. Ek het laas naweek besluit dit is tyd! Dit is tyd om die voëlbolle en spinnerakke van Toppie af te was, die enjin reg te maak en sommer plaasvervanger bemanning te kry en dit alles in een naweek.

Besig om skoon te maak

Besig om skoon te maak

Ons het Saterdagoggend die Weber ingepak, Ester het soos gewoonlik ‘n hele tas vol klere en ander vroumens goed ingepak, ek het my gereedskapkas, die enjin onderdele en ‘n paar skoonmaakmiddels vir die boot ingelaai en ons was weg. Ons het oppad vir ons ‘n paar skaaptjops en drankies gekoop vir die aand se braai.

Ek was baie verras toe ek sien hoe maklik ek die enjin kon regmaak. Van al die staan was die sleepwa se wiel pap. Ek moes eers ‘n pomp in die hande kry wat baie moelik was, want daar was nie veel mense by die dam nie. Ons het besluit om sommer een te gaan koop in Vanderbijlpark. Nadat ons die wiel gepomp het, het ons die boot in die water gesit en haar vasgemeer. Die dam se vlak (77 %) was gelukkig net genoeg sodat ek nog in die hoof hawetjie kon vasmeer. Dit was nou al drie uur die middag en dit was baie warm gewees (36 grade C) en daar was nog baie werk om the doen.

Rustig

Rustig

Uit die bloute bel John my en laat weet daar is iemand wat belang stel om saam te seil. Op hierdie stadium lyk dit toe vir die eerste keer of ek dalk my hele te-doen lysie kan aftiek, insluitend bemanning te kry. Ons het die boot begin skoonmaak en Top Notch het skielik weer lus gelyk vir seil.

Ester en ek het Saterdagaand sommer op Top Notch geslaap. Die aand het ‘n groot storm opgesteek, maar die het meer geblaf as gebyt. Ek moet bieg dat ek en Ester redelik skrikkerig was vir al die weerlig hier reg bo ons en ons het reg onder ‘n 11 meter lange weerligafleier geslaap. Die storm het darem net vir so uur aangehou en toe was dit weer rustig – ek dink so, want ek het die res van die aand soos ‘n babatjie geslaap.

Die storm kom nader

Die storm kom nader

Sondagoggend het ons lekker ontbyt by die klub geëet. John en die nuwe bemaninglid – Kevin – het by ons aangelsuit en Top Notch het weer geseil – in baie sterk wind – te sterk! Ons was vir so paar ure rond geblaas voordat ons maar moes terug kom. Ek dink seilers is maar baie soos boere, kla die heeltyd oor die weer.

Mosselbaai

Ons is nou net terug van ‘n lekker lang naweek se kuier by die familie in Mosselbaai. Van ons het al Donderdag Mosselbaai toe gevlieg. Ester moes eers Durban toe vir werk voordat sy Saterdag oggend kon aansluit. Met die wete dat ons eers Maandagaand terug kom het ons lekker kon ontspan. Soos gewoonlik as ons in Mosselbaai gaan kuier is dit koud. Ek hoor altyd stories dat Mosselbaai die beste klimaat het naas Hawaii. Ek wonder soms of daar nie dalk ‘n ander plek bestaan met die naam Hawaii nie. Miskien êrens in Alaska?

Walvis by Mosselbaai

Daar was walvisse net waar jy kyk

Ek het vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n gholfstok geswaai. Enige persoon wat gholf speel sal weet dat ek met so min oefening sou sukkel om baansyfer te maak en dit nogal op Pinnacle Point. Ja, hulle was reg (ek kon in elk geval nog nooit op enige ander baan baansyfer maak nie). Die gholf het gegaan soos ek verwag het – sleg. Die lugdiens was bly, want my gholfsak was twee kilogram ligter toe ek terug vlieg a.g.v. al die balle wat ek daar op die gholfbaan weg geslaan het. Dit was baie lekker om weer te speel en ek het boonop op die laaste gat ‘n baie goeie afslaan gehad en ‘n syfer gemaak.

Gholf by Pinnacle Point

Gholf by Pinnacle Point

Saterdagoggend het ons vir Ester gaan oplaai by die lughawe en toe gou ‘n draai gaan maak by die mooiste strand in die wêreld – Heroldsbaai. Ons wou by Duton’s Cove gou middagete gaan eet, maar dit was te koud en ons is toe terug na Mosselbaai.

Heroldsbaai

Heroldsbaai

Nog baie moeg van Saterdagaand se kuiertjie, het ons Sondagoggend op Pinnacle Point se boot gaan ry. Dit is ‘n baie luukse 40 voet motorboot. Ons het lekker kos en drankies ingepak sommer vistokke ook. Ons het heel oggend rustig in die baai tussen al die walvisse rondgery. Ons het toe voor Santos anker gegooi en die kinders het lekker vis gevang. Wat ‘n lekker dag!

Surfer by Delfino's in Mosselbaai

Surfer by Delfino's

Maandag het ons ‘n lekker ontbyt gaan eet en die res van die dag ontspan. Dankie Ettie-julle ons het lekker gekuier!