Nadat ons die roes afgeslaap het na die vorige aand se wynproe, terloops Phesantekraal se chenin blanc was loshande die wenner gewees, is ons laat oggend by Sanddrif weg om die berge te gaan verken vanuit die gerief van ‘n lugversorgde motorkajuit.
Ons het ‘n sirkelroete gery wat ons verby Algeria tot in Clanwilliam gevat het. Middagete het ons in die Clanwilliam hotel geniet. Vanaf Clanwilliam het ons Noord-oos gedraai oor die Pakhuispas gery en verby historiese nedersettings soos Wupperthal en Eselbank en weer terug tot by Sanddrif via Matjiesrivier.
Hier is drone video wat ek tydens ons trippie gemaak het.
Die pad is meestal grondpad en ons het verskeie passe oorgesteek waarvan die hoogste en steilste sekerlik die Eselbankpas is.
Die roete om en deur die Sederberge
Die roete is sowat 175 Kilometer lank. As jy die regte voertuig het is dit die moeite werd om die roete te ry. Daar is ‘n verrassing om elke hoek en draai met asemrowende uitsigte.
Daar is verskeie staproetes in die asemrowend mooi Kogelberg-natuurreservaat. Die langste roete in die reservaat en die een wat reg rondom Platberg gaan, is die Kogelberg staproete. Dit is ‘n 24 kilometer sirkelroete wat nie baie moeilik is nie, maar omdat dit so lank is moet jy redelik stapfiks wees voordat jy die roete aanpak.
Oudebosch verblyf
Kogelberg-natuurreservaat is sowat ‘n honderd kilometer van my huis af. Die ingang is baie naby aan die brug oor die Palmietrivier net voor Kleinmond. Vanaf Kaapstad se kant af ry ‘n mens een van die mooiste roetes in die land, die R44 of te wel Clarence drive. Die pad volg die kuslyn tot by die afdraai na die Kogelberg-natuurreservaat. Ek het vir Hugo sesuur by sy huis opgelaai en ons was net so voor half-agt voor die hek, so paar minute voor die hek oopmaak. Terwyl ons voor die hek vir die beamptes wag, het Hugo van sy koffie met my gedeel en dit het gehelp teen ‘n baie koue windjie wat nou buite gewaai het.
Vanaf die bookant van Oudebos
Jy het ‘n permit nodig om te stap en jy kan een vooraf deur Cape Nature bespreek, of selfs by ontvangs een kry. Onthou dat ontvangs nie ‘n selfoon sein het nie wat ook beteken dat hulle nie kaart betalings aanvaar nie. Ons het hierdie les gisteroggend geleer en gelukkig is Kleinmond se Sasol gerage net ‘n katspoegie weg, waar ons kontant kon trek. Nadat al die adminstrasie uiteindelik afgehandel was, het ons net na sonsopkoms in die pad geval.
Die vallei met Platberg regs
Die roete begin met ‘n redelike styl klim deur die Oudebos, ‘n inheemse woud. Hier loop ons in geelhout, stinkhout en nog ‘n verskeidenheid bome se koelte deur. Dele van die woud is so dig toegegroei dat dit amper donker is. Ons klim al langs die Oudebosrivier op en kruis dit so nou en dan. Behalwe vir die gekabbel van die water en ‘n voëltjie wat nou en dan fluit is dit doodstil in die bos.
Die oseaan sigbaar vanaf die roete
Na min of meer 400 meter se klim bereik ons die bokant en begin ons in ‘n westelike rigting stap. Ons stap nou in ‘n vallei tussen fynbos deur reg langs die Platberg af. Dit is nou ook effens warmer, maar bewolk. Ons kon nie vir beter weer gevra het nie. Na sowat ‘n huur en ‘n half is dit tyd vir ‘n breek en ons eet ‘n paar snacks en drink weer van Hugo se koffie.
Omring deur berge
Ek het onlangs vir my ‘n hommeltuig gekoop, ‘n DJI mini 3. Ek het ‘n ligte en kompakte “vlieënde-kamera” gesoek wat ek kan saamdra as ek gaan stap om die natuurskoon met ‘n ander hoek te kan afneem. Na ons koffiebreek het ons besluit om die tuig die lug in te stuur. Ek het maar min ondervinding met die kamerawerk en dit is duidelik dat daar nog baie was om te leer. Ek het ook gesukkel om hom te land en Hugo moes hom van agteraf bekruip om hom uit die lug uit te pluk. Veilig terug op moederaarde en terug in my rugsak het ons besluit om weer later te probeer.
Volg die tweespoor pad
Ons het verder in die vallei afgestap en jy word omring deur berge en lower groen fynbos. Plek-plek is jy hoog genoeg om oor die rand van die vallei die oseaan aan die ander kant te sien. Teen hierdie tyd het daar skielik ‘n baie sterk noordwestewind opgesteek en daar het so paar druppels reën geval. Ons het nie ver gehad om te stap nie, voordat ons saam met die wind in ‘n oostelike rigting in draai nie.
Die pad is op sommige plekke toe gegroei
Uiteindelik het ons die wind van agter, en ons het ‘n tweespoor pad bereik. Van hier af is dit al die pad afdraande tot by die Palmietrivier. Die uitsig het nou verander, daar is nou ander berge voor ons en links van ons met die Platberg steeds aan ons regterkant. Ons het al langs die Louwsrivier afgestap. Ons kon nie ophou wonder wie en wanneer hierdie tweespoor pad gebou is nie, dit was duidelik dat dit met baie moeite gebou was en dit moes baie lank terug gewees het. Die natuurreservaat se brosjure verwys na ‘n pad wat hier rond gebou was in die laat 1930’s. Ons is nie seker of hulle na hierdie tweespoor verwys nie.
Pad langs die Palmietrivier
Uiteindelik bereik ons die Palmietrivier en die laaste deel van die roete. Hier draai ons in ‘n suidelike rigting in en ons het nog sowat vyf kilometer oor tot by die eindpunt. Ons het op die tweespoor pad gebly met die sterk wind steeds van agter af. Hierdie deel van die pad het ek begin moeg raak en op elke bultjie gehoop ek sien die eindpunt. Na so paar teleurstellings is die einde in sig. Terug by die ontvangs drink ons gou iets en vat weer die pad langs die see aan terug huis toe.
Terug by ontvangs
In die amper sewe ure wat ons gestap het, het ons verby slegs vyf ander mense gestap. Die isolasie van die roete deur die berglandskappe en die fynbos maak hierdie een van my gunsteling dag stap roetes in die Kaap. Terug by die huis het ek heeldag aan die natuurskoon van die roete gelê en terug dink en besef hoe gelukkig ek is om hier in die Kaap te woon. Hierdie was die derde keer wat ek die roete gestap het en ek sal dit weer en weer stap.
ʼn Vars wintersoggend in Kaapstad met geen wind of wolke nie, het die uitstappie teen Leeukop uit en tot by Seinheuwel onvergeetlik gemaak.
Eerste tekens van daglig oor Kaapstad
Daar is nie veel meer wat ʼn mens oor Leeukop kan skryf nie, maar om een punt te herhaal is dat die uitsig een van die beste is wat ʼn mens in Kaapstad kan kry.
Bo-op Leeukop
Ek en Hugo het vroeg oggend begin stap terwyl dit nog pikdonker was, en sowat ʼn uur later was ons bo-op die berg met elk ʼn koppie koffie in die hand.
Tafelberg vang die eerste ligstrale.
Voordat die son nog kans gehad het om kop te wys, was ons reeds oppad af. Ons is besig met ons eie onoffisiële 13 Pieke en dus was Seinheuwel ingesluit by Sondag se uitstappie.
Oppad af
Vanaf Leeukop tot by Seinheuwel is nie baie ver nie en uitsigte oor Kaapstad en die oseaan wissel afhangende aan water kant jy van die heuwel se rug loop. Jy stap ook naby die bekende Moslem graftombes verby.
Seinheuwel vanaf Leeukop
Teen hierdie tyd van die oggend was daar reeds baie mense op die berg en elk in sy eie rigting in. Ons het heelwat mense gesien wat met hul honde gestap het.
Leeukop se skaduwee val op die see.
Uiteindelik bereik ons Seinheuwel se driehoeksbaken met nie ‘n toeris in sig nie. Van daar is ons teerpadlangs terug na Leeukop se parkeerarea. In totaal het ons sowat 9 kilometer gestap.
Ons het onlangs vir die tweede keer by Dwarsberg gaan kamp en dit weereens ongelooflik lekker gevind. Hier is tien redes hoekom ons so baie daarvan hou:
1 Groot stuk plat grasperk om kamp op te slaan
Daar is slegs 10 kampeerstaanplekke op Dwarsberg en almal het ‘n masiewe lowergroen grasbedekte staanplek. Elke kampplek is groot genoeg vir 3 tot 4 tente. Dit is duidelik dat die eienaars baie mooi na die gras omsien.
Groot grasperk om kamp op te slaan.
2 Privaatheid
Die kampplekke is honderde meters uitmekkaar met baie bome en fynbos tussen jou en jou buurman. Kanse dat sy musiek jou gaan pla is skraal. Prima familietyd.
3 Eie ablusie
Elke kampplek het sy eie ablusie en is silwer skoon. Daar is ‘n gasgeiser wat sorg vir ‘n heerlike warm stort met ‘n uitsig oor die berge.
4 Langs die rivier
Kampplekke is op die oewer van die Holslootrivier (jip, ek weet) en daar is verskeie swempoelle groot genoeg vir Karla se opblaas unicorn en nog plek om in die water te baljaar. Ons was nog nooit daar in die somer nie, maar kan net onsself voorstel dat op ‘n warm somersdag jy min tyd elders sal spandeer.
5 Berge
Dwarsberg is in ‘n vallei gelee met berge aan beide kante van die kampplek. Die sonsopkoms en ondergang sorg vir allerhande skakerings van kleur teen die berge.
Hoë berge omring die kampplek.
6 Perfek vir aksie en avontuur
Daar is ‘n bergpas wat lei na die Stettynskloofdam toe. Die pad smeek om met ‘n bergfiets gery te word. Die dam is sowat tien kilometer vanaf ons kampplek af. Ons het verskeie fietsryers op die pad teegekom. Daar is ook drie afgemerkte staproetes in die oord, met een roete wat al die pad na ‘n waterval met ‘n groot swempoel toe gaan. Benewens fietsry en stap kan jy ook probeer forrelle vang. Ek is nie ‘n visserman nie, maar daar was baie ander wat probeer het.
Stettynskloofdam is sowat tien kilometer vanaf die kampplek
7Dit is ‘n uur en ‘n half vanaf ons huis
Dwarsberg is minder as 100 kilometers vanaf ons huis in Bellville af. Deur die tonnel en jy is daar, of ry oor die Du Toitskloofpas vir ekstra uitsig as jy nie te haastig is nie.
8 Daar is ‘n bistro en kiosk by ontvangs.
‘n Kiosk is by ontvangs en verkoop die gewone kamp goed wat jy moontlik vergeet het insluitend wyn. Daar is ook ‘n bistro en is baie populêr. Jy kan lekker ontbyt daar eet en hulle maak ook heerlike pizza of eet ‘n ontbyt pizza.
Die kiosk by Dwarsberg, net langsaan die Restaurantjie
9 Ontkoppel die stad
Die meeste staanplekke het elektrisieteit, maar ‘n paar is daarsonder. Ek hou daarvan om my eie te kan maak en verkies die staanplekke sonder krag. Daar is selfoonsein, maar is maar swak. Ek vermoed ander kampe het beter sein. Hoe minder elektronika hoe rustiger is die naweek.
Baie suikerbekkies het die proteas kom besoek
10 Daar is baie om te verken in die omgewing
Daar is baie om te doen en sien in die Breedekloof. Daar is ‘n klomp wynplase in die omgewing en ons het Du Toitskloof besoek. Ander wynplase sluit Slanghoek, Opstal, Bergsig en vele meer in. Verskeie reservate in die omgewing en ons het ook die Brandvleidam besoek.
Met ons avontuure in die Richtersveld nog vars in ons geheue het ons besluit dat dit weer tyd is om te gaan kamp, maar van warm son en stof het ons eers genoeg gehad so die keer was grasbedekte staanplekke onder hoë bome ons voorkeur. Na ‘n bietjie navorsing het ek vir ons kampplek bespreek by Khomeesdrif naby Riviersonderend.
Daar is baie gras waarvandaan mens die swemmers kan dophou.
Ons het Vrydagmiddag pad gevat op die N2 na Riviersonderend sowat 160 kilometer vanaf ons huis hier in Kaapstad. Na die besige Vrydagmiddag verkeer net voor Sir Lowryspas het dinge kalmeer en ons het redelik vinnig by ons bestemming uitgekom.
Daar is baie kampplekke en A1 tot A9 is reg langs die rivier. Ons het op A5 gekamp.
Khomeesdrif lê reg langs die Riviersonderend (rivier). Die kampterrein is groot en daar is maklik meer as vyftig kampplekke beskikbaar. Die mees populêre staanplekke lê reg langs die rivier onder skaduryke bome. Vanaf die ander kampe word jy beloon met ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge. Elke staanplek is ruim genoeg en ‘n tent of karavaan pas maklik daarin en dan nog vele plek vir ‘n gazebo of so, daar is ‘n waterpunt naby en ‘n groot braaiput waarin ons elke aand ‘n lekker kampvuur gemaak het. Daar is wel nie kragpunte nie, maar dit pla ons nie veel nie. Die meeste staanplekke is met gras bedek.
Daar is speelplek vir kinders.
Ons was verbaas oor hoe besig dit daar was. Een rede is sekerlik dat dit nog skoolvakansie was, die ander heel moontlik dat die oord honde-vriendelik is. Daar was baie honde! As jy nie veel van ‘n honde liefhebber is nie, sal ek jou aanraai om eerder nie hierna toe te kom nie. Ons het geen probleem gehad met die honde nie.
Die uitsig vanaf die Lapa by die swemplek.
Ons naweek hier was amper perfek. Oggende was salig en met ‘n lekker koffie in die hand het ons in die woud oorkant die rivier ingestaar. Die paar dae was warm en min wind. Karla het lekker geswem en haar self vermaak met haar springtou, Ester het boek gelees ek het voëls gekyk en het ‘n Donkervlieëvanger en ‘n Paradysvlieëvanger onder andere in my lysie afgemerk. Die naweek het ons almal baie goed gedoen en ons almal het dit baie geniet.
Staanplekke op gras en ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge.
Ons sal vir seker weer gaan en daar is niks wat ons sal verander nie. Miskien sal ons vroeër bespreek sodat ons op staanplek A1, 2 of 3 kan staan.