Leeukop en Seinheuwel

ʼn Vars wintersoggend in Kaapstad met geen wind of wolke nie, het die uitstappie teen Leeukop uit en tot by Seinheuwel onvergeetlik gemaak.

Eerste tekens van daglig oor Kaapstad

Daar is nie veel meer wat ʼn mens oor Leeukop kan skryf nie, maar om een punt te herhaal is dat die uitsig een van die beste is wat ʼn mens in Kaapstad kan kry.

Bo-op Leeukop

Ek en Hugo het vroeg oggend begin stap terwyl dit nog pikdonker was, en sowat ʼn uur later was ons bo-op die berg met elk ʼn koppie koffie in die hand.

Tafelberg vang die eerste ligstrale.

Voordat die son nog kans gehad het om kop te wys, was ons reeds oppad af. Ons is besig met ons eie onoffisiële 13 Pieke en dus was Seinheuwel ingesluit by Sondag se uitstappie.

Oppad af

Vanaf Leeukop tot by Seinheuwel is nie baie ver nie en uitsigte oor Kaapstad en die oseaan wissel afhangende aan water kant jy van die heuwel se rug loop. Jy stap ook naby die bekende Moslem graftombes verby.

Seinheuwel vanaf Leeukop

Teen hierdie tyd van die oggend was daar reeds baie mense op die berg en elk in sy eie rigting in. Ons het heelwat mense gesien wat met hul honde gestap het.

Leeukop se skaduwee val op die see.

Uiteindelik bereik ons Seinheuwel se driehoeksbaken met nie ‘n toeris in sig nie. Van daar is ons teerpadlangs terug na Leeukop se parkeerarea. In totaal het ons sowat 9 kilometer gestap.

Seinhuewel se baken.