Ons kamp langs Riviersonderend

Met ons avontuure in die Richtersveld nog vars in ons geheue het ons besluit dat dit weer tyd is om te gaan kamp, maar van warm son en stof het ons eers genoeg gehad so die keer was grasbedekte staanplekke onder hoë bome ons voorkeur. Na ‘n bietjie navorsing het ek vir ons kampplek bespreek by Khomeesdrif naby Riviersonderend.

Daar is baie gras waarvandaan mens die swemmers kan dophou.

Ons het Vrydagmiddag pad gevat op die N2 na Riviersonderend sowat 160 kilometer vanaf ons huis hier in Kaapstad. Na die besige Vrydagmiddag verkeer net voor Sir Lowryspas het dinge kalmeer en ons het redelik vinnig by ons bestemming uitgekom.

Daar is baie kampplekke en A1 tot A9 is reg langs die rivier. Ons het op A5 gekamp.

Khomeesdrif lê reg langs die Riviersonderend (rivier). Die kampterrein is groot en daar is maklik meer as vyftig kampplekke beskikbaar. Die mees populêre staanplekke lê reg langs die rivier onder skaduryke bome. Vanaf die ander kampe word jy beloon met ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge. Elke staanplek is ruim genoeg en ‘n tent of karavaan pas maklik daarin en dan nog vele plek vir ‘n gazebo of so, daar is ‘n waterpunt naby en ‘n groot braaiput waarin ons elke aand ‘n lekker kampvuur gemaak het. Daar is wel nie kragpunte nie, maar dit pla ons nie veel nie. Die meeste staanplekke is met gras bedek.

Daar is speelplek vir kinders.

Ons was verbaas oor hoe besig dit daar was. Een rede is sekerlik dat dit nog skoolvakansie was, die ander heel moontlik dat die oord honde-vriendelik is. Daar was baie honde! As jy nie veel van ‘n honde liefhebber is nie, sal ek jou aanraai om eerder nie hierna toe te kom nie. Ons het geen probleem gehad met die honde nie.

Die uitsig vanaf die Lapa by die swemplek.

Ons naweek hier was amper perfek. Oggende was salig en met ‘n lekker koffie in die hand het ons in die woud oorkant die rivier ingestaar. Die paar dae was warm en min wind. Karla het lekker geswem en haar self vermaak met haar springtou, Ester het boek gelees ek het voëls gekyk en het ‘n Donkervlieëvanger en ‘n Paradysvlieëvanger onder andere in my lysie afgemerk. Die naweek het ons almal baie goed gedoen en ons almal het dit baie geniet.

Staanplekke op gras en ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge.

Ons sal vir seker weer gaan en daar is niks wat ons sal verander nie. Miskien sal ons vroeër bespreek sodat ons op staanplek A1, 2 of 3 kan staan.