Op teen Mariepskop

As jy al ooit die Panorama roete gery het – dis nou die baie bekende roete vanaf Graskop verby al die watervalle, God’s Window en die Drie Rondawels, het jy al Mariepskop gesien al weet jy dit nie. Dis die hoogste punt aan die oorkant van die Canyon. Dis die kop met al die telekommunikasietorings op. Ek het die laaste paar jaar al hoe meer foto’s van Mariepskop gesien en meer oor Mariepskop op die Internet gelees. Dit als het my oortuig om Mariepskop self te gaan besoek.

Oppad op teen Mariepskop

Oppad op met die sementpad.

Verlede week het ons ‘n paar dae gaan uitspan by die Blyde Canyon oord. Die oord is deel van die Forever Resorts groep wat ook ‘n ander oord in die omgewing besit, naamlik Swadini, en dit is een van my gunsteling kampplekke in Suid-Afrika. Die Blyde Canyon en Swadini is soos die kraai vlieg skaars 10 kilometer uitmekaar uit, maar amper ‘n 100 kilometer padlangs.

Tyd om ietsie te drinkbo op Mariepskop

Tyd om ietsie te drink

Na die lekker kuiertjie by die Blyde oord was dit tyd vir oppak en ons het ‘n goue geleentheid om die langer pad terug te vat Nelspruit toe. Almal het ingestem en ons is weg. Ons is eers Swadini toe vir middagete en toe uiteindelik kon ek Mariepskop gaan verken. Aangesien die area in ‘n natuurreservaat is was ek onseker oor toegang. Ek het die bosboustasie se nommer op die Internet gekry en hulle gekontak. Hulle het aanbeveel dat ek met ‘n gids reël om saam te kom. Hulle het vir my Jeff se nommer gegee. Ek het met Jeff gereël om ons langs die pad te ontmoet.

Mariepskop kommunikasietorings

Torings

Om daar te kom het ons vanaf Swadini Klaserie toe gery en daar regs gedraai op die Mariepskoppad (by die “One Stop”). Ons het so 10 kilometer grondpad gery voordat ons Jeff langs die pad sien staan het. Ons het elk ‘n permit teen R30 by Jeff gekoop. Ek het ‘n idee dit is nie offisiële permitte nie, alhoewel Jeff anders belowe het. Jeff het saam met ons tot by ‘n sekuriteitshek gery, so 12 kilometer verder. Hy het ons vertel wat om te verwag en ons ingelig oor die plante, voëls en diere wat hier voorkom. Jeff het ‘n ongelooflike kennis van die gebied gehad.

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting vanaf Mariepskop

Uitsig in n Noord-Oostelike rigting

Die pad opwaarts is baie styl. Aanvanklik is dit grondpad, maar sowat 5 kilometer van bo af word dit ‘n baie kronkelrige sement pad. Klaserie is sowat 600 meter bo seevlak en uiteindelik bereik jy ‘n hoogte van 1 935 meter bo seevlak. Die hoogste punt op die kop is 1 944 meter bo seevlak. Die sementpad is nou, maar in ‘n baie goeie toestand en veilig om te ry.

Mariepskop uitsig

Amper 2 000 meter bo seevlak

Bo op kon ons uitklim en verken. Die uitsig is fantasties! Op ‘n helder dag kan jy blykbaar Maputo van daar af sien. Die plantegroei is ook ongelooflik. Daar is meer as 2 000 plantspesies op Mariepskop alleen insluitend fynbos, meer as in die hele Krugerwildtuin en baie meer as wat daar op Tafelberg voorkom. Die unieke plantegroei op die berg lok natuurlik baie interessante voëlspesies. Die Samango apie kom ook hier voor.

Fantastiese uitsig vanaf Mariepskop

Fantastiese uitsig

Vanweë die hoogte en ligging van die kop is daar reeds in die laat 1950’s ‘n radarstasie deur die lugmag hier gebou. Meeste mense het gedink dit sal onmoontlik wees om ‘n pad tot bo op die berg te bou, maar hulle is verkeerd bewys. Die radarstasie is amptelik in 1965 geopen. Sederdien het al wat ‘n kommunikasie maatskappy ‘n toring hier kom oprig.

Mariepskop plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Plantegroei met die Drie Rondawels in die agtergrond

Ons kon maar slegs ‘n uur of twee hier bo bly voordat ons weer die pad moes vat Nelspruit toe. Ek is seker daar is nog baie om te verken. Ek beplan reeds ‘n naweeklange besoek aan die berg.

Mariepskop kronkelpad

Kronkelpad af

As jy ‘n gids benodig kan jy gerus vir Jeff bel. Hy het waardevolle kennis van die area en ook van die fauna en flora wat hier voorkom. Hy kan gekontak word op 072 995 5441. Jy kan ook die bosboustasie bel vir meer inligting: 015 793 2581.