Wou jy al ooit met die trein af Kaap toe ry, maar het altyd gewonder of dit veilig is, skoon is, lekker is? Die antwoord is heel eenvoudig; ja, dit is! Vir nie baie meer as ‘n vliegtuigkaartjie nie kry jy vyf-en-twintig uur se rus vir die siel, heerlike kos en ‘n kans om terug te sit en by die venster uit te staar na ‘n landskap wat deurentyd verander.
Ons het in Desember die Volvo seiljagwedvaart gaan kyk wat in Kaapstad aangedoen het na die eerste been. Dit was Desember so ons wou ons naweek in Kaapstad ‘n bietjie rek en het besluit om met die trein af te ry eerder as om Kaapstad toe en terug te vlieg. Ek het al voorheen op ‘n trein gery, maar Ester kan amper nie onthou het wanneer sy laas haar voet op ‘n trein gesit het nie. Boonop vat ons ‘n twee-jarige dogtertjie saam wat enige tyd kan besluit treinry is nie vir haar nie. Ons het glad nie geweet wat om van die treinrit te verwag nie. Ons was aangenaam verras…
Die Shozaloza Meyl (premier klas) vertrek Donderdae en Sondae vanaf Parkstasie. Ons het die Donderdag vertrek. Die laaste keer wat ek op Parkstasie was, was toe ek, JJ en Yvette met die trein Mosselbaai toe was, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Parkstasie is baie besig en ‘n mens hou maar jou goedjies outomaties ‘n bietjie stywer vas. Eers in die premierklas se sitkamer kon ons ontspan en ons opgewondenheid met ons medepassasiers deel terwyl ons ‘n versnapering geniet. Ons bagasie was reeds in ons kompartement toe ons opklim. Stiptelik drie uur het die treinbestuurder sy fluitjie geblaas en die trein het vertrek. Ons is dadelik genooi vir sjampanje en biltong in die sitkamerwa waar hulle ons amptelik op die trein verwelkom het, hulle aan ons voorgestel het en vertel het hoe alles op die trein werk en hoe laat ons etes is.
Die kompartement het drie beddens, genoeg plek vir al ons bagasie (insluitend twee reuse tasse, Karla se stootwaentjie en ‘n skouersak of twee), ‘n kassie waarin jy eetgoed of wat ook al kan bêre en ‘n tafel. Daar is lugversorging in en selfs ‘n 220v kragprop. Elke bed het ‘n leeslampie. Die kompartement is klein maar gerieflik en het volvloermatte. Alles is goed in stand gehou en skoon. Die toilet en stort word met ander kompartemente op jou wa gedeel. Die toilet was baie skoon en anders as in die ou dae spoel die toilet soos die een by jou huis en maak nie net met ‘n valdeurtjie oop nie.
Al die maaltye en verversings is in die prys ingesluit en in die vyfentwintig uur op die trein kry jy ‘n vyfgang-aandete, ‘n Engelse ontbyt, middagete en tee en koek tussin in. Jy kan ook enige tyd ietsie koels van die kroeg af bestel op jou eie rekening. Aandete was ongelooflik, nie net die kos nie, maar die feit dat jy in ‘n trein sit erens in die Wes-Transvaal en rustig kan eet, rooiwyn drink en gesels. Romanties som dit eintlik beter op.
Terwyl jy aandete eet, maak die personeel solank jou bed op. Daar was selfs ‘n spa-wa aangehak en Ester het na ete vir ‘n masering gegaan. Die slaap was iets waarna ek uitgesien het. Klikke-die-klik, klikke-die-klik en daars ons al drie van ons aan die slaap.
Die volgende dag het ons tussen etenstye in die kompartement kom ontspan of in die sitkamerwa gaan kuier. Ester het ‘n boek gelees, ek het ‘n fliek op my lappie gekyk en Karla het op en af in die gang gehardloop. Ander mense het kaart gespeel, ‘n paartjie het mekaar ge-BBM en ‘n ander gesin het lekker saam om ‘n tafel gekuier. Daar was heelwat mense op die trein, maar dit het nooit so gevoel nie.
Heeldag kon ons die Karoo landskap bewonder en nou en dan vir die arme mense wat by ‘n ry/go op die N1 staan en wag lag en waai terwyl ons in lugversorgde treinwa verby gly. Ons het deur die langste tonnel in die land gery, gekronkel deur die Hexriviervallei. Hoe nader ons aan die Kaap gekom het hoe mooier het die uitsig geraak.
Later Vrydag middag het ons by Kaapstadstasie aangekom. Net betyds – nie te lank nie en nie te kort nie. Trein ry Kaapstad toe is definitief die moeite werd en ek kan dit aan enige iemand aanbeveel. Ek sal dit weer doen. Jou vakansie begin reeds op Parkstasie.
Stuur asb vir my ‘n pryslys
Hi Elizabeth,
Jy kan die pryslys op SAR se webwerf kry. Hier is ‘n skakel na die pryse en tye toe: http://southafricanrailways.co.za/premier_classe_timetable.html
Ons het in die Premier klas gery, daar is ook ‘n goedkoper klas beskikbaar.
Groete