Dit is net ongelooflik hoe vinnig ‘n maand kan verbyvlieg. Karla is vandag – 16 Desember – 1 maand oud. Ek het nie gedink ‘n klein babatjie kan mens so besig hou nie, maar glo my die dae is vir my baie kort.
As ek terug dink aan haar geboortedag. Dit het so onwerklik gevoel toe ons die 16de November daar in teater wag. Dit was die beste ervaring in ‘n teater wat ek nog ooit beleef het. Hannes het so oulik gelyk in sy teaterpakkie. Die atmosfeer in die teater was so kalm – almal het lekker gesels. Die mooiste geluid is toe dr Baker vir Karla uithaal en sy begin skree. Nie huil nie – skree. Toe vir ‘n oomblik met haar blou lyf op my bors lê was sy alreeds vir my die mooiste dogtertjie in die hele wêreld. Die hele keisersnit ervaring was spesiaal en ek het nogal gou gesond geword.
Sy het al so gegroei. Van die ou pap babatjie wat nie kan fokus nie tot ‘n karnallie wat nie sommer meer heeldag wil slaap nie. Sy kan nou al haar koppie vir ‘n paar oomblikke regop hou en sy kyk al heerlik rond. By ‘n gebrek aan woorde en geluide, doen haar ogies maar die gesels werk.
Karla het sowaar ons lewens verander en ons slaap vir altyd versteur, maar ek sal dit nooit anders wil hê nie. As ek moeg is en die nare hormoonmonster loer oor my skouer, kyk ek net na daar die twee babagrys ogies en dan is alles weer reg!
Onthou julle kan meer fotos van Karla sien in “Ons foto albums” of klik hier .