Oor 6 weke stap ons die Otter en ek moet begin om te oefen. Boonop het ek verlede week vir my nuwe stapstewels gekoop wat ek moet uittrap voordat ek die Otter aandurf. Sondag was ‘n goeie geleentheid om beide te doen. Ek het besluit om in die Silwermyn-natuurreservaat te gaan stap. Dit was my eerste besoek.

Ek kon my Wildcard gebruik om by die hek in te gaan en het maklik parkering gekry naby die dam. Ek het dadelik begin stap in die rigting van die Noordhoekpiek. Gelukkig het ek Saterdagaand ‘n kaart van my beplande roete mooi bestudeer, want daar is verskeie paadjies wat vanaf die dam lei wat nie baie goed gemerk is nie.

Die plan was om op te stap na Noordhoekpiek en dan te besluit of ek Constantiaberg wil aanpak, maar met net een gluur na Constantiaberg se kant toe het ek besluit Noordhoekpiek gaan genoeg wees vir die dag. Constantiaberg is baie hoog en lyk intimiderend veral as jy alleen stap en nog nooit daar gestap het nie.

Met die roete nou heelwat makliker kon ek my tyd vat om die panoramiese uitsig in te neem.

Dit het my so drie ure gevat om die sowat 8 kilometers te voltooi en ek was betyds terug by die huis vir middagete. Die roete is redelik maklik met asemrowende uitsig as beloning. Ek kon natuurlik Noordhoekpiek van my 13 pieke lysie afmerk.