Perfekte wind

Ek het baie lanklaas so lekker geseil soos gister. Die wind was perfek, dit was nie te warn nie en ons het die heeldag sonder enige probleme op en af geseil. Ons het amper 40km ver geseil en as dit van ons afgehang het sou ons nou nog geseil het. Ons het uiteindelik nou ‘n volledige bemanning en al drie van ons geniet die seil ewe veel. Seil is ‘n span sport en dit is baie belangrik om as ‘n span saam te oefen. Elke beweging wat ‘n bemanninglid maak het ‘n invloed op die ander twee. Saam het ons drie maar min seilervaring en ons het nog ‘n hele paar oefensessies nodig voordat ons weer in die groot regattas kan kompeteer.

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Oppad terug na 'n lekker dag se seil

Gisteroggend voordat ons op die water kon gaan, moes ons eers herstelwerk aan die ou sleepwa doen. Die ou geroeste sleepwa gee nog altyd moeilikheid en laas keer toe ons die boot uit die water sleep het daar ‘n stuk yster van die sleepwa af gebreek. Kevin – ons nuutste bemanningslid – is gelukkig heel vaardig agter ‘n swysmasjien en het syne saam gebring dam toe. Hy het sommer gou-gou die sleepwa weer kon herstel.

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Kevin besig met herstelwerk aan die sleepwa

Ons gaan ongelukkig nou eers ‘n breek vat. John gaan Kaapstad toe vir sy kersvakansie en ek en Ester gaan ook ‘n ruk lank weg. So, ons volgende regatta sal die Om die Eiland wedvaart wees eers aan die einde van Januarie volgende jaar. Net so terloops, die Om die Eiland wedvaart is die grootste binnelandse regatta in die wêreld en in 2007 het daar 387 bote oor die eindstreep gevaar en ‘n nuwe wêreldrekord opgestel. Ek is bly om te kan sê ek was deel van hierdie wêreldrekord.

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Besig om Top Notch op die sleepwa te kry

Ek kan nie wag om weer te gaan seil nie!

Operasie Top Notch

Ek het baie lanklaas op Top Notch geseil en die hoof rede was my stukkende enjin en ek moes baie lank wag vir ‘n onderdeel uit Japan en my vriend Peter het besluit hy het genoeg gehad van die Stadt23 klas en het aanbeweeg na die Pacer klas toe, dus het ons nie genoeg bemanning gehad nie. Ek het laas naweek besluit dit is tyd! Dit is tyd om die voëlbolle en spinnerakke van Toppie af te was, die enjin reg te maak en sommer plaasvervanger bemanning te kry en dit alles in een naweek.

Besig om skoon te maak

Besig om skoon te maak

Ons het Saterdagoggend die Weber ingepak, Ester het soos gewoonlik ‘n hele tas vol klere en ander vroumens goed ingepak, ek het my gereedskapkas, die enjin onderdele en ‘n paar skoonmaakmiddels vir die boot ingelaai en ons was weg. Ons het oppad vir ons ‘n paar skaaptjops en drankies gekoop vir die aand se braai.

Ek was baie verras toe ek sien hoe maklik ek die enjin kon regmaak. Van al die staan was die sleepwa se wiel pap. Ek moes eers ‘n pomp in die hande kry wat baie moelik was, want daar was nie veel mense by die dam nie. Ons het besluit om sommer een te gaan koop in Vanderbijlpark. Nadat ons die wiel gepomp het, het ons die boot in die water gesit en haar vasgemeer. Die dam se vlak (77 %) was gelukkig net genoeg sodat ek nog in die hoof hawetjie kon vasmeer. Dit was nou al drie uur die middag en dit was baie warm gewees (36 grade C) en daar was nog baie werk om the doen.

Rustig

Rustig

Uit die bloute bel John my en laat weet daar is iemand wat belang stel om saam te seil. Op hierdie stadium lyk dit toe vir die eerste keer of ek dalk my hele te-doen lysie kan aftiek, insluitend bemanning te kry. Ons het die boot begin skoonmaak en Top Notch het skielik weer lus gelyk vir seil.

Ester en ek het Saterdagaand sommer op Top Notch geslaap. Die aand het ‘n groot storm opgesteek, maar die het meer geblaf as gebyt. Ek moet bieg dat ek en Ester redelik skrikkerig was vir al die weerlig hier reg bo ons en ons het reg onder ‘n 11 meter lange weerligafleier geslaap. Die storm het darem net vir so uur aangehou en toe was dit weer rustig – ek dink so, want ek het die res van die aand soos ‘n babatjie geslaap.

Die storm kom nader

Die storm kom nader

Sondagoggend het ons lekker ontbyt by die klub geëet. John en die nuwe bemaninglid – Kevin – het by ons aangelsuit en Top Notch het weer geseil – in baie sterk wind – te sterk! Ons was vir so paar ure rond geblaas voordat ons maar moes terug kom. Ek dink seilers is maar baie soos boere, kla die heeltyd oor die weer.

Dis weer seilseisoen

Dit is heerlike lente en dit beteken die seilseisoen het amptelik begin. Ek het laas naweek vir die eerste keer aan die Big Boat Regatta op die Vaaldam deelgeneem. Ons het op Sea Quill – ‘n Stadt 34 deelgeneem. Sea Quill is in ‘n uitmuntende toestand en dit was ‘n plesier om op haar te seil.Die bemanning was vyf mans en ‘n dame sterk.

Ons is besig om in te haal

Ons is besig om in te haal

Alhoewel dit ‘n bietjie koud was, het die son darem die heeltyd geskyn en meer belangrik nog, die wind het die heeltyd gewaai. Toe die resies Sondag begin was dit maar 14 grade Celsius. Die wind was amper perfek vir albei dae van die regatta.

Volle konsentrasie

Volle konsentrasie

Die regatta was op Saterdag en Sondag gehou. Saterdag se resies het ons ‘n groot taktiese fout gemaak en amper laaste in die klas gekom, maar Sondag het dit baie beter gegaan selfs al het die meerderheid bemanning erg kopseer gehad. Sondag het almal aan boort geweet wat om te doen, en wanneer om dit te doen. Ons het amper foutloos om die roete geseil. Dit was eintlik jammer die roete was so kort gewees, want ons het begin om al die ander bote in te haal.

Celvin besig met verstillings op die jib

Calvin besig met verstillings op die jib

Sea Quill is nou nie eintlik ‘n resies masjien nie. Aan boort is daar ‘n TV, mikrogolfoond, ‘n Wynversameling wat uit ten minste 10 bottels rooiwyn en nog meer witwyn bestaan. Daar was 300 liter diesel aan boort en 100 liter water. Sea-Quill het natuurlik aan al die ander behoeftes kon voorsien soos koue bier en lekker toebroodjies gedurende die regatta.

Captain Morgan (Peter) is aan boord

Captain Morgan (Peter) is aan boord

 

Ons het uiteindelik tweede in ons klas geëindig en self ‘n prys gewen. Dit was een van die lekkerste regattas waarin ek nog deelgeneem het!