Ons was onlangs vir 5 nagte in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat, ook bekend as CKGR (Engelse afkorting). Dit is een van die mees afgeleë plekke in Suidelike-Afrika. Dit is die naas grootste wildtuin in die wêreld, maar daar is nie veel meer as 30 kampe in die hele reservaat nie. ‘n Kampplek bestaan meestal uit n boom of twee, ‘n “long drop”, ‘n afskorting waar jy kan stort as jy jou eie water saam neem en ‘n stuk beton waarop jy kan vuur maak. Behalwe vir ‘n paar uitsonderings sal jy nooit eers jou buurman hoor of sien nie.
Om nie die heeltyd mense en ander karre rondom jou te sien nie, maak die ondervinding nog beter. Jy het tog al die pad gery om die natuur te kom bewonder. Sonsondergange en opkoms, uitgestrekte horisonne, vlaktes en leë panne maak ‘n besoek aan hierdie deel van Botswana uniek. Die Kalahari is ‘n ander tipe mooi. Jy is reg in die middel van die natuur. Hier is die kampe nie omhein nie, jy moet heeltyd op die uitkyk wees vir besoekers.
Om ‘n avontuur hier te ervaar moet jy vroegtydig kampplek bespreek. Ek sou aanraai om ten minste vier maande vooruit te bespreek. Die besprekings kan verwarrend wees, omdat nie alle kampe in die reservaat deur een sentrale plek bespreek kan word nie. Sekere van die kampe moet deur die Botswana se natuur en parkeraad bespreek word (Botswana department of Wildlife and National Parks) en die meerderheid van die kampe word deur Bigfoot Tours – ‘n privaat maatskappye – bestuur en jy moet direk by hulle bespreek.
Behalwe die koste vir die kampering moet jy ook ‘n daaglikse natuurbewaringsfooi betaal en ‘n toegangsfooi vir jou motor. Dit moet aan die DWNP betaal word. Die beste is om dit vooraf te betaal met jou kredietkaart, maar hierdie fooi kan ook by die hek in slegs kontant betaal word. Indien jy in kontant wil betaal, neem Pulas of Dollars saam. Rand word nie by die hek aanvaar nie.
Jy kan ‘n volledige lys van kampplekke in die Sentraal-Kalahari wildreservaat hier kry
Bespreek sommer dadelik!