Nie om die eiland nie.

Die eerste naweek van Februarie elke jaar is dit tyd vir die Om die eiland wedvaart en hierdie jaar was nie ‘n uitsondering nie. Laas jaar het ons vierde in ons klas geëindig en ons kon nie wag om hierdie rekord hierdie jaar te probeer verbeter nie.

Vroeg opstaan

Vroeg opstaan

Ons het Vrydagmiddag kamp opgeslaan langs ‘n baie vol Vaaldam. Die dam se vlak was 101 % gewees toe ons Vrydag daar opdaag, sowat 10% minder as die naweek voor die regatta toe al 14 sluise vir die eerste keer in sowat 10 jaar oop was. Kevin het al vroëer die dag aangekom en sy tent was al opgeslaan toe ek daar opdaag. Kevin het my gehelp om my tent op te slaan en net toe ons klaar was het dit begin rëen. Dit het so hard gerëen dat ek en Kevin moes gaan skuiling soek in die klub se kroeg. Na die rëen bedaar het, het John by die klub opgedaag en ons het laat skemer die vuurtjie aangesteek en toe lekker gebraai en tot baie laat die aand die naweek se taktiek bespreek.

Honderde bote neem deel aan hierdie regatta

Honderde bote neem deel aan hierdie regatta

Saterdagoggend moes ons gaan inskryf vir die regatta by LDYC. Die grondpad soentoe het soos ‘n modderbad gelyk van al die rëen die vorige dag. Ek wil nie weet hoe die pad later in die dag gelyk het nie. Nadat ons ingeskryf het, het ek en Kevin gaan ontbyt eet by die Duitse restaurant. John se kop was seer en hy het agter gebly en koerant gelees en tee gedrink in die klubhuis nes ‘n regte Lord. Ons het toe die boot op die water gekry en vir ‘n middag seil sessie gegaan om seker te maak alles was in orde met die boot. Ons wou graag aan die middag se kompetisie deelneem maar die wind was te lig en ons het besluit om eerder te gaan braai. Ons was die Saterdagaand baie vroeg in die bed, vroëer as enige iemand anders in die kamp.

John op die uitkyk vir ander bote

John op die uitkyk vir ander bote

Sondagoggend was ons al ses uur wakker en het reggemaak vir die dag se seil. Seweuur was ons op die water en oppad na die wegspringlyn. Daar was sowat 3 knope wind uit ‘n Oostelike rigting en dit het gelyk of die wind sal toeneem later. Ons wegspringtyd was 8:20 en sowat vyf minute voor die wegspring het die wind net so bietjie meer as 3 knope gewaai. Uiteindelik het die wegspring kanon geskiet en ons saam met honderde ander bote was nou amptelik deel van die 2010 Om die eiland wedvaart.

'n Mens moet kophou met al die bote om jou

'n Mens moet kophou met al die bote om jou

Die eerste uur van die wedvaart het baie goed afgeloop en ons was deel van die voorlopers. Die wind het op hierdie stadium begin afneem en was nou al minder as 3 knope. Sowat halfpad tussen die wegspringlyn en die eiland en sowat 2 ure later was dit duidelik dat die wind ons vandag in die steek gaan laat. Op hierdie stadium was daar amper geen wind nie. Dit het ons nog sowat 2 ure gevat om tot by die eiland te kom. Dit was nou een uur en bote het oral begin om hul motors aan te skakel en terug te vaar. Ons het nog so halfuur lank vasgebyt en gehoop daar sal dalk ‘n donderstorm êrens bou wat die atmosfeer sal sirkuleer, maar geen teken nie. Ons het soos baie ander ons motor begin en terug klub toe gevaar. Dit was die eerste keer dat ek nie die Om die eiland wedvaart voltooi nie en dit was baie teleurstellend. Volgende jaar is ons definitief terug en hopelik is daar wind.

Los 'n Boodskap