Storm by die Vaaldam

Na ‘n heerlike dag se seil op die dam is ons terug klub toe.Ons het die boot in DAC se hawe vasgemeer. Die weer was die heeldag perfek vir seil en ons het sover geen tekens van donderstorms gesien nie. Terug by die klub en ons het laat middag begin regmaak om die vuur aan te steek. Aan die oorkant van die dam het daar ‘n storm opgesteek. Die storm het baie ver van ons af gelyk en ook of hy van oos na wes verby ons gaan trek. Niemand het op hierdie stadium veel kennis geneem nie.

Top Notch Seil

Die storm het nader gekom en ek het tyd gehad om ‘n paar foto’s te neem. Skielik swaai die wind en die storm is op pad in ons rigting. Die wind het van niks na stormsterkte begin waai in die tyd wat ek my kamera in die kar gaan bêre het. Toe ek om kyk vanaf die kar is ons Oz Tent se voorste vertrek al reeds plat gewaai.

Top Notch is geanker

Wimpie, Alexis en ek het begin vasklou aan die res van die raam van die tent om dit regop te hou. As die Oz Tent se raam breek het ons nêrens om die aand te slaap nie, boonop gaan die herstel baie duur wees. Terwyl Karla en Stella – Wimpie se dogter – bekommerd in die kar skuil het ons min besef die wind gaan vir meer as twee ure lank aanhou storm en ons gaan die heeltyd moet vasklou.

Net so voor 10 uur die aand het die wind gedraai en ons kon die tent uiteindelik op sy eie los. Ons drie was nat en het gevries. Terwyl ons almal in die kar sit kon ons sien hoe die wind geleidelik bedaar. Ons al vyf het in die aand in die tent geslaap.

Die groot storm

Die volgende oggend was die wêreld vol stoele, borde wat die wind weg gewaai het. Een van ons matrasse het ons naby die klubhuis; sowat 50 meter ver; gaan optel. Behalwe vir twee van die tentpale wat gebuig het, was alles verder nat, maar heel.

(Dankie Alexis Basson vir die mooi foto’s van Top Notch)

Los 'n Boodskap