Avontuur langs die rivier

Hansie se troue was op hulle plaas, wat deel is van die uMkhunyane Natuurreservaat, naby Piet Retief gehou. Ons het die Vrydag middag gery en het saam met Vincent en ‘n paar druppels reën daar aangekom. Vincent-hulle sou saam met ons by Alwin se kamp, ‘n jagkamp op die plaas, gaan bly vir die naweek. Ons het vinnig vir Hansie-hulle gegroet en het dadelik in die baie klipperige pad geval. Die jagkamp was ‘n uur se ry vanaf die troue hoofkwartier (HK) af.

Ons het net betyds by die jagkamp aangekom, want oomblikke later het dit baie hard begin reën. Ons het afgepak en vir die res van die aand hoog en droog onder ‘n grasdak langs die vuur gekuier. Meeste van ons het redelik vroeg gaan slaap, want ons moes die volgende oggend  vyfuur reeds opstaan om seweuur by die seremonie te wees.

Die samentbrug

Die oorgang in droër tye (foto uMkhanyane.co.za)

Ons is effe laat by die kamp weg. ‘n Paar honderd meter vanaf die kamp is ‘n stroompie water wat ons reeds die vorige aand moes oorsteek om daar te kom, maar na al die reën het dié skielik in ‘n monster verander. Ek het voor gery en by die rivier in die reën gestop en uitgeklim om seker te maak my oë bedrieg my nie. Ek ken moeilikheid as ek dit sien! Terwyl ek nog gewonder het of ons dit moet waag om die rivier aan te durf en of ons dalk ‘n alternatiewe roete moet soek, jaag Vincent verby my, by die wal af en in die rivier in. Die manier waarop sy bakkie by die modderige pad afgegly het, het my laat besef hy sal nie weer met dieselfde pad kan terug kom nie. Enigste uitweg was voorentoe.

Vincent het dadelik sy kerkskoene uitgetrek en sy broek opgerol en voor hulle bakkie ingespring om vir Maggel die pad aan te dui en seker te maak dat sy nie die sementbrug, wat nou heeltemal onsigbaar is nie, mis ry nie. Hulle het dit redelik maklik deur die rivier gemaak. Dit was ‘n groot verligting en dit was nou my beurt. Vincent het kom help en ek het ook maklik deur gery. Ester, wat reg agter my gesit het, was op hierdie stadium baie stil.

 

Vincent se bakkie

Modder 1 Vincent se bakkie 0

Die wal aan die ander kant was styl en snotglad van die modder. Die water het by die wal afgestroom en Vincent kon nie opry nie. Sodra hy naby die stylte kom het sy wiele begin gly. Die pad was ook te nou om, om te draai. Ek het uitgeklim, skoene uitgetrek, broek opgerol en probeer help, maar saam kon ons nie veel uitrig nie. Dit was duidelik dat ons nie sonder ‘n baie lang tou en iets om die tou aan vas te maak Vincent se bakkie by die wal gaan uitkry nie.

Al wat ons nou kon doen is om die bakkie te los en my kar te gaan hulp soek – dis nou as ons my kar met sy 4×4 by die wal kon uitkry. Ons was ook redelik seker dat daar op hierdie stadium geen soekgeselskap vir ons uitgestuur gaan word nie aangesien die seremonie reeds begin het. Een klein probleempie: my kar was agter Vincent se bakkie in die rivier parkeer.

Vincent se bakkie

Kyk hoe sterk vloei die rivier

Ek het dit reggekry om aan die regterkant verby Vincent se bakkie te kom en op ‘n modderbank sowat een en ‘n half meter hoër as die pad te lande te kom. Elke keer as ek voerentoe probeer ry dan begin my kar sywaarts pad se kant toe gly. Ester was nou nie meer stil nie. Ons moes terug pad toe, maar kon op die stadium nie voorentoe of agtertoe nie – kant toe was die enigste manier. Ons het toe begin gly en beland toe weer in die pad. Ons was baie gelukkig dat die kar nie omgekantel het nie. Die kar kon gelukkig die bult uit en Ester het die eerste keer in ‘n lang ruk ophou hardop bid.

Ons was onseker watse hindernisse ons nog vorentoe sal moet oorsteek, dus was dit belangrik dat Vincent saam met my terug HK toe. Een vir almal en almal vir een is ons al sewe in my kar en sonder enige verdere insidente terug HK toe.

Toe ons uiteindelik by die seremonie aankom was ons betyds om te hoor hoe Hansie en sy pragtige vrou mekaar die trou belowe. Die dominee het ook verduidelik as tye goed gaan ons nooit ‘n tou in ons 4×4 hou nie. Ek het dit heeltemal van pas gevind.

Uitgekom

Uiteindelik uit.

Ons het later die middag gery om Vincent se verlate bakkie te gaan haal. Dit was aansienlik droëer gewees en hy kon self die bult uit ry. Ons is terug HK toe en het die res van die dag gebraai en gekuier. Die vroeë oggend avontuur was net nog ‘n klein gedeelte van Hansie-hulle se wonderlike troue.

Op die video hieronder kan julle sien hoe sterk die rivier vloei en hoe lekker dit gereën het.