Gaan toer deur Namibië

‘n Goeie vriend van my het my nou die dag gevra watter plekke in Namibië die moeite werd is om te besoek. Hy en ‘n paar van sy vriende beplan ‘n 3 weke lange toer deur Namibië later hierdie jaar. Ek beskou my glad nie as ‘n kenner nie, maar ek het darem al so twee of drie keer daar gaan vakansie hou en getoer.

Daar is drie maniere om vanaf Johannesburg en Pretoria tot in Namibië te ry. Die eerste is die Trans Kalahari “snelweg”. Dit is die pad vanaf Johannesburg reguit deur Botswana tot in Gobabis. Daar is nie veel langs die pad om te sien nie en al wat jy eintlik vir tien ure lank doen is donkies vermy. Dit is onmoontlik om hierdie pad in die nag aan te durf. Ons het dit al probeer, maar ons kon nie vinnerger as so 80 kilometer per uur handhaaf nie. Te veel diere. Wilde diere mak diere, donkies, beeste, selfs groot voëls was oral in die pad.

Snelweg deur Botswana

Snelweg deur Botswana

Die tweede roete is die N14 deur Upington tot by Ariamsvlei. Dit is die “komersiële” hoofpad tot in Windhoek, i.e komersieël is gelyk aan vragmotors en baie daarvan. Die derde en my persoonlike gunstilling is die N14, maar nie al die pad tot by Namibië nie. Draai ‘n bietjie vroeër af of ry selfs ‘n bietjie verder en gaan deur een van die kleiner grensposte binne. Vat dit dan baie rustig en sien baie meer. Ons het byvoorbeeld een keer by Augrabies oorgeslaap en toe deur Onseepkans gresnpos gegaan. Dit klink sommer baie lekkerder om so in Namibië aan te kom.

Kom ons aanvaar dat Gert my raad vat en die derde opsie kies. Dit beteken hulle toer kloksgewys deur Namibië. Hier is ‘n paar van my persoonlike gunstelin plekke om te besoek:

Onseepkans

Grenspos by Onseepkans

1. Ai-Ais

Hierdie is ‘n warmwaterbron vakansieoord en ek is seker as julle in die winter daar gaan wees gaan die warm water heerlik wees om in te swem. Die oord het baie swembaddens, binne en buite. Dit is ook baie lekker om hier te kamp so reg langs die Visrivier.

Kampplek in Ai-Ais

Kampplek in Ai-Ais

Vanaf Ai-Ais is daar ‘n paar plekke om te gaan verken. Julle kan na die Visrivier canyon se hoof uitkyk punt gaan. Gaan eet iets by die Canyon Roadhouse. Hulle maak baie lekker kos. Ons was laas in ’93 by Ai-Ais oor ‘n paasnaweek en ons het redelik maklik ‘n staanplek gekry sonder om te bespreek. Ons het twee aande daar gekamp.

Ai-Ais swembad

Ester swem in die warm swembad

2. Luderitz

Luderitz is ‘n klein vissersdorp. ‘n Regte duitse dorpie in die woestyn langs die koue oseaan. Gaan kamp by Shark Island. Ons het nie bespreek nie en baie maklik daar staanplek gekry.

Kampplek op Shark Island Luderitz

Kampplek om Shark Island

Vat ekstra lang tentpenne saam. Ons het daar gaan kamp en die wind het ons amper weg gewaai. Die wind het so erg gewaai dat ons ‘n dag vroeër opgepak het. Daar is ‘n paar lekker restaurante om te besoek (veral as die wind so woes waai help dit as ‘n skuiling). Julle kan die dorp verken en ook Kolmannskop verken (‘n verlate myndorp in die woestyn). Dit is die moeite werd om Luderitz te besoek al kamp julle net een nag daar.

Die wind die waai in Luderitz

Die wind die waai

3. Sesriem en Sossusvlei

Vanaf Luderitz is daar ‘n paar klein dorpies waardeur mens ry oppad Sesriem toe. Persoonlik dink ek nie dit is die moeite werd om daar te oornag nie, maar gaan spandeer so uur of twee in elk. Wat wel die moeite werd is, is om verby die Duviseb kasteel te ry. As dit laat raak kan julle oorweeg om sommer by die kasteel te kamp. Julle behoort maklik plek te kry. Indien julle haastig is, is Sesriem dan die volgende stop.

Kampplek op Sesriem

Kampplek op Sesriem

By Sesriem is die ingang na Sossusvlei toe (60 km Wes). Op Sesriem is daar ‘n baie lekker kamppeerterrein. Ons kon laas nie hier plek kry nie, maar omdat ons eers laat die middag daar aangekom het. As julle dalk by Duviseb oornag, maak seker dat julle sommer vroeg (middag) by Sesriem se kamp aanmeld. Of beter nog hou die telefoon nommer van die kamppeerterrein byderhand en bel hulle sommer die oggend. Indien die “lekker/regte” kamp area vol is, laat hulle jou toe om sommer daar naby in ‘n oop stuk veld te gaan kamp vir dieselfde prys as in die hoofkamp. Dit raak baie koud hier so vat baie warm goed saam.

Sossusvlei

Sossusvlei

Julle kan die volgende dag Sossusvlei gaan verken. Dit is waar die wêreld se hoogste duine is en dit is regtig ‘n baie mooi area. Julle kan gaan piekniek hou in die vlei. Terug op Sesriem moet julle ook die Canyon gaan besoek.

4. Swakopmund

Ek verkies om eerder op Swakopmund te kamp as in Walvisbaai. Daar is nou ‘n moderne kampterein aan die Suide van Swakop gebou. Ek het nog nie daar gekamp nie, maar het wel daar deur gaan ry. Die kamp is baie netjies en elke staanplek het sy eie badkamer, opwasbak en krag. Vanaf Swakopmund is dit maklik om Walvisbaai te verken (30 km ver). Daar is interresante plekke om te gaan sien in Walvisbaai soos die lagune en die soutpanne. Swakopmund is my gunstelling plek in Namibie. Dit is Duits met baie lekker restaurante wat duitse kos maak. Die bier proe ook sommer lekker hier. Julle behoort maklik kampplek hier te kry. Onthou dit word baie koud in die aande hier. Spandeer baie soveel tyd as wat julle kan hier.

Swakopmund

Swakopmund

5. Hentiesbaai

Henties het ook ‘n lekker kamppeerterrein met eie badkamer vir elke staanplek. Hierdie is ‘n regte vakansie dorp. Gaan word dronk by die De Duine hotel. As jy nie visvang nie of jy nie ‘n 4X4 het nie, is hier nie veel om te doen nie. Julle kan van Henties af kies of julle binneland of kuslangs na jul volgende bestemming wil gaan. Ek stel voor gaan kyk hoe Torrabaai lyk.

6. Torrabaai (NB – As dit oop is)

Ek stel voor vind eers uit of Torrabaai daai tyd van die jaar oop is voordat jy verder lees, anders kan jy kamplekke soek oppad Etosha toe. Daar is verskeie plekke om te sien oppad Torrabaai toe soos die Brandberg en Kaap Kruis. Gaan kamp een aand by Torrabaai. Dit is nou Weskus daai. Van hier af is Etosha nie ver nie. Onthou om voor 15:00 by die hek te wees. Julle sal permitte nodig hê en julle kan dit sommer by die hek koop.

7. Etosha

Ek dink julle sal maar ‘n kaart moet raadpleek om te sien waar julle oppad Etosha toe wil oornag, dit is nou as julle wil. Julle sal natuurlik vir Etosha moet plek bespreek. Daar is ook verskeie kamppeerterreine en lodges rondom Etosha.

8. Windhoek

Vanaf Etosha stel ek voor julle begin weer Suidwaarts ry. Gaan kuier lekker in Windhoek voordat julle die Tanskalahari terug vat deur Botswana huistoe.