Karla gaan skool toe

Ek dink al die laaste twee weke net aan vandag. Die dag wat ons vir Karla alleen tussen vreemde mense moes los. Karla het verskriklik gehuil toe ons haar vanoggend by die skool gaan aflaai het. Sy was ook nie die enigste een nie, dit het geklink of die hele skool gehuil het! Ongelukkig is daar nie ‘n ander alternatief nie, Karla soek nou maaitjies. Sy sal dit verseker by hierdie skooltjie kry en ek is seker sy sal dit hier geniet.

Karla en Ester voor Klein Fonteintjies

Eerste dag by die skool

Van wat ek vandag gesien het lyk die skool baie oulik. Die skool is so vyf kilometer van ons huis af. Daar is baie kinders daar van alle ouderdomme (voor-skool natuurlik). Karla kry elke dag ‘n ontbyt, verversings en middagete daar. Daar is baie speelgoed en klimrame vir die kinders. Personeel lyk almal vriendelik (al het die kinders so geskreeu). Klik gerus hier om te sien wat die skool alles aanbied.

Karla voor Klein Fonteintjies

Wat se plek is hierdie?

Ek en Ester is albei vanmiddag bietjie vroeër van die werk af weg om vir Karla te gaan oplaai. Toe sy ons sien het sy dadelik begin huil. Sy het darem so een of twee keer al iets te sê gehad oor die skool, maar dis al. Ek is seker sy gaan môre weer kwaad wees as ons haar daar aflaai en dalk nog meer die dag daarna. Dit gaan seker maar erger raak voordat dit  beter gaan raak.