Etol se hol

Ek (en Ester en Karla) het vanoggend gaan protesteer teen die vervlakste e-tol! Nie die eerste keer dat ek so iets doen nie, maar ek is baie bitter oor die e-tol. Vandag se anti-etol protes aksie was eintlik deur motorfietsklubs gereël, maar motors kon ook deelneem en daar was heelwat op vier wiele.

Die SANRAL saluut

Die SANRAL saluut

Ons het vanoggend agtuur by Wemmerpan bymekaar gekom. Daar was teen die tyd alreeds so 500 mense daar. Dit was soos ‘n kermis met ʼn lekker gees onder almal. ‘n Vuur is gemaak met e-tol rekeninge, Sanral is gesalueer (dit is nou met die middelvinger). Nadat ʼn paar manne soos Wyne Duvenage van OUTA en Howerd whatever van Justice Project die gehoor toegespreek het, het ons in die pad geval.

Almal het 'n boodskap vir SANRAL gehad.

Almal het ‘n boodskap vir SANRAL gehad.

Die “Bikers” het nie veel vir die ondersteuning van die motors gevoel nie; seker maar niks nuuts nie; en vooruit gery. Die motors was nou in hul eie konvooi. Ons het vanaf Wemmerpan na die N12 wes gery en van daar op die N1 noord geklim. Die toeters het geblaas, anti-etol plakkate en vlae het gewapper en plakkers is uitgedeel sommer so in die ry. Ons het nie veel vinniger as 20 of 30 kilometer per huur gery nie en gou was daar ʼn baie lang tou van voertuie agter die konvooi.

Die konvooi

Die konvooi

Ongelukkig het die mense agter die konvooi ongeduldig geraak en ek kon dit verstaan, maar om deur die verkeer te vleg teen hoë spoed was onverantwoordelik. Ons het gesien hoe ʼn Ford Ranger voor ʼn Golf in die geelstreep injaag.

Ranger is in die rooi.

Ranger is in die rooi.

Die Golf het die Ranger ingejaag en reg voor die konvooi afgetrek. Die bestuurder van die Golf het uitgespring en begin appelswaai na die bestuurder van die Ranger. Intussen kom daar nog ʼn ongeduldige jaagduiwel in die geelstreep aan en ry die Golf se appel-swaaiende-bestuurder poerdes moerdes toe.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Hy het die appelswaaier probeer mis maar tref nog boonop die appelswaaier se Golf. Nou weet ek nie of hy vroeër ook met die Ranger kennis gemaak het nie, maar hy het dadelik uit sy motor uitgespring en die Ranger se bestuurder begin warm klap. Die twee meisies saam met hom was ook nie veel gepla oor die gesondheid van die man wat hulle sopas omgery het nie en hulle vloek en skel die Ranger.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die konvooi het so rukkie hier stilgestaan, kop geskud en weer in die pad geval. Toet-toet-toeeeet!

Stop en salueer.

Stop en salueer.

Ons het tot by Malibongwestraat saam gery en toe maar afgedraai huis toe. Dit was al amper twaalfuur en my mede aktiviste was moeg en my toeter besig om hees te raak.