Songimvelo

“Waar heen wil julle môre ry?” vra my skoonma. “Kom ons gaan bietjie wildtuin toe” sê ek. “Dit klink lekker, ek kry gou my wildcard” , “Nee, ma, dit sal nie nodig wees nie, die wildtuin waarheen ek wil gaan aanvaar nie wildcards nie. Ek wil Songimvelo toe!”
Dam naby Diepgezet

Dam naby Diepgezet

Ons is gister oggend ses uur hier uit Nelspruit weg na Songimvelowildreservaat. Nie een van ons het geweet wat om te verwag nie, want inligting oor die wildtuin is maar skaars. Ek het al lankal van die reservaat geweet en wou nog altyd gaan, maar toe ek onlangs ‘n berig oor Songimvelo in die Weg tydskrif lees en ek geweet het ons kom Nelspruit toe hierdie naweek, het alles uiteindelik bymekaar gekom. Die tyd en plek was reg vir my eerste besoek.

Diepgezet omgewing

Kronkelpad oor die berge

Om daar te kom is ‘n klein avontuur op sy eie. Vanaf Nelspruit ry ons Baberton toe en daar begin die kronkel pad oor die berge. Die vorige keer wat ek hierdie pad oor die berge gery het was dit ‘n baie slegte grondpad, dit lyk egter of die regering nie al ons geld steel nie, hulle het wel ‘n paar Rand oor om die pad te teer. Ek verstaan hulle teer eintlik die pad vir ‘n ander wildtuin in die omgewing.

Kameelperd by Songimvelo

Een van baie kameelperde in die park

Die laaste deel van die pad is steeds grondpad en gaan verseker nie binnekort geteer word nie. Hierdie pad is gebou vir die Msauli asbesmyn wat in die omgewing was. Die Msauli asbesmyn het in 2003 gesluit a.g.v. die gevare van asbes. Die myn personeel het almal in Diepgezet gewoon. Die naam sê dit als. Dit is ‘n baie klein dorpie in ‘n kom en omring deur baie hoë berge. Een van die min hoogtepunte in so klein dorpie se kalendar was die jaarlikse gholfdag. Gholfers het van oral gekom om op hierdie baan te kan speel. Ek het in die laaste drie Msauli opes deelgeneem. Nou is die dorp ‘n ware spookdorp. Daar is so een of twee huisies wat steeds bewoon word sekerlik deur mense wat die dorp oppas. Ons het ‘n draai gemaak by die ontspanningsklub en toe weer die pad gevat. Nog so 25 kilometer vanaf Diepgezet is die afdraai na Songimvelo.

Die Komatirivier vanaf die bergpad in Songimvelo

Die Komatirivier vanaf die bergpad

Dit het ons R125 gekos om in te gaan. Hoe die hekwag by R125 uitgekom het weet hy en ek tot vandag toe nie. Kontant is die enigste opsie. Ons was die vierde kar wat die dag ingeteken het. Ek het ‘n padkaart versoek en na ‘n gesoek het die hekwag een onder in sy boekrak uitgekrap. Dit is ‘n swart en wit afdruk van ‘n baie basiese kaart. Agterop was in ‘n vorige besoeker se handskrif ‘n lysie van diere wat hulle gesien het. Plek-plek is daar nommers op die kaart wat lyk of dit iets belangriks beteken, maar ek kon nie die legende op die kaart vind nie. Die reservaat is 48 000 ha groot en dit is baie jammer dat daar nie ‘n goeie kaart beskikbaar is nie. Ons het beplan om êrens piekniek te hou, maar daar is geen piekniek areas in die reservaat nie, gelukkig het ons darem biltong en ‘n paar broodjies byderhand gehad. Daar is eintlik niks by die hek nie, behalwe vir jou ingangsfooi is daar geen ander rede om kontant saam te vat nie.

Daar was baie om te sien by Songimvelo

Daar was baie om te kyk

Na ‘n gespook om ‘n werkende toilet te kry en die flou diens by die hek was ons al drie maar ‘n bietjie pessimisties oor wat ons die res van die dag kan verwag. Dinge het egter gou verander toe ons skaars ‘n honderd meter van die hek af ons eerste wild sien – ‘n koedoe. Nie veel verder het ons die eerste van baie kameelperde gesien. Daar is blykbaar 60 kameelperde in die reservaat. Ons het toe nog waterbokke, springbokke, rooibokke, duikers, blesbokke en vlakvarke gesien. Daar is ook olifante en buffels maar ons het hulle ongelukkig nie gesien nie.

Af met die berg paatjie by Songimvelo

Af met die bergpaadjie

Die paaie is wel gemerk, maar sonder ‘n goeie kaart help dit nie veel nie. Ons het maar ‘n pad gevat en gery. Die paaie is baie sleg en is meestal maar ‘n tweespoor pad. Op een stadium moes ons besluit om deur ‘n rivier te ry of om te draai. Na ‘n lang redenasie – wat ek verloor het – sit ek die kar tog in low range en ons is deur die rivier. Die pad vat ons toe oor ‘n paar berge en word toe skielik ‘n ernstige 4X4 roete. Voor ons was ‘n baie styl helling. Die vrouens was maar baie stil, ek was bietjie bekommerd, maar ons is oor. Dit was weer lekker om die kar se 4X4 te gebruik, dit was vir hierdie tipe plesier dat ons ekstra betaal het. Die pad loop toe skielik dood en ons moes omdraai en al die pret en angs het weer van voor af begin.

Dit was my huis in die weermag Armburg

Dit was my huis in die weermag - Armburg

Na die berg roete het die vrouens besluit dit was nou genoeg en ons is terug hek toe. Vanaf die wildtuin het ek ‘n draai gaan maak by Armburg. Armburg was ‘n weermagbasis waar ek amper ‘n jaar van my diensplig gedoen het. Die basis het uit ‘n plaashuis en nie veel meer bestaan nie. Die basis is in 1992 gesluit en omskep in ‘n veearts.

Ons is toe na Badplaas om iets te drink voordat ons terug Nelspruit toe is. Die einde van ‘n baie interesante dag!