Crook’s Corner in die Kruger

Crook’s corner is daar waar Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe bymekaarkom, langs die plek waar die Limpopo en die Luvhuvhurivier bymekaarkom in die Krugerwildtuin. In die mees Noord-Oostelike hoekie van Suid-Afrika. Crook’s Corner is een van die mooiste plekke waar ek al was!

Blouwildebees

Blouwildebees wei in die gras

Hier is daar hordes trosvyebome, Jakkalbessiebome, reuse kremetartbome, n hele woud koorsbome en groen grasvelde en dit als lok natuurlik baie diere na die omgewing toe. Die rivier is vol krokodille en seekoeie. Bokke, buffels, olifante het baie plek om hier te wei. Van die grootste troppe buffels en olifante in die Krugerwildtuin kom in die omgewing voor. Vlakvarke en troppe bobbejane is oral hier te sien. Die omgewing is ook bekend vir die groot verskeidenheid voëlspesies wat hier voorkom.

Olifant naby Crook's Corner

Olifant naby Crook’s Corner

In die ou dae – voor behoorlike grensbeheer –  was hier ‘n baken wat die hoek van die drie lande aangewys het. As jy jou dalk in die moeilikheid met die gereg bevind kon jy by hierdie punt net na ‘n ander land toe oorstap en die gereg kon niks aan jou doen nie. In die vroeë 1900’s is die gemak om van een land na ‘n ander te kan stap, natuurlik deur wapensmokkelaars en wildstropers uitgebyt. Dit is hoe Crook’s Corner sy naam gekry het.

Reuse bome naby Crook's Corner

Reuse bome naby Crook’s Corner

Om daar te kom ry jy so paar kilometers verby die Pafuri-piekniekplek in ‘n Oostelike rigting in. Jy ry onderdeur die majestuese bome deur tot by die Limpoporivier. Terwyl ons in Desember in Tshipise vakansie gehou het, het ons die Krugerwildtuin twee keer besoek en albei kere is ons Crook’s Corner toe. Dit is waarlik ‘n plek om te besoek as jy jouself in die noordelike dele van die Krugerwildtuin bevind.

Hierdie video is van die laaste paar honderd meter tot by Crook’s Corner:

 

Klein Paradys Nylstroom

Ek het al baie gehoor hoe lekker dit is om by Klein Paradys te kamp. Toe iemand onlangs dit weer vir my noem het ek besluit om sommer dadelik te bespreek. Ek is reguit na hul webwerf (kleinparadys.co.za) om die nommer te kry en het bespreek of so het ek gedink.

Swembad in die middel van die kamp

Swembad in die middel van die kamp

Toe ek die besprekings besonderhede kry via epos word daar in rooi gemerk dat ek moet kennis neem dat dit nie die Klein Paradys naby Brits is nie, maar wel Klein Paradys naby Nylstroom. Ek het besef die Klein Paradys waarvan ons so baie gehoor het is die een naby Brits. Ek kon vinnig vasstel dat hulle webwerf kleinparadys.com is. Ons het besluit ons gaan sommer na beide.

Ons OzTent word gebruik.

Ons OzTent word gebruik.

Ons het Vrydagmiddag so drie uur uit Johannesburg vertrek. Dis al die pad met die N1 tot by die Kranskop tolplaza en draai dan links na Nylstroom (Modimolle) en dan weer die eerste pad links. Ons het die Klein Paradys Gasteplaas baie maklik gekry en ons was net so na vyf uur al daar gewees reg om kamp op te slaan.

Die parkie

Die parkie

Die lowergroen grasperk met baie skaduwee onder hoë bome het ons dadelik opgeval terwyl ons ons staanplek soek. Ons het dadelik afgepak en begin kamp opslaan – wat deesdae baie makliker gaan vandat ons ‘n OzTent RV5 het. Ons kon gelukkig nog hout koop by die opsigter, want die winkeltjie sluit reeds 4 uur smiddae. Ons het die vuur aan die brand gesteek en begin kos maak. Dit was nou al amper donker en ons het besluit om eers die volgende oggend die res van Klein Paradys te verken. Dit was heerlik stil en warm buite en die aand het ons buite gesit, geëet en gekuier.

Die verhitte swembad

Die verhitte swembad

Saterdag het ons die kamp verken, geswem, Nylstroom toe gery, terug gekom en luilekker rond gesit. Karla het maatjies gemaak en hulle het amper heeldag in die parkie gespeel. Sy het ook ‘n rondte putt-putt gespeel. Ons het later weer gaan swem en toe weer gebraai.

Sonsopkoms

Sonsopkoms

Sondagoggend was ons vroeg wakker. Dit was nog donker buite. Ester merk beweging in die boom op.Ek gaan loer buite net toe daar ‘n nagapie op ons tafel spring. Hy was nie eers bang vir my nie en ek het tyd gehad om Ester se flits te gaan haal. Daar het intussen nog een op die tafel gespring en eers toe ek die flitslig op hulle skyn het hulle in die boom in gevlug.
Putt-putt baan

Putt-putt baan

Ons het in die verhitte swembad gaan swem voordat ons ontbyt gemaak het. Na ontbyt het ons begin oppak. Ons is laat oggend daar weg.
Ester sit op die stoep

Ester sit op die stoep

Ons het R295,00 per nag betaal vir ‘n kampeerplek met krag. Die kampeerplek sluit 4 mense, ‘n kar en tent of karavaan in. Die prys is buite seisoen. Sal ons weer soentoe gaan? Ja beslis, as ons weer opsoek is na n niksdoen naweek, miskien ook selfs in die winter, wanneer dit heerlik sal wees om in die verhitte swembad te swem.

 

Om die eiland in die reën

Die van julle wat nie weet wat die Wedvaart om die Eiland is nie kan gerus ‘n draai gaan maak op die Afrikaanse Wikipedia Webwerf (terloops, ek het daardie Wiki geskryf). Hierdie regatta is een van my gunstelinge, want dit is in die middel van die somer, die dam is altyd vol, baie bote neem deel, dit is ʼn langafstand wedvaart, naweek se kamp langs die dam wat gewoonlik met lekker kuier gepaard gaan.

Vrydagaand se reën en wind.

Vrydagaand se reën en wind.

Hierdie jaar was geen uitsondering nie, behalwe vir die somer gedeelte. Ja, natuurlik reën dit in die somer, maar hel, ek wil darem so nou en dan die son ook sien. Ons het Vrydagmiddag in die reën by die klub aangekom en om die kampplek onder die boom te deps moes ons die tente in die reën opslaan. Saterdag het ons die son nie met ʼn oog gesien nie. Saterdagmiddag het ons gou gaan seil, maar papnat terug gekom. Sondag het ons vir ure lank op die boot nat gereën en weereens nie die son met ‘n oog gesien nie. Daar is natuurlik baie waardevolle lesse geleer, soos byvoorbeeld as jy ʼn reënbaadjie al die pad Deneysville toe saambring, neem hom saam op die boot, altyd.

Voor die matras afgeblaas het is Mandy en Alexis nog vol glimlagte.

Voor die matras afgeblaas het is Mandy en Alexis nog vol glimlagte.

Vrydagaand nadat die reën skaars ophou val het, het ons vuurtjie aangesteek, maar die reen is deur sterk wind vervang wat gelukkig nie ons pret kon bederf nie. Ons het heerlik gebraai, geëet en gekuier, sommer tot baie laat oor seil, musiek, werk en allerhande dinge gesels. Ek is seker ons kampgenote sal jou beter kan inlig oor die detail van die gesprekke.

Top Notch vas gemeer.

Top Notch vas gemeer.

Saterdag was dit boot-dag. Ons het sommer vroeg die boot in die water gehad en amper reg voor ons tent vasgemeer. Nadat ons vir die wedvaart gaan inskryf het, het ons ʼn paar parte vir die boot by Deneysville se bootwinkel gaan koop. Almal het hand bygesit om die boot eksie-perfeksie vir die wedvaart te kry. Alexis en ek het die toue reg gekry, naaldwerk is deur Mandy behartig (ons moes ʼn nuwe tou deur die mas ryg) en John het ons, soos gewoonlik, aangemoedig. Dit was nou al laat middag en ons het gaan seil, natgereën, terug geseil en papnat op moeder aarde aangekom. Na nog n lekker braai Saterdagaand is ons almal vroeg in die bed. Praat van lesse om te leer en party van ons het Saterdagaand die opblaasmatras-blaas-gewoonlik-af-in-die-middel-van-die-nag les geleer.

Alexis en Mandy is besig om die boot reg te kry vir die volgende oggend se wedvaart

Alexis en Mandy is besig om die boot reg te kry vir die volgende oggend se wedvaart

Vroeg Sondagoggend is ons boot toe en op pad wegspringlyn toe. Soos gewoonlik is daar honderde bote op die dam, almal met dieselfde plan. Op pad het ons amper ons enjin verloor. Gelukkig kon ons betyds keer en die ou staatmaker het sommer dadelik weer gebrom en het ons betyds by die wegspring gekry. Die eerste uur of wat van die wedvaart was daar baie min wind. ʼn Storm het in LDYC se rigting gedreig en nie lank nie toe het dit begin reën. Later het dit so hard gereën dat ons nie eers land kon sien nie. Ten minste het die wind nou begin waai, eers vanuit ‘n Suidelike rigting en toe draai dit weer Oos en het toe redelik konstant gewaai vir die res van die tyd. Ons was nou agter die eiland en baie Stadt 23 bote was bymekaar en dit het die wedvaart opwindend gemaak. Alexis moes baie vinnig leer hoe die bolseil werk. Dit het aanhoudend gereën en nou en dan n weerligstraal wat slaan.

 

John en Alexis kry gou alles reg voordat ons Saterdagmiddag gaan seil.

John en Alexis kry gou alles reg voordat ons Saterdagmiddag gaan seil.

 

Met die eindstreep in sig was ons nou drie Stadt 23’s almal bymekaar. Geluk was die keer aand ons kant en die ander twee het skielik wind verloor en ons het verby geseil en voor hulle oor die eindstreep geseil. Op daardie stadium was ek nie seker hoeveel ander Stadt’s voor ons klaar gemaak het nie, maar ek het sopas uitgevind daar was net een voor ons. Ja, ons was die tweede Stadt 23 oor die lyn en 47 ste in die algehele posisie uit amper tweehonderd bote.

Oppad na die wegspring area.

Oppad na die wegspring area.

Vir die eerste keer is ons nou vier aan boord en almal baie entoesiasties. Ek hoop ons vier neem volgende jaar weer deel.

 

 

 

Etol se hol

Ek (en Ester en Karla) het vanoggend gaan protesteer teen die vervlakste e-tol! Nie die eerste keer dat ek so iets doen nie, maar ek is baie bitter oor die e-tol. Vandag se anti-etol protes aksie was eintlik deur motorfietsklubs gereël, maar motors kon ook deelneem en daar was heelwat op vier wiele.

Die SANRAL saluut

Die SANRAL saluut

Ons het vanoggend agtuur by Wemmerpan bymekaar gekom. Daar was teen die tyd alreeds so 500 mense daar. Dit was soos ‘n kermis met ʼn lekker gees onder almal. ‘n Vuur is gemaak met e-tol rekeninge, Sanral is gesalueer (dit is nou met die middelvinger). Nadat ʼn paar manne soos Wyne Duvenage van OUTA en Howerd whatever van Justice Project die gehoor toegespreek het, het ons in die pad geval.

Almal het 'n boodskap vir SANRAL gehad.

Almal het ‘n boodskap vir SANRAL gehad.

Die “Bikers” het nie veel vir die ondersteuning van die motors gevoel nie; seker maar niks nuuts nie; en vooruit gery. Die motors was nou in hul eie konvooi. Ons het vanaf Wemmerpan na die N12 wes gery en van daar op die N1 noord geklim. Die toeters het geblaas, anti-etol plakkate en vlae het gewapper en plakkers is uitgedeel sommer so in die ry. Ons het nie veel vinniger as 20 of 30 kilometer per huur gery nie en gou was daar ʼn baie lang tou van voertuie agter die konvooi.

Die konvooi

Die konvooi

Ongelukkig het die mense agter die konvooi ongeduldig geraak en ek kon dit verstaan, maar om deur die verkeer te vleg teen hoë spoed was onverantwoordelik. Ons het gesien hoe ʼn Ford Ranger voor ʼn Golf in die geelstreep injaag.

Ranger is in die rooi.

Ranger is in die rooi.

Die Golf het die Ranger ingejaag en reg voor die konvooi afgetrek. Die bestuurder van die Golf het uitgespring en begin appelswaai na die bestuurder van die Ranger. Intussen kom daar nog ʼn ongeduldige jaagduiwel in die geelstreep aan en ry die Golf se appel-swaaiende-bestuurder poerdes moerdes toe.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Die een wat die moeilikheid begin het, lê nou op die grond.

Hy het die appelswaaier probeer mis maar tref nog boonop die appelswaaier se Golf. Nou weet ek nie of hy vroeër ook met die Ranger kennis gemaak het nie, maar hy het dadelik uit sy motor uitgespring en die Ranger se bestuurder begin warm klap. Die twee meisies saam met hom was ook nie veel gepla oor die gesondheid van die man wat hulle sopas omgery het nie en hulle vloek en skel die Ranger.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die duik regs voor is nie veroorsaak deur die Golf nie, maar deur die Golf se bestuurder.

Die konvooi het so rukkie hier stilgestaan, kop geskud en weer in die pad geval. Toet-toet-toeeeet!

Stop en salueer.

Stop en salueer.

Ons het tot by Malibongwestraat saam gery en toe maar afgedraai huis toe. Dit was al amper twaalfuur en my mede aktiviste was moeg en my toeter besig om hees te raak.

My Nokkie wil vlam vat!

Sondagnag word ek gesteur deur my Nokia wat op my bedkassie lê se battery laai klank. Skielik ruik ek iets wat brand. Ek en Ester skrik ons gatte af. Met die lig aan en nou wawyd wakker besef ek die reuk kom van my selfoon af. Toe ek my selfoon optel brand dit ‘n blaas op my vinger. My selfoon het gesmelt! Die USB poort is heeltemal uit my foon uit gesmelt en sit nou aan die laai-kabel vas.

Nokia Lumia 920 smelt - voorkant

Nokia Lumia 920 smelt – voorkant

Behalwe vir die groot gat aan die onderkant van my foon, werk hy nog soos altyd. Natuurlik sal ek hom nie weer met die USB kabel kan laai nie, maar gelukkig kan die Nokia koordloos gelaai word.

Nokia Lumia 920 Smelt - agterkant

Nokia Lumia 920 Smelt – agterkant

Die kabel waarmee ek hom Sondagaand gelaai het is dieselfde kabel waarmee ek hom al die laaste ses maande laai. Ek kan ook nie dink daar was ‘n probleem met Eskom se krag toevoer nie, aangesien niks anders n probleem gegee het nie.Ek het gou op die Internet gekyk of dit al met ander mense gebeur het en so wragtig is my Nokia Lumia 920 nie die eerste wat wil vlam vat nie:

http://discussions.nokia.com/t5/Hardware-Codes-and-Operator/melted-USB-charging-port-on-920/td-p/1759980

My Nokia Lumia het 'n blaas op my vinger gebrand.

My Nokia Lumia het ‘n blaas op my vinger gebrand.

Ek gaan probeer om hom môre in te vat vir herstelwerk. Ek hoop hulle vervang hom eerder.