Ons kamp langs Riviersonderend

Met ons avontuure in die Richtersveld nog vars in ons geheue het ons besluit dat dit weer tyd is om te gaan kamp, maar van warm son en stof het ons eers genoeg gehad so die keer was grasbedekte staanplekke onder hoë bome ons voorkeur. Na ‘n bietjie navorsing het ek vir ons kampplek bespreek by Khomeesdrif naby Riviersonderend.

Daar is baie gras waarvandaan mens die swemmers kan dophou.

Ons het Vrydagmiddag pad gevat op die N2 na Riviersonderend sowat 160 kilometer vanaf ons huis hier in Kaapstad. Na die besige Vrydagmiddag verkeer net voor Sir Lowryspas het dinge kalmeer en ons het redelik vinnig by ons bestemming uitgekom.

Daar is baie kampplekke en A1 tot A9 is reg langs die rivier. Ons het op A5 gekamp.

Khomeesdrif lê reg langs die Riviersonderend (rivier). Die kampterrein is groot en daar is maklik meer as vyftig kampplekke beskikbaar. Die mees populêre staanplekke lê reg langs die rivier onder skaduryke bome. Vanaf die ander kampe word jy beloon met ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge. Elke staanplek is ruim genoeg en ‘n tent of karavaan pas maklik daarin en dan nog vele plek vir ‘n gazebo of so, daar is ‘n waterpunt naby en ‘n groot braaiput waarin ons elke aand ‘n lekker kampvuur gemaak het. Daar is wel nie kragpunte nie, maar dit pla ons nie veel nie. Die meeste staanplekke is met gras bedek.

Daar is speelplek vir kinders.

Ons was verbaas oor hoe besig dit daar was. Een rede is sekerlik dat dit nog skoolvakansie was, die ander heel moontlik dat die oord honde-vriendelik is. Daar was baie honde! As jy nie veel van ‘n honde liefhebber is nie, sal ek jou aanraai om eerder nie hierna toe te kom nie. Ons het geen probleem gehad met die honde nie.

Die uitsig vanaf die Lapa by die swemplek.

Ons naweek hier was amper perfek. Oggende was salig en met ‘n lekker koffie in die hand het ons in die woud oorkant die rivier ingestaar. Die paar dae was warm en min wind. Karla het lekker geswem en haar self vermaak met haar springtou, Ester het boek gelees ek het voëls gekyk en het ‘n Donkervlieëvanger en ‘n Paradysvlieëvanger onder andere in my lysie afgemerk. Die naweek het ons almal baie goed gedoen en ons almal het dit baie geniet.

Staanplekke op gras en ‘n uitsig oor die Riviersonderendberge.

Ons sal vir seker weer gaan en daar is niks wat ons sal verander nie. Miskien sal ons vroeër bespreek sodat ons op staanplek A1, 2 of 3 kan staan.

Die 16 myl strand

Yzerfontein is ‘n vakansiedorp sowat 80 kilometer noord van Kaapstad. Die karavaanpark lê reg ager ‘n duin langs die hoofstrand. Ons het in Februarie die eerste keer hier kom kamp en dit was ‘n naweek om te onthou. Hier kry ‘n mens ‘n regte vakansie gevoel in jou boude. Jy hoef nie meer as ‘n swembroek, t-hemp en plakkies vir die naweek in te pak nie.

Yzerfontein se hoofstrand

Terwyl ek die Sondag op Yzerfontein se strand sit kon ek al die pad tot by Postberg sien. Postberg is ‘n kleinerige koppie in die Weskus Nasionale Park. Ons was al verskeie kere in die park, meestal by Tsaarsbank waar jy lekker langs die see kan braai. Ek het begin wonder hoe ver Postberg nou eintlik is en wat alles tussen Yzerfontein en Tsaarsbank lê.

‘n Dolfyn wat op die strand uitgespoel het

Terug by die huis het ek begin rondsnuffel op die Internet vir meer inligting oor die stuk strand en of dit moontlik is om al die pad vanaf Yzerfontein tot by Tsaarsbank te kan stap. Ek kon nie veel kry nie behalwe dat die strand as die 16 myl strand bekend staan en dat dit een van die langste strande in Suid-Afrika is. Die strand is gewild onder vakansiegangers om ‘n ent uit te stap, maar ek kon nie veel inligting kry oor enige iemand wat die heelpad gestap het nie.

Stap begin vanaf Yzerfontein

By die werk het ek begin rondvra of iemand dit al gestap het. Niemand het nie of ken ook nie iemand wat het nie, maar almal was geintriseerd. Dit het nie veel gevat om my kollega, Hugo, te oortuig om saam te stap nie. Die plan was om Saterdagoggend vroeg te begin stap, te kyk tot waar ons kom, Saterdagaand op die strand te slaap en Sondag verder noord te stap tot by Tsaarsbank. Eenvoudig.

Die 16 myl strand

Ester het ons Saterdagoggend voor 8 uur by Yzerfontein afgelaai en ons het dadelik die pad aangedurf. Elk met ‘n rugsak vol water, kos, ‘n slaapsak, tent en nie ‘n idee wat vir ons oppad wag nie. Die sand was aanvanklik ferm en ons het gemaklik gestap. Volop sonskyn, wit sand, asemrowende natuurskoon en niks wind nie. Yzerfontein se geboue het net begin kleiner raak en ons stop reeds vir ons eerste koppie tee. Hugo het die water gekook, die tee en beskuit was heerlik. Tyd om verder te stap.

Volstruiseier en been

Ons hoor daagliks van plastiek-besoedeling , ons het hierdie tragiese realiteit eerstehands ervaar, 16 myl daarvan. In die volle lengte van die strand lê daar een stuk plastiek na ‘n ander. Groot, klein, rooi, blou. Ons het ballonne, bottels, kratte, balle, wasgoedmandjies, tot ‘n pop op die strand sien lê. Ek is nie seker wat gedoen kan word nie, maar ‘n oplossing sal gevind moet word. Ek kan my net voorstel hoe die strand (nogal deel van ‘n nasionale park) oor vyf jaar gaan lyk.

Plastiek net waar jy kyk

Middag-ete was ‘n broodjie en nog tee, en ook tyd om bietjie skoene uit te skop. Ek het ‘n uiltjie geknip – ek het die vorige aand nog laat saam met Ester haar verjaarsdag gevier. Hugo het die duine gaan verken en het later met ‘n volstruiseier en ‘n been verskyn. Ons het verder gestap. Elke nou en dan sien ons iets interesants, meestal is dit van plastiek gemaak.

Middagete en ons het geselskap gehad.

Ons het teen vyf uur die middag sewentien kilometer ver gestap en daar was sowat 10 oor tot by Tsaarsbank. Ek was nou moeg en ons het besluit om af te pak vir die dag. Na ‘n bietjie verken het ons ons tentjies opgeslaan en aand-ete gemaak. Hugo het rys en oorskiet geëet, ek het pasta in ‘n potjie gekook. Regte stap-kos. Ai, dit was lekker. Na nog ‘n paar geselsies het ons besluit om te gaan in kruip.

Spore in die sand

Die aand het sonder voorval verloop. Geen strandwolwe, slange en ander sandkruipers het ons gepla nie. Behalwe vir die seesand wat aansienlik harder is as ‘n matras en die geraas van branders wat letterlik meters van ons af breek het ons tog lekker kon slaap. Ons is vroeg op. Die oggend was mistig – soos die weskus maar lyk. Koffie was ekstra lekker, beskuit vir ontbyt en ons het weer in die pad geval.

Slaapplek vir die aand.

Die sand was anders en aansienlik sagter as die vorige dag. Die strand was ook baie meer skuins. Dit het die stap moeilik gemaak. Postberg wou nie nader kom nie. Die duinserigheid en ‘n stormagtige see het Sondag se stap ‘n heel ander kleur gegee. Dit was ‘n ander mooi hierdie keer, maar weereens asemrowend. Ons het die oorblywende tien kilometer in sowat vier ure gestap.

Postberg lê voor.

Ester en Karla het ons ingewag by Tsaarsbank. 28,3 kilometers later. Dankie Hugo vir die saamstap en dankie vir die foto’s. Dit was werklik ‘n avontuur om te onthou.

28 kilometer agter ons. Wat ‘n avontuur.

‘n Toer deur die Kalahari

Ek het Maart ‘n drie duisend kilometer roete saam met ‘n paar familie en kennisse deur die Kalahari getoer. Die deel van die Kalahari in Botswana is een van die mees afgeleë wildernisgebiede in Suidelike-Afrika. Hierdie jaar het die Kalahari baie reën gekry en het heeltemal anders gelyk as toe ek dit laas in September 2013 gesien het. Die keer was dit groen, daar was baie gras en ‘n groot verskeidenheid voëls en diere kon oral gesien word.

Ruimte

Ons het 5 nagte in die ongerepte Sentraal Kalahari Wildreservaat deurgebring en daarna na die Mabuasehube gedeelte van die Kgalagadi-oorgrenspark vertrek en twee nagte daar spandeer. Die Sentraal Kalahari is ook bekend as die CKGR (die Engelse afkorting)

Staar na die sonsondergang.

Om deur die Sentraal Kalahari te toer moet jy heeltemal selfonderhoudend wees. Jy moet jou eie water vir kosmaak, drink en skoonmaak saamneem. Jy moet jou eie diesel, kos, tent, potte en selfs spaar parte saam neem. Daar is niks nie en as jy in die moeilikheid raak kan dit dalk ‘n paar dae neem voordat iemand jou gewaar. Jy moet jou toer dus haarfyn beplan.

Ek ry deur Deception Pan

As jy ooit ‘n kans kry om na die Sentraal-Kalahari wildreservaat toe te kan gaan, vat dit!

Hier nog ‘n paar foto’s wat ek geneem het in die album hier onder.

[envira-album id=”911″]

Kampe in die Sentraal-Kalahari Wildreservaat

Ons was onlangs vir 5 nagte in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat, ook bekend as CKGR (Engelse afkorting). Dit is een van die mees afgeleë plekke in Suidelike-Afrika. Dit is die naas grootste wildtuin in die wêreld, maar daar is nie veel meer as 30 kampe in die hele reservaat nie. ‘n Kampplek bestaan meestal uit n boom of twee, ‘n “long drop”, ‘n afskorting waar jy kan stort as jy jou eie water saam neem en ‘n stuk beton waarop jy kan vuur maak. Behalwe vir ‘n paar uitsonderings sal jy nooit eers jou buurman hoor of sien nie.

Longdrop en ‘n stort

Om nie die heeltyd mense en ander karre rondom jou te sien nie, maak die ondervinding nog beter. Jy het tog al die pad gery om die natuur te kom bewonder. Sonsondergange en opkoms, uitgestrekte horisonne, vlaktes en leë panne maak ‘n besoek aan hierdie deel van Botswana uniek. Die Kalahari is ‘n ander tipe mooi. Jy is reg in die middel van die natuur. Hier is die kampe nie omhein nie, jy moet heeltyd op die uitkyk wees vir besoekers.

Deception Pan 6

Om ‘n avontuur hier te ervaar moet jy vroegtydig kampplek bespreek. Ek sou aanraai om ten minste vier maande vooruit te bespreek. Die besprekings kan verwarrend wees, omdat nie alle kampe in die reservaat deur een sentrale plek bespreek kan word nie. Sekere van die kampe moet deur die Botswana se natuur en parkeraad bespreek word (Botswana department of Wildlife and National Parks) en die meerderheid van die kampe word deur Bigfoot Tours – ‘n privaat maatskappye – bestuur en jy moet direk by hulle bespreek.

Jy gooi self jou stort vol water.

Behalwe die koste vir die kampering moet jy ook ‘n daaglikse natuurbewaringsfooi betaal en ‘n toegangsfooi vir jou motor. Dit moet aan die DWNP betaal word. Die beste is om dit vooraf te betaal met jou kredietkaart, maar hierdie fooi kan ook by die hek in slegs kontant betaal word. Indien jy in kontant wil betaal,  neem Pulas of Dollars saam. Rand word nie by die hek aanvaar nie.

Luiperd in die stort

Jy kan ‘n volledige lys van kampplekke in die Sentraal-Kalahari wildreservaat hier kry

Bespreek sommer dadelik!

Crook’s Corner in die Kruger

Crook’s corner is daar waar Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe bymekaarkom, langs die plek waar die Limpopo en die Luvhuvhurivier bymekaarkom in die Krugerwildtuin. In die mees Noord-Oostelike hoekie van Suid-Afrika. Crook’s Corner is een van die mooiste plekke waar ek al was!

Blouwildebees

Blouwildebees wei in die gras

Hier is daar hordes trosvyebome, Jakkalbessiebome, reuse kremetartbome, n hele woud koorsbome en groen grasvelde en dit als lok natuurlik baie diere na die omgewing toe. Die rivier is vol krokodille en seekoeie. Bokke, buffels, olifante het baie plek om hier te wei. Van die grootste troppe buffels en olifante in die Krugerwildtuin kom in die omgewing voor. Vlakvarke en troppe bobbejane is oral hier te sien. Die omgewing is ook bekend vir die groot verskeidenheid voëlspesies wat hier voorkom.

Olifant naby Crook's Corner

Olifant naby Crook’s Corner

In die ou dae – voor behoorlike grensbeheer –  was hier ‘n baken wat die hoek van die drie lande aangewys het. As jy jou dalk in die moeilikheid met die gereg bevind kon jy by hierdie punt net na ‘n ander land toe oorstap en die gereg kon niks aan jou doen nie. In die vroeë 1900’s is die gemak om van een land na ‘n ander te kan stap, natuurlik deur wapensmokkelaars en wildstropers uitgebyt. Dit is hoe Crook’s Corner sy naam gekry het.

Reuse bome naby Crook's Corner

Reuse bome naby Crook’s Corner

Om daar te kom ry jy so paar kilometers verby die Pafuri-piekniekplek in ‘n Oostelike rigting in. Jy ry onderdeur die majestuese bome deur tot by die Limpoporivier. Terwyl ons in Desember in Tshipise vakansie gehou het, het ons die Krugerwildtuin twee keer besoek en albei kere is ons Crook’s Corner toe. Dit is waarlik ‘n plek om te besoek as jy jouself in die noordelike dele van die Krugerwildtuin bevind.

Hierdie video is van die laaste paar honderd meter tot by Crook’s Corner: