10 Redes hoekom Dwarsberg een van ons gunstellinge is

Ons het onlangs vir die tweede keer by Dwarsberg gaan kamp en dit weereens ongelooflik lekker gevind. Hier is tien redes hoekom ons so baie daarvan hou:

1 Groot stuk plat grasperk om kamp op te slaan

Daar is slegs 10 kampeerstaanplekke op Dwarsberg en almal het ‘n masiewe lowergroen grasbedekte staanplek. Elke kampplek is groot genoeg vir 3 tot 4 tente. Dit is duidelik dat die eienaars baie mooi na die gras omsien.

Dwarsberg kamppeerterein
Groot grasperk om kamp op te slaan.

2 Privaatheid

Die kampplekke is honderde meters uitmekkaar met baie bome en fynbos tussen jou en jou buurman. Kanse dat sy musiek jou gaan pla is skraal. Prima familietyd.

3 Eie ablusie

Elke kampplek het sy eie ablusie en is silwer skoon. Daar is ‘n gasgeiser wat sorg vir ‘n heerlike warm stort met ‘n uitsig oor die berge.

4 Langs die rivier

Kampplekke is op die oewer van die Holslootrivier (jip, ek weet) en daar is verskeie swempoelle groot genoeg vir Karla se opblaas unicorn en nog plek om in die water te baljaar. Ons was nog nooit daar in die somer nie, maar kan net onsself voorstel dat op ‘n warm somersdag jy min tyd elders sal spandeer.

5 Berge

Dwarsberg is in ‘n vallei gelee met berge aan beide kante van die kampplek. Die sonsopkoms en ondergang sorg vir allerhande skakerings van kleur teen die berge.

Dwarsberg berge
Hoë berge omring die kampplek.

6 Perfek vir aksie en avontuur

Daar is ‘n bergpas wat lei na die Stettynskloofdam toe. Die pad smeek om met ‘n bergfiets gery te word. Die dam is sowat tien kilometer vanaf ons kampplek af. Ons het verskeie fietsryers op die pad teegekom. Daar is ook drie afgemerkte staproetes in die oord, met een roete wat al die pad na ‘n waterval met ‘n groot swempoel toe gaan. Benewens fietsry en stap kan jy ook probeer forrelle vang. Ek is nie ‘n visserman nie, maar daar was baie ander wat probeer het.

Stettynskloofdam is sowat tien kilometer vanaf die kampplek

7 Dit is ‘n uur en ‘n half vanaf ons huis

Dwarsberg is minder as 100 kilometers vanaf ons huis in Bellville af. Deur die tonnel en jy is daar, of ry oor die Du Toitskloofpas vir ekstra uitsig as jy nie te haastig is nie.

8 Daar is ‘n bistro en kiosk by ontvangs.

‘n Kiosk is by ontvangs en verkoop die gewone kamp goed wat jy moontlik vergeet het insluitend wyn. Daar is ook ‘n bistro en is baie populêr. Jy kan lekker ontbyt daar eet en hulle maak ook heerlike pizza of eet ‘n ontbyt pizza.

Die kiosk by Dwarsberg, net langsaan die Restaurantjie

9 Ontkoppel die stad

Die meeste staanplekke het elektrisieteit, maar ‘n paar is daarsonder. Ek hou daarvan om my eie te kan maak en verkies die staanplekke sonder krag. Daar is selfoonsein, maar is maar swak. Ek vermoed ander kampe het beter sein. Hoe minder elektronika hoe rustiger is die naweek.

Baie suikerbekkies het die proteas kom besoek

10 Daar is baie om te verken in die omgewing

Daar is baie om te doen en sien in die Breedekloof. Daar is ‘n klomp wynplase in die omgewing en ons het Du Toitskloof besoek. Ander wynplase sluit Slanghoek, Opstal, Bergsig en vele meer in. Verskeie reservate in die omgewing en ons het ook die Brandvleidam besoek.

Los 'n Boodskap