Nadat ons slegs 6 aande in 2020 in ‘n kamp deurgebring het (dit was darem nie ons eie skuld gewees nie), het ons besluit 2021 sal dinge moet verander. Ons sal graag 2021 baie meer wil gaan kamp en baie meer nuwe plekke wil besoek gedurende die jaar. Natuurlik het ons reeds groot planne vir September, wanneer ons die groot wildtuine van Botswana en die Caprivi gaan besoek.
Hier is ‘n lysie van die kampplekke wat ons graag wil besoek gedurende die jaar en sluit natuurlik een of twee van ons gunstelinge in:
Ons planne vir ons Botswana toer sluit Moremi, Savuti en Chobe in. ‘n Besoek aan Livingstone en die Victoria-watervalle en oppad terug toer ons deur die Caprivi.
Of Covid weer gaan bepaal of ons by die huis moet bly weet ons nie, maar indien nie, gaan ons lekker kamp.
Hier kamp ons langs die Oranjerivier (Richtersberg)
Yzerfontein is ‘n vakansiedorp sowat 80 kilometer noord van Kaapstad. Die karavaanpark lê reg ager ‘n duin langs die hoofstrand. Ons het in Februarie die eerste keer hier kom kamp en dit was ‘n naweek om te onthou. Hier kry ‘n mens ‘n regte vakansie gevoel in jou boude. Jy hoef nie meer as ‘n swembroek, t-hemp en plakkies vir die naweek in te pak nie.
Yzerfontein se hoofstrand
Terwyl ek die Sondag op Yzerfontein se strand sit kon ek al die pad tot by Postberg sien. Postberg is ‘n kleinerige koppie in die Weskus Nasionale Park. Ons was al verskeie kere in die park, meestal by Tsaarsbank waar jy lekker langs die see kan braai. Ek het begin wonder hoe ver Postberg nou eintlik is en wat alles tussen Yzerfontein en Tsaarsbank lê.
‘n Dolfyn wat op die strand uitgespoel het
Terug by die huis het ek begin rondsnuffel op die Internet vir meer inligting oor die stuk strand en of dit moontlik is om al die pad vanaf Yzerfontein tot by Tsaarsbank te kan stap. Ek kon nie veel kry nie behalwe dat die strand as die 16 myl strand bekend staan en dat dit een van die langste strande in Suid-Afrika is. Die strand is gewild onder vakansiegangers om ‘n ent uit te stap, maar ek kon nie veel inligting kry oor enige iemand wat die heelpad gestap het nie.
Stap begin vanaf Yzerfontein
By die werk het ek begin rondvra of iemand dit al gestap het. Niemand het nie of ken ook nie iemand wat het nie, maar almal was geintriseerd. Dit het nie veel gevat om my kollega, Hugo, te oortuig om saam te stap nie. Die plan was om Saterdagoggend vroeg te begin stap, te kyk tot waar ons kom, Saterdagaand op die strand te slaap en Sondag verder noord te stap tot by Tsaarsbank. Eenvoudig.
Die 16 myl strand
Ester het ons Saterdagoggend voor 8 uur by Yzerfontein afgelaai en ons het dadelik die pad aangedurf. Elk met ‘n rugsak vol water, kos, ‘n slaapsak, tent en nie ‘n idee wat vir ons oppad wag nie. Die sand was aanvanklik ferm en ons het gemaklik gestap. Volop sonskyn, wit sand, asemrowende natuurskoon en niks wind nie. Yzerfontein se geboue het net begin kleiner raak en ons stop reeds vir ons eerste koppie tee. Hugo het die water gekook, die tee en beskuit was heerlik. Tyd om verder te stap.
Volstruiseier en been
Ons hoor daagliks van plastiek-besoedeling , ons het hierdie tragiese realiteit eerstehands ervaar, 16 myl daarvan. In die volle lengte van die strand lê daar een stuk plastiek na ‘n ander. Groot, klein, rooi, blou. Ons het ballonne, bottels, kratte, balle, wasgoedmandjies, tot ‘n pop op die strand sien lê. Ek is nie seker wat gedoen kan word nie, maar ‘n oplossing sal gevind moet word. Ek kan my net voorstel hoe die strand (nogal deel van ‘n nasionale park) oor vyf jaar gaan lyk.
Plastiek net waar jy kyk
Middag-ete was ‘n broodjie en nog tee, en ook tyd om bietjie skoene uit te skop. Ek het ‘n uiltjie geknip – ek het die vorige aand nog laat saam met Ester haar verjaarsdag gevier. Hugo het die duine gaan verken en het later met ‘n volstruiseier en ‘n been verskyn. Ons het verder gestap. Elke nou en dan sien ons iets interesants, meestal is dit van plastiek gemaak.
Middagete en ons het geselskap gehad.
Ons het teen vyf uur die middag sewentien kilometer ver gestap en daar was sowat 10 oor tot by Tsaarsbank. Ek was nou moeg en ons het besluit om af te pak vir die dag. Na ‘n bietjie verken het ons ons tentjies opgeslaan en aand-ete gemaak. Hugo het rys en oorskiet geëet, ek het pasta in ‘n potjie gekook. Regte stap-kos. Ai, dit was lekker. Na nog ‘n paar geselsies het ons besluit om te gaan in kruip.
Spore in die sand
Die aand het sonder voorval verloop. Geen strandwolwe, slange en ander sandkruipers het ons gepla nie. Behalwe vir die seesand wat aansienlik harder is as ‘n matras en die geraas van branders wat letterlik meters van ons af breek het ons tog lekker kon slaap. Ons is vroeg op. Die oggend was mistig – soos die weskus maar lyk. Koffie was ekstra lekker, beskuit vir ontbyt en ons het weer in die pad geval.
Slaapplek vir die aand.
Die sand was anders en aansienlik sagter as die vorige dag. Die strand was ook baie meer skuins. Dit het die stap moeilik gemaak. Postberg wou nie nader kom nie. Die duinserigheid en ‘n stormagtige see het Sondag se stap ‘n heel ander kleur gegee. Dit was ‘n ander mooi hierdie keer, maar weereens asemrowend. Ons het die oorblywende tien kilometer in sowat vier ure gestap.
Postberg lê voor.
Ester en Karla het ons ingewag by Tsaarsbank. 28,3 kilometers later. Dankie Hugo vir die saamstap en dankie vir die foto’s. Dit was werklik ‘n avontuur om te onthou.
Na ‘n heerlike dag se seil op die dam is ons terug klub toe.Ons het die boot in DAC se hawe vasgemeer. Die weer was die heeldag perfek vir seil en ons het sover geen tekens van donderstorms gesien nie. Terug by die klub en ons het laat middag begin regmaak om die vuur aan te steek. Aan die oorkant van die dam het daar ‘n storm opgesteek. Die storm het baie ver van ons af gelyk en ook of hy van oos na wes verby ons gaan trek. Niemand het op hierdie stadium veel kennis geneem nie.
Top Notch Seil
Die storm het nader gekom en ek het tyd gehad om ‘n paar foto’s te neem. Skielik swaai die wind en die storm is op pad in ons rigting. Die wind het van niks na stormsterkte begin waai in die tyd wat ek my kamera in die kar gaan bêre het. Toe ek om kyk vanaf die kar is ons Oz Tent se voorste vertrek al reeds plat gewaai.
Top Notch is geanker
Wimpie, Alexis en ek het begin vasklou aan die res van die raam van die tent om dit regop te hou. As die Oz Tent se raam breek het ons nêrens om die aand te slaap nie, boonop gaan die herstel baie duur wees. Terwyl Karla en Stella – Wimpie se dogter – bekommerd in die kar skuil het ons min besef die wind gaan vir meer as twee ure lank aanhou storm en ons gaan die heeltyd moet vasklou.
Net so voor 10 uur die aand het die wind gedraai en ons kon die tent uiteindelik op sy eie los. Ons drie was nat en het gevries. Terwyl ons almal in die kar sit kon ons sien hoe die wind geleidelik bedaar. Ons al vyf het in die aand in die tent geslaap.
Die groot storm
Die volgende oggend was die wêreld vol stoele, borde wat die wind weg gewaai het. Een van ons matrasse het ons naby die klubhuis; sowat 50 meter ver; gaan optel. Behalwe vir twee van die tentpale wat gebuig het, was alles verder nat, maar heel.
(Dankie Alexis Basson vir die mooi foto’s van Top Notch)
Ek het Maart ‘n drie duisend kilometer roete saam met ‘n paar familie en kennisse deur die Kalahari getoer. Die deel van die Kalahari in Botswana is een van die mees afgeleë wildernisgebiede in Suidelike-Afrika. Hierdie jaar het die Kalahari baie reën gekry en het heeltemal anders gelyk as toe ek dit laas in September 2013 gesien het. Die keer was dit groen, daar was baie gras en ‘n groot verskeidenheid voëls en diere kon oral gesien word.
Ruimte
Ons het 5 nagte in die ongerepte Sentraal Kalahari Wildreservaat deurgebring en daarna na die Mabuasehube gedeelte van die Kgalagadi-oorgrenspark vertrek en twee nagte daar spandeer. Die Sentraal Kalahari is ook bekend as die CKGR (die Engelse afkorting)
Staar na die sonsondergang.
Om deur die Sentraal Kalahari te toer moet jy heeltemal selfonderhoudend wees. Jy moet jou eie water vir kosmaak, drink en skoonmaak saamneem. Jy moet jou eie diesel, kos, tent, potte en selfs spaar parte saam neem. Daar is niks nie en as jy in die moeilikheid raak kan dit dalk ‘n paar dae neem voordat iemand jou gewaar. Jy moet jou toer dus haarfyn beplan.
Ek ry deur Deception Pan
As jy ooit ‘n kans kry om na die Sentraal-Kalahari wildreservaat toe te kan gaan, vat dit!
Hier nog ‘n paar foto’s wat ek geneem het in die album hier onder.